Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Matteus (Page 4 of 17)

Die Here skeur self die weg vir ons oop na Hom toe 

Skriflesing: Mattheus 27:32-54; Hebreërs 10:1-25 (1953)
Teksvers: Mattheus 27:50-51a

Die doel van die kruisiging word vir ons geopenbaar toe God self die voorhangsel na die allerheiligste skeur. Die doel was dat ons toegang mag hê tot onse God. Ons Here Jesus Christus is die vervulling van die skadu’s van die tempel. Hy is vir ons verskeur, sodat ons deur Hom kan gaan na ons Vader. 

Ons het die opdrag om nou te leef in die teenwoordigheid van God die Heilige Gees, in die allerheiligste. Daar kan ons leef sonder vrees en met groot vrymoedigheid, omdat ons gereinig is in Christus se bloed. 

Geraamtes in die kas?

Skriflesing: Matteus 1; Fil 3:5-14; Joh 1:12; 2 Kor 5:17 (1983)
Teksvers: Matteus, 1:1,16

Elke mens het ‘n storie. Jou lewensverhaal. Hoogte-en laagtepunte. Jy skryf maar daagliks aan jou eie reputasie. 

Mense is geneig om baie ongenadiglik gereeld jou skuldverlede op te diep. Hulle verwyt en verwys na die geraamtes in jou kas. Biografiese skrywers se kos is die intriges van ander mense se lewens! 

Die Here is anders. Hy vergewe dié wat by Hom skuil en gee werklik die geleentheid van ‘n nuwe begin! 

Wees die geskenk van dit wat jy ontvang

Skriflesing: Matteus 25:13-30 (2020)
Teksvers: Matteus 25: 28-30

Almal hou van geskenke. Veral as jy iets kry wat jy graag wil hê, maar dit nie self kan koop nie. In hierdie bekende gelykenis sien ons hoe verskeie persone “talente” kry. 

Hierdie talente is nie soos ons dit soms wil verstaan as ‘n talent wat jy het nie, dit is ‘n verwysing na ‘n geldeenheid van omtrent 36kg goud. ‘n Talent is dus baie waardevol. Die vraag hier gaan nie oor die hoeveelheid talente wat jy ontvang nie, maar wat jy daarmee doen. 

God gee aan ons gawes en talente, Hy seën ons, sodat ons tot seën sal wees. So word jy die geskenk, van dit wat jy self ontvang. 

Is God se goedheid reg in jou oog?

Skriflesing: Matteus 20:1-16 (2020)
Teksvers: Matteus 20:15
HK Son 24

Elke boontjie kry sy loontjie. Of ten minste so wil ons dit graag hê. Dat elke mens hulle verdiende loon sal ontvang. 

Vir die wat goed doen, behoort daar ‘n goeie loon te wees en vir die wat kwaad doen, behoort daar ook ‘n verdiende loon te wees. Waar dit hier gaan om ons geloof en die werk van die Heilige Gees, is die vraag of ons nie deur goeie werke ook onsself kan regverdig voor God nie? Kan ons nie tog iets doen om op te maak vir ons sonde nie? 

Ons staan vanaand stil by die gelykenis van die loon met die oog op die Nagmaal. 

Laat dit wees volgens jou geloof

Skriflesing: Matteus 9:27-38 (2020)
Teksvers: Matteus 9:28-29
HK Son 23

Ons almal weet wat bates en laste is. ‘n Bate is iets wat waarde het, en waarde toevoeg. Dit is ‘n bate om bates te besit. 

Nou vra die Heidelberger, watter bate is jou geloof? Wat is die bate wat jy besit deur te glo? Dit is ‘n merkwaardige vraag. Want dit leer ons oor die uitsonderlike waarde wat daar in geloof is. Deur sy openbare optrede het ons Here Jesus baie mense gesond gemaak en nuwe hoop gebring. 

Ons staan vanaand stil by twee blinde manne wat in geloof tot Jesus nader en pleit vir genesing, waarop ons Here antwoord: laat met julle gebeur volgens dit wat julle glo! 

Wie sê julle is Ek? 

Skriflesing: Matteus 16:13-23 (1983)
Teksvers: Matteus 16:16,17
HK: Sondag 12

Die monogram van die belydenis van Christus as ons Verlosser is redelik bekend in die vorm van ‘n VIS. Die ware monogram is egter die een wat hierbo verskyn en waarin die letters van die belydenis dat Jesus die Christus en Verlosser is, saamgevat is. Die eerste letters van die Griekse woorde vir Jesus Christus Seun van God ons Verlosser vorm saam die woord IXTHUS, in Afrikaans VIS. 

Waarskynlik het die Ichthus-belydenis sy oorsprong in die belydenis van Petrus in ons teksvers en uiteindelik sal dit in die geskiedenis uitloop op die 12 Artikels van ons Christelike en apostoliese geloofsbelydenis. 

Kom ons antwoord vanaand met Sondag 12 op die vraag van Jesus in Matteus 16:16 en bely dat Jesus die lank-beloofde Christus is, ons Koning en ons Verlosser. 

« Older posts Newer posts »