Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 164 of 192)

God gee lewende water uit ou en nuwe putte!

Skriflesing: Gen 26:12-35; Gen 21:22-33
Teksvers: Gen 26:19-22, 25,32-33 Gen 21:25,30-31; Joh 7:38

In die Bybel word waterputte soms gebruik as ‘n seëning uit die hand van God. Die mens soek, ook in sy godsdiens, voortdurend nuwe dinge, terwyl al wat ons nodig het, is om die ou waterputte oop te grawe, wat God lankal aan die kerk gegee het. Geestelik gesien bevat die ou putte die lewende water, alles wat ons nodig het om van te lewe, bv. Die Woord van God, gebed, aanbidding, lofpryssing, geloof, die krag van die Heilige Gees, dankoffers en dienswerk. Soms gooi die Satan die “ou putte” toe, sodat ons baie dors word. Wanneer daar daadwerklike geestelike herlewing in die kerk is, is dit wanneer die ou putte weer oopgegrawe word. Dit is wanneer die Bybel weer opreg bestudeer word en die Heilige Gees toegelaat word om vrylik deur die Woord in ons harte te werk.

Ons gaan na drie sake kyk:

1 Grawe die ou putte oop, dit is gesonde water.

2 Grawe nuwe putte, daar is nuwe vars water.

3 Gee oorvloedige lewende water, vir almal.

Laai af

Erfsonde en die gevolge vir die mens

Skriflesing: Romeine 5
Teksvers: Rom 5:12-14
DL: Hoof 3 en 4: Punt 1-3
HK: Sondag 2-4

Die Dortse Leerreëls (DL), hoofstuk 3 en 4 handel hoofsaaklik oor drie aspekte, nl:

  • Die verdorwenheid van die mens,
  • Die bekering tot God en
  • Die wyse waarop die bekering tot God plaasvind.

In die prediking sal daar vanuit Romeine 5 na die erfsonde en die gevolge vir die mens gekyk word. Die reformatoriese kerke wat die erfsonde bely, staan teenoor mense wat:

  • Glo dat die mens van nature goed gebore is
  • en teenoor mense wat dink dat die bose wat in die mens se hart is, bloot aangeleerde slegte gedrag is.

Voordat ‘n gelowige kan smag na verlossing, is dit nodig om eers te weet hoe gebroke die mens sonder Jesus Christus is.

Laai af

Raadpleeg liewer die Here

Skriflesing: Deut 7:1-6; Josua 9; Joh 17:13-17; 18:36-38
Teksvers: Josua 9:14

Kyk na die borde op die lamppale… Nogal interessant waarmee sommige politieke partye ons stemme wil werf… Meer werk en kos en geld en fisiese veiligheid.

Nogal ‘n lastige ding, ek bedoel nou die verkiesing: Wat moet ek stem? Ons kan tog nie net aan die fisieke dinge bly dink terwyl ons hoop eintlik op ‘n baie hoër vlak geleë is nie!? Of wat praat ek alles! Stem moet jy stem.

Kom ons stem beter as wat Josua en Israel gedoen het!!

Kom ons gaan biddend na die stembus, want ons wik maar God beskik.

Laai af

Uitverkiesing en menslike verantwoordelikheid

Skriflesing: Matteus 22:1-14; Openbaring 3:1-6 en 19:5-9
Teksvers: Matteus 22:1-14 (14)
DL 2 art 5-7 (en 8-9)

Uit die belydenis van Dordrecht het ons laaskeer weer gehoor dat God getrou, genadig, goed, lankmoedig, barmhar-tig en regverdig is (DL 2.1-4). Dit is juis weens sy goedertie-renheid (goedheid en trou) dat Hy Christus geskenk het as eenmalige en voldoende offer vir al ons sondes!

Die vraag bly egter by ons: Maar as alles genade is, het ons as mense dan nie ook ‘n verantwoordelikheid nie? En dit is waaroor dit in DL 2.5-7en verder gaan. Die mens se taak is nie deur die genade uitgesluit nie, maar juis daarin ingesluit:

Tog kom dit baie sterk in die teksgedeelte na vore en gee ons nou reeds gedeeltelik aandag aan ons taak in heiligmaking – die aantrek van ons bruidsklere.

Laai af

Vind vreugde in jou eie en ander gelowiges se unieke en eiesoortige diens aan die Here

Skriflesing: Lukas 10:38-42 Johannes 12:1-7 (Lees ook Johannes 11)
Teksvers: Joh 12:2 en 3

Elkeen van ons het ‘n unieke en eiesoortige gawe van die Heilige Gees ontvang om die Here te dien. In hierdie gedeelte lig die Here die gawes van twee vroue uit, nl Marta en Maria, Lasarus se susters. Die een dien die Here deur te doen en die ander deur te luister.

In ons gemeente het die Here ook ‘n verskeidenheid van gawes gegee om saam die Here te kan dien en te loof. Hoeveel vreugde vind jy nog daarin om die Here te kan dien? Dit mag wees dat jy jou vreugde om die Here te kan dien, verloor het. Dit kan wees dat medegelowiges of omstandighede jou fokus en perspektief van die Here wil probeer wegtrek.

Mag jy die beste deel kies wat nooit van jou weggeneem sal word nie. Mag jy geestelike vervulling en vreugde vind in jou diens aan die Here.

Laai af

Besluite het verreikende gevolge

Skriflesing: 1 Konings 12
Teksverse: 1 Konings 12: 15 en 22-24

‘n Mens neem so maklik besluite sonder om werklik na te dink of te bid oor die wil van die Here. Sommige besluite het goeie en ander slegte nagevolge. In hierdie gedeelte hoor ons die verskil tussen die besluite van mense en die besluite van die Here met die gepaardgaande gevolge van die besluite wat geneem is.
Bo alles staan die ewige besluite van die Here vas en seker. Hy beskik en bepaal ons lewe. Hy sal deur sy besluite heen die gelowige lei om in en deur Hom te lewe of aan ons die geleentheid gee omtot inkeer en bekering te kom.
Ons land staan op die vooraand van ‘n verkiesing. Sogenaamde demokratiese besluite word geneem en ons sal met die gevolge van hierdie besluite vorentoe leef. Mag jy ook biddend voor die Here staan oor ander mense se besluite wat ‘n impak op die Here se eer en die mense se vreedsame bestaan tot God se eer sal hê.

Laai af

« Older posts Newer posts »