Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 9 of 40)

‘n Heilige oorlog?

Oorlog is oorlog. Meesal is daar weinig winste uit ‘n oorlog. Eerder pyn en lyding en diepe hartseer. Oorlog is geweld en nogmaals geweld. Die duiwel sit daaragter. 

In die Bybel gebruik die Here oorlog as deel van sy Godsopenbaring. Ons mag nie vandag enige oorlog op dieselfde lyn stel as die oorloë van ou Israel waar die Here die heilige geslag (draers van die belofte van die komende Messias) teen die aanslag van die draak of slang van ouds (Op 12) beskerm het nie. 

Die oproep van beide Israel én Palestina is dat die huidige oorlog in die Midde-Ooste ‘n heilige doel het omdat dit gaan oor God se volk of die nageslag van Abraham. Die interessante hiervan is dat beide nasies biologies kinders van Abraham is! En God seën beide die kinders van Isak én die kinders van Ismael! (Gen 12:3) 

Die seën oor Isak was daarin spesiaal dat hy die bloedlyn van die beloofde Messias sou dra, die Verlosser wat gekom het en uiteindelik juis deur die nasie van Israel verwerp is. Noudat hierdie belofte vervul is staan al die nasies van die hele wêreld gelyk voor God, met die enigste uitsondering van diegene wat in Gal 3:29 bedoel word: 

En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en, ooreenkomstig die belofte, erfgename.” Galasiërs 3:29 AFR20 

Die oorlog in die Midde-Ooste mag wel verstaan word as ‘n noodsaaklike optrede teen terreur, en moet natuurlik ook gestaak word as daardie doel bereik word, nl. die verhindering van terreur soos wat onder andere op 7 Oktober 2023 in Israel plaasgevind het. 

Die hele konsep dat ons hier te make sou hê met ‘n sg. “heilige oorlog” is nie ‘n Bybelse konsep nie. Behalwe dat God ‘n God van vrede is en vredemakers liefhet, weet ons dat sy Gees nie een van mag en geweld is nie, maar van liefde en selfbeheersing. Ook kom die wraak volgens die Skrif net aan God toe. Dus het die owerheid die swaardmag om sy onderdane te beskerm en te verdedig, maar steeds met die nodige beginsels van die Woord van God in gedagte. 

Ook die aanname dat Israel se grondgebied nou eintlik ‘heilig’ sou wees en daarom ook in die spreektaal die “Holy Land” genoem word, skep die valse idee dat ons nou in Israel met ‘n sg. heilige oorlog te make sou hê. Ons kan egter eerder glo dat elke duim grond (elke plek en elke hart) waar Christus se gesag onomwonde aanvaar en uitgeleef word, dit heilige grond mag wees. Daar waar Hy regeer daar het die koninkryk van God naby gekom!

Die naïewe idee dat God “aan ons kant is” is egter ‘n fout wat baie nasies in die verlede gemaak het, en nou waarskynlik in Israel weer. Die Moslems se Jihad is vir hulle niks anders as ‘n sogenaamde heilige oorlog nie, en insgelyks dink die Jode dieselfde aan hulle kant. Dit is net so kinderagtig sou twee rugbyspanne voor ‘n wedstryd bid dat God kwansuis hulle span moet laat wen! 

Veel eerder is dit van belang dat ons elkeen seker maak dat ons aan God se kant is. Dit is immers die les wat Josua by die Leërowerste van die Here moet leer voor hy die oorlog teen Kanaän aanpak (Jos 5 en 24). So behoort ons te bid vir die bekering van Jode én nie-Jode, omdat God sy genade slegs gee aan hulle wat aan sy verbond in en deur Jesus Christus getrou bly. 

Die enigste sogenaamde “heilige oorlog” sou dan die een wees, wat Jesus teen die duiwel en die sonde kom voer het en natuurlik ook gewen het! Ons moet egter weet dat die geestelike oorlog op ‘n ander terrein plaasvind en dat die Here belowe het om sy kerk deur hierdie stryd heen te suiwer en te bewaar. Ons moet ons dus gereed maak en onsself staal vir die ergste stryd en vervolging wat die kerk (= die ware Israel, bestaande uit Jode én nie-Jode) nog ooit beleef het, want deur kruis en stryd heen sal die oorwinning van die ware kinders van Abraham kom. 

Nie deur krag en mag nie, maar deur my Gees, sê die Here!” (Sag 4:6) 

As jy dus vir Israel wil bid, bid dan dat die Here die ware Israel (Rom 9:6), die ware kinders van Abraham, sal vashou in die uur van sware stryd wat oor die wêreld aan die kom is. (vgl. Ps 122:6).

