Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Nuwe Testament (Page 4 of 125)

Een soos ons, maar met medelye

Skriflesing: Hebreërs 4:14 -5:10 (1983)
Teksvers: Hebreërs 4:15,16
HK: Sondag 5

As ons by HK So 4 verby wil kom (die strawwende God), het ons iemand nodig wat werklik in ons plek kan staan. Waarlik een soos ons, maar ook een groter, beter en meer liefdevol as enige van ons. 

Die nagmaal herinner ons vandag weer dat daar wel so iemand bestaan… ons groot Hoëpriester wat deur God geskenk is en wat aan ons gegee is om in ons plek voor God te staan. 

Kom ons gaan dan met groot vrymoedigheid (Gr: paressia) as vrygekooptes en met die toegangsregte wat Hy verkry het, na sy troon van genade (en geregtigheid) en gaan sit aan sy nagmaalstafel. Beleef daar sy verbondsliefde wat nooit ophou nie. 

Kinders van God

Skriflesing: 1 Johannes 3:1-10 (2020)
Teksvers: 1 Johannes 3:1-3

Kyk! Ja kyk watter groot liefde God aan ons bewys. Om ‘n kind van God genoem te word. God maak van ons kinders, Hy maak ons waardig. 

Uit onsself is ons weeskinders, kinders van die sonde. Nou mag ons egter in die Vader se woning kom bly. Hy berei immers vir ons plek, deur Sy Geliefde. Sy Eie Seun is ons plek-bereider. 

Laat ons leef as waardige kinders van God wat aan sy tafel van genade deel het, wat Hom verheerlik. 

Christus se dienswerk groter as die engele-diens

Skriflesing: Hebreërs 1:1-5,14; 2:5-11 (1983)
Teksvers: Hebreërs 2:9

Uit Hebreërs 1 het ons besef dat Christus op elke bladsy in die Bybel staan – Ou én Nuwe Testament! Hy is die Bruidegom van Hooglied, Hy is die Koning van Dawid, Hy is die Profeet wat sou kom, Hy is die Tabernakel, Hy is die Seun van God. Ja, Hy is God! Hy is in alles vér bo die engele verhewe. 

Vandag sal ons dan besef dat Hy selfs in sy dienswerk beter is as die engele. Elke dag sorg engele vir ons. Miljoene der miljoene engele in diens van die uitverkorenes (Hb 1:14). En tog is Jesus Christus se dienswerk net beter en groter en meer werd as wat enige engel kan droom om vir ons te doen! 

Ons Moet Soos God Wil Wees

Skriflesing: Efesiërs 4:17-5:2; Genesis 3:1-8 (2020)
Teksvers: Efesiërs 4:23-24
HK: Sondag 3

In die tuin sien ons hoe die begeerte van die mens kom as hulle die verbode vrugte sien om daarvan te eet. Die begeerte is om soos God te wil wees. Maar hierdie begeerte is boos en sleg.
Die mens wil soos God wees, en dit bring sonde voort. Tog lees ons in die Nuwe Testament dat ons strewe veral daarop gemik is om soos God te moet wees. Hoe is dit dan moontlik?

Bly In Hom

Skriflesing: 1 Johannes 2:18-29 (2020)
Teksvers: 1 Johannes 2: 22-25

Elkeen wat uit God gebore is, se lewe getuig van God wat in hom/haar werk. Om in Hom te wees, bedoel dat jy deel het aan Christus en al sy weldade.
Tog leef ons in ‘n stukkende wêreld waar daar baie uitdagings en onsekerhede mag wees, vol dwalinge en valse idees. Daarom kom die oproep: Bly in Hom! Moenie weg van God af leef nie. Moenie Christus ontken nie, maar ken Hom.
Leef in Hom, Leef deur Hom, Leef tot Hom.

Christus beter en groter as die Profete!

Skriflesing: Hebreërs 1:1-4; 13:8; Fil 2:5-11; Joh 1:1-3; Kol 2 (1983)
Teksvers: Hebreërs 1:1-4

Ek bepaal u aandag in die prediking steeds by die jaartema en die grootheid of gróótsheid van ons Verlosser. In sy pragtige kommentaar op Hebreërs beskryf Prof Andrie du Toit ons teksverse as een van die keurigste en diepsinnigste sinne in die hele Bybel! (p. 33) 

Keurig omdat die Griekse teks 5 keer met die letter ”p“ allitereer: polumeros kai polutropos palai tois patrasin en tois profetais. As ons daaraan dink dat hierdie boek eintlik ‘n preek is wat aan die gemeente van Rome voorgelees moes word, sou jy verstaan dat by die aanhoor van hierdie keurige verse die mense se aandag dadelik gevange geneem is. 

Diepsinnig omdat dit een eintlik ‘n doksologie is op die oorgang van die Ou Testament na die Nuwe Testament se verstaan oor wie die ware Verlosser van die wêreld is! 

« Older posts Newer posts »