Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Matteus (Page 3 of 17)

Jy KAN Bly Wees!

Skriflesing: Matteus 3:13-17 (2020)
Teksvers: Matteus 3:17

‘n Mens is nie altyd bly oor die dinge wat jy in die lewe doen nie. Baie mense het berou en spyt oor woorde en dade wat hulle leweslank swaar dra aan die gevolge. Tog is daar ook dinge waarop ‘n mens baie trots is, waaroor jy bly is. 

Wanneer jou kind gebore word, dan deel jy met die hele wêreld jou blydskap. Dit is egter iets baie besonders as iemand onbekend jou vertel hoe aangenaam jou kind is, en hoe trots jy op jou kind kan wees… 

As ons dink aan die Seun van God, dan maak Hy sy Vader bly. Die Vader is bly oor sy Seun, Hy vind vreugde oor sy Seun want sy Seun maak Hom bly. Is jy ook bly oor God se Seun, of dalk meer nog, dink jy God is bly oor jou? 

Dienende leierskap (servant leadership)

Skriflesing: Matteus 8:1-18 (1983)
Teksvers: Mat 8:1

Die groot versoeking as ons kom by leierskap is die misbruik van mag en gesag. Daar is ‘n sieklike honger na mag en die gevolglike misbruik daarvan in ons wêreld, en dit raak al die terreine van ons samelewing. 

Jesus kom stel vir ons die hoogste eise van sy koninkryk (Bergrede Mat 5-7), maar dan is Hyself ook bereid om Hom aan daar die eise te onderwerp en ware diens te lewer. 

Hy het immers gesê : 

“En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” (Mat 20:27-28) 

Dissiplines van ‘n heilige lewe: (3) Voortdurende gebed

Skriflesing: Matteus 7:7-11 (1983)
Teksvers: Matteus 7:7-11

Om in ‘n verhouding met die Almagtige te staan is natuurlik een massiewe groot voorreg. Net die feit dat Hy Homself aan ons bekend maak is al ‘n bonatuurlike wonder. Dat ons Hom mag leer KEN en dat Hy deur ons geKEN wíl wees is een en al genade. Daarom moet ons gereeld bid. 

Dis nie net ‘n voorreg nie. Dit is ook ‘n opdrag van God. Ons teks bied ‘n reeks van drie bevele (imperatiewe) rakende gebed. 

God wil dat ons met geestelike dissipline in gebed volhard en so hierdie intieme verhouding (verbond) van Vader en kind onderhou en uitleef. 

Uitverkiesing: Onregverdig? Of genadig?

Skriflesing: Matteus 20:1-16 (1983) 
Teksvers: Matteus 20:14,15 

If the world could be saved by good bookkeeping, it would be saved by Moses, not by Jesus” (Philip Yansey, 1997). 

As God moes boekhou van ons sonde om ons daarvolgens te beloon, sou ons die oordeelsdag moes vrees. Nou vrees (eer) ons God in blymoedige dankbaarheid omdat Hy, wat syfers en wiskunde ontwerp en in die natuur se wetmatighede ingeskape het, NIE SELF ‘n slaaf daarvan is nie! Dit is immers nie die rykes wat eerste in die koninkryk ingaan nie, en nie die sterkstes wat die oorwinning behaal nie. 

Alles net genade onbeskryflik groot! 

Volg My!

(Last updated on Augustus 5th, 2024)

Skriflesing: Matteus 9:9-13 (2020) 
Teksvers: Matteus 9:9 

Roeping, roep, geroep, beroep, aanroep, uitroep, oproep, inroep. Die begrip roep of roeping is nie vir ons vreemd nie. Die meeste mense sal met oortuiging kan antwoord dat hulle ‘n lewensroeping het. Dit word dan beskryf as ‘n innerlike gevoel of drang om diensbaar te wees vir ‘n groter doel. Vir baie mense is hierdie roeping dit wat hulle sin en betekenis in die lewe gee. Maar dit is nie altyd so maklik om presies te weet wat daardie roeping in jou lewe is nie. 

Mense voel soms verward en onseker oor die verhouding tussen hierdie geestelike innerlike drang na ‘n doel of betekenis (vocatio), en hulle alledaagse bestaan en beroep (professio). Gevolglik is daar verskillende verstaan en begrip oor wat roeping werklik beteken. Vereis roeping ‘n geestelike element waar jou gewone werk (beroep) opgeoffer word om iets belangriker in die koninkryk van God te verrig? Of is jou beroep deel van jou roeping? Wat van geloof? Ons staan vanaand stil by die beweegrede as God tot ons spreek: volg My! 

Moenie dwaal nie 

Skriflesing: Galasiërs 1:1-10; Matteus 28:18-20 (2020)
Teksvers: Matteus 28:20

Nie alle mense hou van dit wat God sê nie. Die gesag van God se Woord was deur al die eeue ‘n geskilpunt. 

Vandag word selfs die bestaan van God bevraagteken, wat nog daarvan dat ons moet luister na wat God sê? Daarby kom die groot gevaar dat dit wat God sê, verdraai of verander word om te pas by wat ons wil hoor. 

Ons gaan vanoggend kyk na die gebeure wat aanleiding gegee het vir die sinode van Dordt en die leerreëls wat daaruit voortgekom het. 

« Older posts Newer posts »