Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Nuwe Testament (Page 5 of 121)

Die jaar van genade en vryheid

Skriflesing: Lukas 4:14-32; Jesaja 61:1-3; Jesaja 66:2 (1983)
Teksvers: Lukas 4:18,19

Maak gerus ‘n tydjie om die twee teksverse van Jes 61 en Luk 4 se aanhaling daarvan met mekaar te vergelyk. 

As Lukas die Here Jesus aan die Griekssprekendes (heidendom) bekendstel, gebruik hy hierdie spesifieke woorde wat nou in die koms van Jesus as die langverwagte Messias vervul is. Vir die Jode van sy tyd voldoen Hy nie aan hulle vereistes nie. So is die prediking van die Gekruisigde Jesus nie so baie aanvaarbaar vir die huidige wêreld met sy wellustige soeke na sukses nie. 

Is hierdie Jesus vir jou genoeg? 

Jesus van God verlate, sodat ons nooit verlate sal wees nie

Skriflesing: Matteus 27:32-56 (2020)
Teksvers: Matteus 27:46

Het jy al werklik eensaam, vergeet en verlate gevoel? As gevolg van die sondeval, kan selfs gelowiges soms ‘n verlatenheid ervaar. Die Bybel vertel ons van mense wat God verlaat. Ons lees ook dat God die Israeliete soms oënskynlik verlaat het. Ons hoor egter ook van gelowiges wat pleit dat God hulle nie sal verlaat nie. 

Tydens die kruisiging hoor ons Jesus Christus se kreet: “My God, My God, waarom het U my verlaat?” Hoe is dit moontlik dat God vir Jesus kon verlaat, terwyl ons tog bely dat die Drie-enige God, Vader en Seun en Heilige Gees onskeibaar is? Kan Jesus dan deur God verlaat wees en tog nie van God geskei wees nie? Waarom was dit dan nodig dat Jesus van God verlaat moes word? Wat is die troos wat ons put uit Jesus se Godverlatenheid aan die kruis? 

Kom ons verwonder ons oor die blye boodskap, dat Jesus ter wille van ons deur God verlaat is en dat ons nou die sekerheid het dat ons op grond van Christus nooit van God verlate sal wees nie. 

SPIEËL JOUSELF IN DIE WOORD WAT VRYMAAK

Skriflesing: Jakobus 1:19-27; Matteus 7:13-28 (1983)
Teksvers: Jakobus 1: 22-25

Ons het verlede week gehoor dat elke mens ‘n keuse of keuses het, maar nie ‘n vrye wil nie. Ons het eenvoudig nie die waarheid in onsself nie en moet dus van die slawerny van ons sondige wil bevry of vrygemaak word! 

Hierin sien ons die liefdevolle en genadige hand van die God en Here wat ons in Christus só liefhet dat Hy vir ons die wet gegee én vervul het. En nou kan ons deur die geloof (die nou poort) ingaan en op die (smal) pad van gehoorsaamheid lewe deur die krag van sy Gees. 

Hierin moet ons egter God se medewerkers wees en daarvoor het Hy ons sy Gees en Woord gegee. 

Herstelde siening van verlossing

Skriflesing: Romeine 8 (1983)
Teksvers: Romeine 8:1.31

Die sieklike narsisme van die duiwel wil steeds die indruk laat dat ons in die stryd van die geloof tussen hemel en hel hang… Dis asof hy ‘n gelykstaande mededinger is om ons siele. Hy maak sy eie naam groot om ons die idee te gee dat hy die gelyke mededinger van God is. 

Dit is ‘n flagrante leuen waarvan ons deur hierdie wonderlike teks van vandag bevry word! 

Jesus is Here oor die natuur, vertrou Hom, Hy sorg

Skriflesing: Johannes 6:1-15 (2020)
Teksvers: Johannes 6:5 en 6

In ons lewe mag daar dinge gebeur, mag ons in omstandighede verkeer, waar ons onseker is oor wat vir ons in die toekoms wag. In hierdie gebeure openbaar Jesus dat Hy ons Here is wat altyd vir ons sal sorg. 

Die Heilige Gees verseker ons dat ons Hom kan vertrou. Die Here sal sorg. Hy is met ons besig as ons bekommerd raak of onseker is. Glo en vertrou jy werklik dat die Here Jesus Christus by magte is om vir jou te voorsien en te versorg na liggaam en na gees? 

Mag dit wees dat jy by hernuwing jou lewe oorlaat in volle vertroue in die getroue Here Jesus Christus wat jou sal versorg en sal voorsien in alles wat jy nodig mag hê. 

« Older posts Newer posts »