Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 28 of 192)

Die HERE is my Beker en Erfdeel

Skriflesing: Psalm 16:1-11 (2020) 
Teksvers: Psalm 16:5 

Die meeste van ons het ‘n testament wat ons erflating beskryf. Maar het u al ooit gedink wat gaan jy erf as jy doodgaan? 

Ja, natuurlik is daar vir elke gelowige kind van die Here ‘n erfenis wat “onverwelklik, onbesmet en onverganklik” is soos beskryf in 1 Petrus 1. Hierdie erfenis is nie iets nie, dit is Iemand. Dit is die Here self. Hy is ons erfdeel. Daarom kan Dawid so heerlik getuig en bly wees, want hy erf die Here. 

Daar is egter ‘n tweede beskrywing wat Hiermee saamgaan: die Here is sy Beker. Ons wil vanoggend hieroor nadink, wat beteken dit om die Here as beker te ontvang… 

Leeutemmer: Mag die Koning Ewig Leef!

Skriflesing: Daniël 6:1-29 (2020) 
Teksvers: Daniël 6: 6, 11, 21-22 

Watter eienskappe kenmerk jou lewe? Is jy iemand wat saggeaard is, of dalk baie geduldig? Daniël was gekenmerk as iemand wat onberispelik is in sy werk, niemand kon ‘n vinger na hom wys nie, maar hy het een “swakpunt” gehad. 

Sy lewe was ‘n volkome toewyding in geloof aan die lewende God. Dit is juis waaroor die verbitterde politici hulleself troos, dat hulle Daniël kan te na kom, omdat hulle weet sy geloof is onwrikbaar. 

Ons staan vanaand stil by die getuienis van Daniël se lewe as leeutemmer. 

Die Here roep tot verootmoediging voor Hy ’n bevryder stuur

Skriflesing: Rigters 6:1-10 (2020)
Teksvers: Rigters 6:8a

Israel was op hierdie stadium so oorweldig deur hulle vyande dat ’n normale lewe nie moontlik was nie. Die Here het dit oor hulle laat kom as gevolg van hulle sondes. Toe hulle om bevryding uit hierdie nood bid, stuur die Here nie dadelik ’n bevryder nie, maar eers ’n profeet. Hy kom ook nie met die goeie nuus van bevryding nie, maar met ’n bestraffing oor hulle sondes. So wys die Here ons dat Hy bekering voor bevryding wil hê. Daarom moet ons, voordat ons die nagmaal-fees van vergewing van sondes deur Jesus Christus geniet, eers ter voorbereiding besin oor ons sondes. 

Die Here staan in ‘n persoonlike verhouding met jou, daarom vra Hy jou hart

Skriflesing: Miga 6 (2020)
Teksvers: Miga 6:6-8

In Miga is die Here in ‘n oordeelsgerig met Israel besig. Hulle het nie na die wil van die Here geleef nie. Die Here spreek hulle skerp aan oor hulle verhouding met die Hom. Die Israeliete het gedink dat hulle “dinge” en “goeters” vir die Here moet gee en dat hulle “dinge” moet doen om seker te maak dat die Here hulle nie sal straf nie. 

In Miga 6:6-8 dui die Here egter aan dat Hy in die eerste plek nie belangstel in dit wat die Israeliete vir Hom kan gee of in dit wat hulle vir Hom kan doen nie. Hy is ons God wat in ‘n persoonlike verhouding met ons kom staan deur Jesus Christus. Ons het die Heilige Gees as gawe van die Here ontvang. Daarom kom Hy om jou hart te vra. Die Here is nie ‘n “saak” God nie, maar ‘n “Verhoudingsgod”. Wat vra die Here van jou sodat jy in ‘n persoonlike verhouding met Hom kan staan? 

Jy KAN Bly Wees!

Skriflesing: Matteus 3:13-17 (2020)
Teksvers: Matteus 3:17

‘n Mens is nie altyd bly oor die dinge wat jy in die lewe doen nie. Baie mense het berou en spyt oor woorde en dade wat hulle leweslank swaar dra aan die gevolge. Tog is daar ook dinge waarop ‘n mens baie trots is, waaroor jy bly is. 

Wanneer jou kind gebore word, dan deel jy met die hele wêreld jou blydskap. Dit is egter iets baie besonders as iemand onbekend jou vertel hoe aangenaam jou kind is, en hoe trots jy op jou kind kan wees… 

As ons dink aan die Seun van God, dan maak Hy sy Vader bly. Die Vader is bly oor sy Seun, Hy vind vreugde oor sy Seun want sy Seun maak Hom bly. Is jy ook bly oor God se Seun, of dalk meer nog, dink jy God is bly oor jou? 

Ten volle en altyd in God se diens!

Skriflesing: Lukas 17:1-10 (2020)
Teksvers: Lukas 17:10

1. Die slaaf in die gelykenis kry nie ‘n ruskans nie. En jy, Gelowige? 

Die slaaf moet ná ‘n dag se werk, steeds werk. Onregverdig? Gun ons Here ons ‘n ruskans? 

2. Werk sonder ruskans en sonder loon, slaaf van Christus. 

Soos die slaaf geen ruskans kry nie, is daar ook geen ruskans vir ons as gelowiges in ons diens aan Hom wat ons besit nie. Ons “geen ruskans” verskil egter radikaal van die slaaf se “geen ruskans”. 

3. Geen ruskans in my: 

denke, verhoudings, taalgebruik, gebedsgetrouheid, omgee, ens. nie. 

« Older posts Newer posts »