Ds Maarten 

Ora et Labora

Hierdie bekende Latynse spreuk beteken: Bid en werk. Dit wys op die twee

belangrike aspekte van ons bestaan. Die geestelike, dit is om te bid, en die vleeslike

naamlik om te werk.

Die verhouding tussen hierdie twee aspekte het deur die eeue heen baie spanning

veroorsaak. Watter een is nou die belangrikste? Ons kan nie lewe as ons nie werk

nie, maar om te werk is nie al waarvoor ons leef nie. As jy nie werk nie, mag jy nie

eet nie, maar as jy werk bring dit soms uitdagings om tyd te maak vir gebed.

Dit is hier waar roeping ‘n deurslaggewende rol speel. Roeping beteken in kort: om ‘n

uitnodiging te ontvang om deel te kry aan die ewige verlossing wat God gee. God

roep ons deur die evangelie, die blye boodskap, om deel te kry aan die verlossing

deur Sy Geliefde Seun.

Ons word egter vir meer geroep as om net gered te word. Ons word ook geroep tot

diens. Die Griekse woord klessis, wat ons as roeping vertaal, is die grondwoord van

ekklesia, wat uitroep tot gemeenskap beteken. Ons vertaal dit ook met gemeente.

Ons word geroep uit die duisternis tot die lig, maar ons word ook geroep tot

gemeenskap van geloof.

Roeping is aanroeping van God, sowel beroep tot diens. Dit is die twee tafels van die

wet. Liefde tot God en liefde tot jou naaste. Daarvan word beskryf in 1 Korintiërs 12

hoe ons hierdie liefdediens kan verrig in verskeidenheid van genadegawes,

bedienige en werkinge.

Nie almal ontvang dieselfde gawes, dieselfde bediening of dieselfde werking nie. Tog

word ons in die verskeidenheid van gawes geroep tot eenheid in en onder Christus

as Sy kerk. Daardeur word nie net ons ora nie, maar ook ons labora as diens aan

God gewy. Om biddend te werk. Dan word ons deur die geloof, medewerkers van

God, in sy diens, en tot sy eer.

 Lourens (vdm) 

Gebed vir Israel? 

Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (Ef 6:12) 

Soos mens seker kan aflei is ek nogal baie lief vir die landjie wat Israel genoem word. Ek wens ek kon al ons lidmate net een keer op toer saamneem vir die ervaring van jou lewe. Nie dat die land opsigself so mooi is nie, want dit is eintlik maar ‘n woestyn en ‘n semi-woestyn, maar die plek raak jou hart aan omdat daar ‘n onbeskryflike geestelike skoonheid betrokke is. Hier het God Homself aan ons geopenbaar soos dit in sy Woord opgeteken is! 

Daarom is daar by my groot pyn en hartseer oor dit wat tans in Israel en Gaza gebeur. Maar so is daar pyn en hartseer oor alle geweld en oorlog elders in die wêreld. Geweld en haat soos ons dit op ons TV skerms sien of hoor, is direk uit die hel aangesteek! Dit saai dood en verwoesting en bring groot mense-lyding en nood. Daarom kan ons maar bid vir vrede in Israel én ook op ander plekke waar haat en oorlog verwoesting saai en mense onnodig laat ly. 

Dit is egter belangrik dat ons moet onthou dat die oorloë tekens is van die eindtyd en dit mag jou hoop op die wederkoms van Jesus versterk. 

Ons gebed moet egter nie maar net uit simpatie vir Israel as land of volkie wees nie, maar vir die WARE Israel, die volk van God, die kerk wat elke dag onder die aanslag/oorlog/stryd teen die te staan kom. Ons stryd is nie teen vlees, en bloed nie… 

Bid dus vir die volharding van die gelowiges in hierdie oorlogsgeteisterde gebiede, maar ook elders waar gelowiges swaarkry, insluitend hier in ons eie land en kontinent. DIE Here alleen kan oorloë laat ophou of in sy plan gebruik, maar Hy wil dat ons staande bly in die geestelike oorlog en dat ons Hom nie sal verloën nie. 

Bid dus ernstig vir die kerk se oorwinning, vir sy vervolgde kerk en vir die spoedige koms van Jesus Christus op die wolke van heerlikheid! 

Ds Maarten

Die Gereformeerde Kerk is Katoliek 

Die kerk glo AAN kerk-wees. Ons glo nie IN die kerk, met die bedoeling dat die kerk ons kan red nie. Ons glo aan die kerk. Ons glo daar moet kerk wees. Want die kerk is die gelowiges wat almal in Christus glo. Ons bely hieroor onder meer in die Apostoliese Geloofsbelydenis dat “ons glo aan ’n heilige, algemene en Christelike kerk”. In die Belydenis van Nicea bely ons “een, heilige, algemene en apostoliese kerk.” 

