Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 132 of 192)

Gehoorsame kinders leef tot eer van God

Skriflesing: Eksodus 20:12; Efesiërs 6:1-9
Teksvers: Eksodus 20:1
HK Sondag 39

In die vyfde gebod, waar dit oor gesag gaan, is die beginsel wat daargestel word, ‘n baie intieme en bekende verhouding: Eer jou vader en jou moeder!

Gesag begin by hierdie eerste verhouding waarin ons die wêreld binne kom. Jou ouers is die eerste persone wat jy ken. Hulle is die persone deur wie jy in die lewe kom. En hulle is uiteraard die eerste mense met wie jy te doen kry… As ouers is ons nie alleen in ‘n liefdesverhouding tot ons kinders nie, maar ook ‘n gesagsverhouding…

Hierdie gesagsverhouding weerspieël iets baie meer as net ons gesinstruktuur. Dit wys op ons gewilligheid om te leef onder die gesag van ons hemelse Vader. Ons staan stil by die vyfde gebod met die tema: Gehoorsame kinders leef tot eer van God.

Laai af

Die Here gee rêrig om – Hy sorg!

Skriflesing: Markus 4:35-41; Markus 14:32-42
Teksvers: Markus 4: 38

Ons lewe in stormagtige tye. Dit raak elke dag moeiliker om sin te maak uit dit wat rondom ons aan die gang is en steeds kom meer en meer inligting deur al die media tot ons ore… meesal nogal slegte nuus. Soms word ons so oorweldig dat ons ook soos die dissipels die Here wil verwyt.

Kyk mooi na die teks en sien dan dat Jesus nie verskoning aanbied omdat Hy heerlik “op die kussing” aan die slaap geraak het nie. Hy was niks bang nie. Hulle was. Hulle projekteer. Hulle verwyt. Hulle verloor perspektief.

Dit is so menslik, so hartseer. Pasop dat jy nie ook jou vinger in God se oog wil druk met verwyte vir die tye wanneer jou perspektief ontbreek nie. Vrees jy God!

Laai af

SONDAG, DIE DAG VAN DIE HERE – ‘n RUSDAG, ‘n FEESDAG

Skriflesing: Eks 20:8-11; Psalm 92
Teksvers: Ps 92:1,2,14 (Eksodus 20:8-11)
HK Sondag 38

Die Sabbatsgebod reël die mens se weeklikse roetine. Ses dae werk en een dag rus. So was dit van die begin af. Ja, selfs voor die gee van die Tien Gebooie was dit reeds die reël! (Eksodus 16 – die sewende dag was daar geen manna nie).

Die mens wat as die beeld van God gemaak is, ontvang dus hierdie reël van sy God. Op die sewende dag het God sy werk voltooi deur te rus. Die rus was die kersie op die koek! God laat Hom nie rusteloos voortjaag nie. Hy wil ook dat die mens in ‘n bepaalde roetine kom, en so nie ‘n slaaf van die dolle gejaag van die tyd word nie.

Het jy nog tyd vir die Here? Die Sondag wat in die plek van die Sabbat gekom het, is juis die dag waarop jy en ek kan rus, weer tot verhaal kan kom, om na te dink en weer van Hom te leer hoe ons Hom in die week moet dien!

Laai af

Die Kerk ook Gereformeerde kerke moet altyd reformeer

“Ecclesia reformata semper reformanda”

Skriflesing: 2 Kon 17:1-41
Teksvers: 2 Kon 17:2,13,27,28,34,37,3

Hervorming is ‘n blywende opdrag. Reformeer terug na die Skrif toe, bly ‘n noodsaaklikheid. Nogtans leef ons in veranderde omstandighede, met nuwe uitdagings, met mense wat nuut dink en doen, daarom moet die kerk die mens van die dag bedien. Maar God en die Skrifwaarhede verander nie. Om met die tyd by te bly en God nog steeds opreg en eerlik te dien, is ‘n geweldige uitdaging. Daarom mag die kerk nie verwater nie. Daarom moet die kerk reformerend, relevant bly in ons tyd. Dit beteken nie dat ons reformasie altyd net moet sien as terugkeer na ou tradisies en gebruike van die verlede nie, maar dat ons moet aanpas in ‘n moderne tyd, maar nogtans die Skrif, belydenis en Kerkorde moet gebruik om God opreg en eerlik te aanbid soos wat Hy in sy Woord van ons vra.

Mag ons die wysheid altyd van God kry om ware kerk te bly!

Laai af

Jou woord is jou eed

Skriflesing: Matt 5:33-37; 23:16-22
Teksvers: Matteus 5:37
HK Sondag 37

In die derde gebod is dit baie duidelik waar dit gaan om die Naam van God dat ons in geen opsig dit ligtelik moet opneem nie. Want aan die Naam van God word sy eer gekoppel en is heilig omdat dit sy wese voorstel. Daarin is die miskenning van God se Naam en die misbruik ‘n belangrike saak wat ons nie mag ignoreer nie. God wil dat ons sy Naam nie misbruik nie maar wel dat ons Hom reg aanroep!

Wat het eedswering dan met die Naam en die regte gebruik van die Naam van die HERE te doen? Om te sweer of ‘n eed af te lê beteken om ‘n verbond aan te gaan of dan ‘n kontrak, ‘n belofte. Met hierdie verbond stel jy as persoon die waarheid bo alle dinge. Omdat geen mens in jou hart kan sien of dit wat jy sê die waarheid is of nie, word daar gewoonlik dan op God beroep om as getuie te dien.

Ons staan vanaand stil by die bergrede waarin ons Here Jesus ons leer dat ons woord ons eed is.

Laai af

God sien alles

Skriflesing: Gen 30: 25-43; Gen 31 :1-17,41,42; Heb 11: 21; Psalm 121:1-5 (1Pet4:19)
Teksvers: Hebreërs 11:21(Gen 47:31)

Ai, die arme ou Jakob darem. Hy het vir homself soveel moeilikhede op die hals gehaal. Sy eie planne skelmstreke het hom niks anders as stres en sorge besorg nie en vir sy huisgesin nie goed gedoen nie. Die onreg van die skelmstreke teenoor hom gepleeg het dit nie juis makliker gemaak nie. Ons hoor dat die twintig jaar vir Laban vir hom tog ook moeilike tye was. Die teksgedeelte leer ons egter dat geen onreg teenoor hom gepleeg ooit God se oog ontgaan het nie. En vir God se kinders in die wêreld van onreg en korrupsie geld dit as ‘n troosvolle boodskap.

Nota: In Gen 47:31 lees ons dat Jakob in aanbidding buig oor die koppenent van sy bed., terwyl Heb 11 meld dat hy aanbid oor die knop van sy staf. Die verskil kom in Hebreërs wat aanhaal uit die LXX wat ’n ander lesing het as die MT van die Ou Testament. Die stamwoord is dieselfde, die klinkers verskil. (matê = staf en mitah = bed). Dit maak aan die wese van die saak geen verskil nie. In beide lesings gaan dit immers daaroor dat Jakob aan die einde van sy lewe/ in sy ouderdom ’n dankbare aanbiddende houding in onderwerping aan die wil van God ingeneem het.

Laai af

« Older posts Newer posts »