Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Nuwe Testament (Page 73 of 129)

Die Regter kom!

Skriflesing: Matteus 24:1-14; 25:31-46; Openbaring 20; 2 Korintiërs 5:10
Teksvers: Matt 25:31-33

Ek kry so al die gevoel dat die laaste dag vir mense meesal maar net ‘n fabelagtige idee is. As jy tyd maak en begin nadink oor watter groot dag dit werklik gaan wees, mag dit selfs bepaalde vrese by jou inboesem. 

As ek ds Paul se boodskap van verlede Sondagaand in herinnering roep, dat God selfs weet wat in die geheime kamers van ons lewe en selfs ons harte gebeur, dan mag ons werklik met vrees en ontsag hierdie grootse dag van die Here inwag! 

Staan vas in die geloof en bevestig jou liefde

Skriflesing: 2 Korintiërs 1:1-2:11
Teksvers: 2 Kor 1:7, 24 en 2:8

Dit is bykans twee jaar nadat Paulus sy eerste brief aan die gemeente in Korinte geskryf het. Daardie hardvogtige en liefdelose gemeente wat elkeen net op sy eie belange fokus. Tog is die inhoud van hierdie tweede brief so totaal anders. Hulle was immers nog altyd die gemeente van God, al was hulle so sondig. 

Ook hulle het ervaar wat dit beteken om te ly ter wille van die evangelie. En die troos waarmee hulle getroos is, kan hulle ander mee vertroos. Want hulle hoop is vas. Hulle geloof is standvastig, en hulle liefde moet weer en weer bevestig word. 

So is Paulus se woorde en vermaninge nie om baas te speel oor hulle geloof nie, maar juis om ‘n medewerker te wees aan hulle vreugde. Amen 

God vervul ons met verwondering

Skriflesing: Romeine 11:33-36; Efesiërs 3:14-21
Teksvers: Romeine 11:33 en 36

Kan jy onthou hoe jy as kind in stomme verbasing en verwondering na iets gestaar het. Opgewonde! Hand voor die mond van pure verbasing. iets wonderliks wat jy gekry het? Jy kon dit nie glo nie… tog: daar is dit voor jou oë… 

Ek dink dit is met so ‘n absolute gevoel van verwondering waarmee Paulus Rom. 11:33-36 geskryf het. Sorgvuldig, keurig onderrig hy in die hele Romeinebrief sy lesers oor die waarheid van die evangelie van Jesus Christus. 

En dan, asof uit die bloute, oorweldig dit wat hy so sorgvuldig skryf, oorweldig dit hom. En dis asof hy sy leraarspen neersit, en spontaan ‘n lied begin sing… ‘n lied van verwondering. Verwondering oor die God wat hierdie verlossing aan ‘n verlore mensdom bewerk en geskenk het. 

O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God. Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik is sy weë! 

Raak ons nog in verwondering oor die skatte van die evangelie, dat ons in verbasing daardeur oorweldig word. 

« Older posts Newer posts »