Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 49 of 192)

Aan God al die lof en die eer!

Skriflesing: Psalm 100; Ef 1:1-14 (1983)
Teksvers: Ef 1:3,6

God is onmeetlik groot. Ons kan God nooit ten volle verstaan nie want ons is die skepping van sy hande. Tog is God se genade so groot dat Hy ons ryklik seën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. 

Hierdie seëninge is die geloof, die uitverkiesing, die heilige lewe in en deur Jesus Christus, die geestelike gawes wat ons deur die Heilige Gees ontvang. God het ons as sy kinders aangeneem deur Jesus Christus. Dit word telkemale met die gebruik van die Hielige Nagmaal opnuut aan ons verkondig. 

Ons is God se kinders deur Jesus Christus. Daarom kan ons nie anders as om elke dag God te loof en te prys en te aanbid nie. 

Laat dit wees volgens jou geloof

Skriflesing: Matteus 9:27-38 (2020)
Teksvers: Matteus 9:28-29
HK Son 23

Ons almal weet wat bates en laste is. ‘n Bate is iets wat waarde het, en waarde toevoeg. Dit is ‘n bate om bates te besit. 

Nou vra die Heidelberger, watter bate is jou geloof? Wat is die bate wat jy besit deur te glo? Dit is ‘n merkwaardige vraag. Want dit leer ons oor die uitsonderlike waarde wat daar in geloof is. Deur sy openbare optrede het ons Here Jesus baie mense gesond gemaak en nuwe hoop gebring. 

Ons staan vanaand stil by twee blinde manne wat in geloof tot Jesus nader en pleit vir genesing, waarop ons Here antwoord: laat met julle gebeur volgens dit wat julle glo! 

Wat ‘n voorreg om lidmaat van die kerk van Christus te wees! 

Skriflesing: Psalm 84 (1983)
Teksvers: Psalm 84:11

Vandag doen ‘n klompie jongmense van ons gemeente Openbare Belydenis van hul Geloof. Na jare se kategese is hulle gereed om hulle verantwoordelikhede as belydende lidmate van die kerk van Christus uit te leef. Ons is saam met hulle en hulle ouers dankbaar dat die Here hulle in sy verbondstrou gelei en bewaar het. 

Ons hoop dat ons elkeen weer opnuut die voorreg van hierdie lidmaat-wees mag besef en aangespoor word tot nuwe toewyding uit dankbaarheid. 

Vars soos die dagbreek, mooi soos die maan en rein soos die son

Skriflesing: Hooglied 6:1-13 (2020)
Teksvers: Hooglied 6:10
HK Son 22

Soms kan ons as gelowiges so bedroef word oor die verval van die wêreld en die vernietiging van God se skepping. Ons kan so mismoedig wees oor ons toekoms en lewensvooruitsig. 

Soos die Efesiërs kan ons maklik verval om ons eerste liefde te verlaat. Ons vergeet ons belydenis-liefde, daardie tyd toe jy so opgewonde was oor jou geloof dat jy die wêreld wou verander. 

Wat beteken dit vir jou om die ewige hemelse erfenis van God te ontvang? 

Ek en my huis, ons sal die Here dien!

Skriflesing: Jos 24:1-28 (1983)
Teksvers: Jos 24:14,15,19-21

Josua roep die volk na Sigem, die plek waar God die eerste keer Kanaän aan die volk beloof het Gen 12:6-7. Josua was bekommerd dat die volk weens die heidense invloede van God afvallig sou word. Daarom preek hy en vertel van God se genadige bemoeienis met die volk in die verlede, Jos 24:2-13. Maar Josua stel ook ‘n voorbeeld en sê duidelik dat hy en sy huis die Here sal dien. Die volk verseker Josua drie keer dat hulle die Here sal dien. Maar Josua weet lippetaal is nie altyd dadetaal nie, daarom laat hy hierdie versekering van die volk met ‘n verbond bevestig.

Ons moet vandag steeds ook die Here kies. Dit moet nie lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word. Kom dit wat jy met jou mond bely en in jou hart glo in jou dade na vore? Is dit sigbaar vir mense tot ‘n getuienis?

Die vraag aan elkeen is: Kies jy en jou huis ook om die Here te dien en verwyder jy alles wat in die plek van jou keuse staan? As jy kies om die Here te dien saam met jou huisgesin het jy die regte keuse gemaak.

Die liggaamlike opstanding uit die dood

Skriflesing: 1 Tess 4:13—18 (1983)
Teksvers: 1 Tess 4: 18,14
HK Son 22

Die dood is en bly vir ons op aarde ‘n finaliteit van afskeid. Dit bly vir ons ‘n hartseer tyd van treur en verlang. As ‘n geliefde sterf is sy plek leeg. Nogtans het ons as Christene ‘n vaste en lewende hoop. Ons treur nie soos hulle wat geen hoop het nie. Ons het ‘n vaste hoop van waarheen ons gaan. Die Skrif is ook duidelik dat ons eindbestemming, is vir ewig. 

• Die ewige lewe is ‘n groot troos vir Christene. 
• Die liggaamlike dood is net ‘n tydelike slaap. 
• Die liggaam en siel sal permanent herenig, met die wederkoms. 

« Older posts Newer posts »