Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 133 of 192)

Die mooiste Naam!

Skriflesing: Eks 20:7; Lev 24:10-16
Teksvers:  Lev 24:15,16

Ons ken iemand by die naam. As ons praat van Karel of Sarel of Anika of Leonette, weet ons van wie ons praat. As ek praat van die man of die vrou, weet niemand van wie ons praat nie, tensy ons dit binne ‘n bepaalde konteks of storie gebruik.

Maar God, is wat Hy is. God is nie ‘n bietjie so en ‘n bietjie so nie. God is volmaak en volkome wat Hy is. Daarom openbaar God Hom aan ons in die Woord eerstens net as God, “Ek is wat Ek is” Eksodus 3:14.

Daarna openbaar God homself met baie name, maar elkeen is volledig God self. Daarom moet ons God “ken” deur sy Naam met eerbied en respek en liefde te gebruik en nie te verswyg of te misbruik nie.

Erken God daarom deur sy Naam te gebruik en te noem en van Hom te getuig!

Laai af

Christus is ons hoop in teleurstelling

Skriflesing: Matt 26:14-16; 69-27:10; Joh 13:21-38; Luk 22:31-34
Teksvers: Matt 26:75 en 27:5

Teleurstellings is deel van ons lewe wat ons moedeloos en bedroef laat. Maar teleurstellings is wonderlike geleenthede om te groei. Die vraag is dus nie of ons teleurstellings gaan beleef nie, maar hoe ons dit gaan hanteer. Uit die lewe van Moses, Elia, Naomi en andere sien ons hoe geloof weer hoop gee in diepe teleurstellings.

Ons gaan vandag stilstaan by twee dissipels in Jesus se binnekring wat teleurstellings ervaar het. Die reaksie van hierdie twee dissipels is totaal uiteenlopend. Petrus, die rotsman wat so haastig is met die mond, is vinnig om te sê dat hy die Here nie sal verlaat nie, selfs tot die dood toe nie. Maar voor die haan kraai het hy die Here drie maal verloën.

Judas aan die ander kant, gaan doelbewus daarop uit om die Here uit te verkoop en oor te lewer, maar kry ‘n diepe spyt daaroor. Ons kyk na die reaksie van hierdie twee dissipels in die lig van Christus se kruisiging.

Laai af

Die 2e gebod: Hoe die onsienlik God gedien wil word

(geen eiewillige godsdiens nie)
Skriflesing: Eks 20:1-6; Kol 1:14-23; 2 Kor 3:18
Teksvers: Eks 20:4-6 (2 Kor 3:18)
HK: Sondag 35

Die eerste gebod leer ons WIE ons moet – die Here, God alleen, want daar is nie ander gode nie. Die tweede gebod leer ons HOE ons hierdie God moet dien en hoe nie! In kort verbied God enige eiewillige vorm van godsdiens en gebied (leer) ons om voortdurend te vra of ons godsdiens werklik vir die Here aanneemlik is. As God dan die Onsienlike is, kán en mág ons nie karikatuurbeelde van Hom maak of maar net doen waarvan ons hou nie.

Die Woord staan sentraal in die erediens – nie net die prediking nie, maar ook alles wat ons daar aan God aanbied. Die erediens is egter die voorloper van ons daaglikse lewensliturgie, om alles elke dag te doen “soos vir die Here”. Vra jou dus voortdurend af of dit wat jy doen vir Hom aanneemlik is (Ef 5:10). Dan sal ons nie beelde van God maak nie, maar eerder beeld van God wees!!

Laai af

Vier klein dingetjies op aarde met buitengewone wysheid

“Sprinkane het nie ‘n koning nie en tog trek die hele swerm in formasie.”

Skriflesing: Spreuke 30:24-28; Joël 1: 1-20
Teksvers: Spreuke 30:27; Joël 1: 4,14,16,20a

Miskien het van u al ‘n sprinkaanplaag gesien. Dit is miljoene der miljoene der miljoene sprinkane wat in ‘n rigting trek en elke liewe groenigheid opvreet en wat agterbly is net die kaal veld. Dit is verskriklik wat sulke sprinkaanswerms aan die natuur kan doen. So lees ons van die agtste plaag in Ex 10, die sprinkaan-plaag wat Egipte verwoes het. Die sprinkaan is sekerlik een van die klein diertjies, insekte, wat die mees onheilspellendste een vir Israel was. In die boek Joël word die nasie wat Israel sal aanval vergelyk met ’n sprinkaanswerm. Die vergelyking is skrikwekkend. Maar die sprinkane word in Spreuke beskryf met buitegewone wysheid. Daarom gaan dit nie oor ‘n natuurles nie, maar oor die wysheid van sprinkane wat nie eers ‘n leier het nie. Ons gaan na drie sake kyk:

  • Geen leierskap vir sprinkane nie. Spreuke 30:27
  • Aardse leierskap vir die mens. 1 Samuel 12:12-14,24
  • Geestelike leierskap vir die gelowiges. Efesiërs 1:22,23

Laai af

« Older posts Newer posts »