Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 29 of 192)

Vergifnis is nie Omkopery nie

Skriflesing: Genesis 32:1-31 (2020)
Teksvers: Genesis 32: 7-8; 19-20

Die Prediker leer ons omkoop geskenke bederf die mens se hart. Tog is daar ook ‘n wonderlike ervaring wat ‘n geskenk vergesel, ‘n gevoel van omgee en erkenning. 

Dit gaan nie altyd so seer oor die geskenk self nie, maar wat met die geskenk bedoel word. Jakob stuur geskenke vir sy broer vooruit, as hy na 20 jaar terugkeer na die beloofde land. Jakob se bedoeling is nie duidelik nie, hoewel hy self dink dat hierdie geskenk guns gaan wen by sy broer. 

Esau is verbaas oor al die geskenke en vra reguit wat die bedoeling is, want ‘n mens kan nie iemand omkoop om jou te vergewe nie. 

In ons omgee, sien ons, ons Vader se soek!

Skriflesing: Lukas 15:1-32 (2020)
Teksvers: Lukas 15:32

1. Die lewe by die Vader is vir ware kinders die hoogste skat. 

Die oudste seun redeneer slaafs en ken nie die vreugde van ʼn lewe by sy pa nie. 

2. Wie self ʼn ring van die Vader aan die vinger het, is verheug as familie tuiskom. 

Die oudste seun praat van “pa se seun”. Sy woorde verraai hom! 

3. Bekering moet volg as ek my skat nie na waarde ken nie. 

Jesus vertel nie wat die oudste seun se reaksie was toe sy pa hom gevra het om in te kom nie. 

Onder die Wolk en Deur die See

Skriflesing: 1 Korintiërs 10:1-14 (2020)
Teksvers: 1 Korintiërs 10:1-4

Die verlossing uit Egipte is nie alleen die bevryding van die volk uit die slawerny en onderdrukking van Egipte nie, daar is ook ‘n dieper geestelike betekenis van die doop en die nagmaal. Die wyse waarop die 10 plae die Egiptenare tref, en veral die duisternis en die dood van die eersgeborenes met die bloed van lammers teen die deurkosyne is baie bekend. 

Wat egter nie so duidelik is nie, is die simboliek van die wolk en die see, waardeur die Israeliete bevry word. Hier in Korintiërs verduidelik die apostel aan ons die belangrikheid van God se verlossing wat simbolies vooruit getuig van die werk van ons Verlosser, Jesus Christus, die ware Rots waaruit ons drink en in wie ons gedoop word om ons te bevry van die sonde. 

Jesus Christus bewerk radikale lewensverandering

Skriflesing: 1 Petrus 3 (2020)
Teksvers: 1 Petrus 3:8-9

Word ‘n mens se lewe regtig radikaal verander op grond van jou geloof in Jesus Christus? Die vraag word gevra omdat die Here in sy Woord soveel dinge aan ons voorhou wat nie altyd in alle gelowiges se lewe realiseer nie. 

Kyk maar na die riglyne wat die Here aan ons voorhou in 1 Petrus 3: Mans en vrouens word gelei tot selfondersoek of hulle werklik die man of vrou is soos wat die Here dit aan ons voorhou? Veroorsaak die riglyne van die Here nie net onnodige spanning en skuldgevoelens nie? Tog kom die Here deur sy Woord en Gees om ons op te roep om eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig en nederig te wees. So asof dit somer so maklik is om die positiewe gesindhede altyd en oral teenoor ons mede-gelowiges en die ander mense te openbaar. 

Dit is daarom so belangrik dat ons by hernuwing sal besin oor die rede waarom die Here hierdie riglyne aan ons voorhou en hoe hierdie radikale lewensverandering in ons kan plaasvind. 

Die HERE is ‘n Muur van Vuur Rondom Sy Oogappel

Skriflesing: Sagaria 2:1-13 (2020)
Teksvers: Sagaria 2:5,10

Hou jy van jou buurman? Sommige mense het sonde met die bure, soos Langenhoven skryf. Hoewel dit tong in die kies bedoel word, is daar tog gevalle waar ongewenste bure langs jou woon. As daar ‘n Mafia baas intrek, en sy dwelms en geweld vanuit die buitekamer bedryf, of dalk iemand wat vreeslik raas. Maar in ander gevalle wil jy nie te naby aan mense bly nie, soos jou baas. Ons wil nie altyd ons privaatheid so intens deel dat mense alles van ons lewe sien. 

Dan besef ons die geweldigheid om die HERE, nie net as buurman te hê nie, maar dat Hy self die muur van vuur rondom sy oogappel is en die heerlikheid daarbinne! 

God maak op een dag alles reg

Skriflesing: Ester 8 (2020)
Teksvers: Ester 8:11-12

In Ester 3 hoor ons hoe Hamman deur middel van die pur, dit is om die lot te werp, ‘n datum, vir die uitwissing van Mordagai en die Jode, by sy gode gekry het. Dit was die twaalfde maand, die 13de dag van die maand Adar. 

Die proklamasie is uitgevaardig dat alle Jode op daardie dag doodgemaak kon word en dat hulle besitting deur al die mense in die Babiloniese ryk buit gemaak kon word. Dit was die skrikwekkende dag van oordeel én dood én vernietiging vir die Jode in die hele ryk van Koning Ahasveros van Babel. 

Op ‘n wonderlike wyse het die Here hierdie skrikwekkende dag deur ‘n volgende proklamasie verander na ‘n dag van vreugde en feesviering deurdat die Jode bymekaar kon kom en hulle kon verdedig teen enige iemand of volk wat hulle sou probeer aanval. So verander die Here die dag van oordeel in ‘n dag van redding en vreugde. 

« Older posts Newer posts »