Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 27 of 192)

God behou sy volk, rus in Hom!

Skriflesing: 1 Konings 19 (1953)
Teksvers: 1 Konings 19: 18

Elia ervaar diepe moedeloosheid. God openbaar egter sy troue liefde en sorg aan Elia. Sy beloftes hou stand. 

In ons daaglikse lewe, wanneer teleurstelling en moedeloosheid ons oorweldig, herinner die Here ons hier dat ons identiteit nie in die wêreld of in mense lê nie, maar in Hom, die troue God wat sy wil laat geskied. 

Hy roep ons op om standvastig te bly in geloof en in ons diens aan Hom, terwyl ons onthou dat Hy ook in ons swakheid sy krag laat blyk. Hy sorg en dra ons deur elke deel van hierdie lewe. So kan ons in ons roeping volhard; wat dit ookal mag wees. 

Laat U Naam Geheilig Word Broodnodig, Diepgaande en Impakryk

Skriflesing: Psalm 145 (2020)
Teksvers: Mattheus 6:9

“Laat U Naam geheilig word.” In hierdie bede smeek ons die Here dat Hy sy Naam in ons en deur ons sal heilig hou. As ons nie eerste die beginsel van “Laat u Naam geheilig word” in ons gebede plaas nie, loop ons die risiko om God se heiligheid te vergeet. 

Hierdie bede roep ons op om die volle diepte van Sy karakter te ondersoek. Dit is ‘n uitnodiging om God reg te ken en om ons lewens heeltemal aan Hom as die Heilige, Volmaakte en Almagtige te onderwerp. In Christus vind ons die volle openbaring van hierdie heilige Naam. 

God bewerk ewige vrede by Hom en toegang tot Hom in Christus

Skriflesing: Romeine 5: 1-11 (2020)
Teksvers: Romeine 5: 1-2

Vrede by God en toegang tot Hom. Wat beteken hierdie woorde? Het ons hier bloot te make met ‘n vredevolle gevoel omdat ons deur Christus verlos is? 

Paulus se gebruik van die woordjie ‘vrede’ strek veel dieper in hierdie gedeelte. En wat beteken dit dat ons toegang het tot God? Hoekom is dit besonders? 

Ons staan nie altyd daarby stil dat ‘vrede en toegang‘ tot God iets is wat ons nie van nature het nie. Paulus wys ons egter hierop. Verder verwys hy ook met klinkklare logika hoe hierdie terme vir ons vastheid en vrymoedigheid in ons verlossing gee. 

Jesus se lyding roep jou op tot opoffering en diens in Sy koninkryk

Skriflesing: Matt. 20:17-28 (2020)
Teksvers: Matt. 20:22,23

Hoofpunte: 

1. Die lyding van Jesus. 

2. Die ambisie van die mens. 

3. Die opoffering van die gelowige. 

“Jesus het geantwoord: “Julle besef nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek moet drink?” Hulle antwoord Hom: “Ons kan.” Hy sê vir hulle: “Julle sal inderdaad my beker drink, maar om aan my regterhand en my Linkerhand te sit, is nie vir My om te beskik nie. Daardie plekke behoort aan hulle vir wie my Vader dit voorberei het.”” 

Matt. 20:22,23 

Vrede vir Hierdie Huis

Skriflesing: Lukas 10:1-24 (2020)
Teksvers: Lukas 10:20-21

Jesus gee 70 dissipels die opdrag om uit te gaan en die evangelie te verkondig. Hulle moet verkondig dat die koninkryk van die hemele naby is. Die reaksie is merkwaardig, selfs die duiwels onderwerp hulle en die dissipels is tot oorlopens toe bly. 

Tog sê ons Here Jesus dit is nie iets om oor bly te wees nie. Baie maal kan ons vergeet dat ons werklik moet bly wees om die evangelie met vrede in ons huis te ontvang. 

Wat maak jou bly? Waaroor jubel jy hierdie jaar? Jubel dan dat die koninkryk van die hemele naby is en mag daar vrede vir jou huis wees! 

Halleluja! Gelukkig is jy wat gaan deel hê aan die bruilofsfees van die Lam

Skriflesing: Openbaring 19:1-10(2020)
Teksvers: Openbaring 19:7, 9

Openbaring 19:1-10 fokus op die bruilofsmaal van die Lam waarby ons betrokke sal wees as “die bruid” en as “die uitgenooide gaste”. Deur die nagmaalsfees wat ons vandag hier op aarde vier, word ons herinner en aangespoor om uit te sien na die vreugdevolle bruilofsfees van die Lam wat nog voorlê in die toekoms. Ons onthou en glo, deur ons deelname aan die nagmaal, dat Jesus Christus vir ons geoffer is as Lam tot versoening met die Vader en tot verlossing van ons sondes. Ons sien uit na die heerlike bruilofsfees wat met die wederkoms van Jesus Christus gevier sal word. 

Mag jou hart en gedagtes vol wees met die drie maal herhalende en vreugdevolle “Halleluja’s” van Openbaring 19:1 – 4. Jesus Christus, kom. Hou dan bestendig vas aan die Here Jesus se reddende, verlossende, versoenende en genadige offer as Lam van God. Halleluja! Jesus Christus het die oorwinning betaal. Hy het die prys ten volle betaal. Nou wag ons op die bruilofsfees van die Lam wat nog sal kom. 

« Older posts Newer posts »