Die woordjie wat vir “algemeen” gebruik word is die woordjie “katoliek”. Die Latynse beskrywing is De Ecclesia Catholica. Dit is die algemene kerk. Met algemeen, of dan katoliek, word nie die Rooms Katolieke kerk bedoel nie, maar eerder die kerk wat oral op alle plekke voorkom. Dit is eers later, rondom die 5de en 6de eeu na Christus wat die kerk in Rome, haarself as die primus inter pares, die eerste onder die gelykes verklaar het. Gevolglik het die kerk in Rome aangedring om die algemene kerk vanuit Rome te regeer deur die pous. 

Die Heidelbergse Kategismus in Sondag 21 verklaar egter: “Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ‘n gemeente, wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord, in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe, vergader, beskerm en onderhou, en dat ek daarvan ‘n lewende lid is en ewig sal bly” 

Dit is dus nie die kerk in Rome wat regeer nie, maar Christus, ons Here, die Seun van die Lewende God. Die kerk behoort aan Hom. Nie die kerkgebou nie, maar die mense. Die mense is die kerk. En die kerk is almal wat deur die eeue, oral op alle plekke op die aarde deur geloof leef. Dit is die ware kerk. Nie die mense wat hulleself onregmatig die naam kerk toe-eien nie, maar hulle wat in geloof en daad bewys. 

Ons gaan hierdie kwartaal die jaar tema afsluit oor wat ons bely van die kerk. Mag u lewe ook daarvan getuig, nie net dat u in die kerk is nie, maar dat u self die kerk is. Dat u aan Christus behoort en Hom bely saam met alle ander gelowiges reg oor die wêreld en deur alle eeue. Immers, buite die kerk is daar geen saligheid nie. 

Lourens (vdm) 

Wedergeboorte 

’n Voorsmaak van die wederkoms! 

Hoe weet jy dat jy die ewige lewe het? Omdat jy gereeld eredienste bywoon, of dankoffers gee, of nie skinder of steel nie? Omdat jy ’n goeie lewe probeer lei? 

Jesus maak met die gelykenis van die jongman dit duidelik dat ’n mens nie die ewige lewe kan kry op grond van jou goeie dade nie. Jy kan nie die ewige lewe verdien omdat jy gebooie nakom soos die ryk jongman gedoen het nie. Jy kan ook nie die ewige lewe kry omdat jy baie vir God opoffer en Hom volg nie, soos die dissipels gedoen het. Die dissipels was, tipies menslik, ontsteld dat God nie hulle dade in ag neem om die ewige lewe aan hulle te skenk nie. Ons Here Jesus verduidelik God se genade wanneer Hy dit duidelik maak dat God se genade ver bokant ons menslike manier van redeneer uitgaan. Jesus verseker sy dissipels daarvan dat wanneer Hy Self op sy glansryke troon sit, hulle ook op trone sal sit. Hulle sal deel hê in die belangrike taak wat Jesus van sy troon af uitvoer. 

Wanneer gebeur dit? Wanneer alles nuut gemaak, as’t ware weergebore, word. ’n Nuwe bedeling breek dan aan. 

Ons kry hier ’n voorsmakie van dit wat gelowiges met Jesus se wederkoms kan verwag wanneer Hy alles herskep. Ten spyte daarvan dat ons goeie dade nie help om die ewige lewe aan ons te verseker nie, plaas God ons in ’n hoër posisie as wat ons selfs voor die sondeval gehad het. Dit doen Hy deur ons Here Jesus wat ons skuld ten volle vereffen het. Die proses om deel te hê aan die ewige lewe het reeds begin. Iemand wat deur God se Gees wedergebore is, kan uitsien na ’n plek in God se koninkryk wat baie heerliker is as wat ons onsself kan indink. 

Ds. EJ de Beer (Edmund) (Laeveld) Uittreksel uit: Almanak 2023 (Sondag 22 Oktober 2023) 

Vita est Adoratio 

Die lewe is aanbidding 

Ons maak baie graag die onderskeid tussen teorie en praktyk. Dit was egter nie van altyd af so nie. In die Griekse filosofie het theoria nie ten doel gehad om bloot feite te stipuleer nie, maar eerder die nadenke, die oordenking van die ware betekenis van die bestaan van die lewe. Dit het gesoek na die hoogste vorm van kennis en wysheid oor bestaan. 

Hiervoor is die woord filosofie gebruik. Dit is filos – liefde, en sofos – verhewe kennis of wysheid. Hierdie liefde vir die verhewe kennis was nie verwyder van die wyse waarop jy leef nie, inteendeel, jou filosofie het jou lewenswyse bepaal en beïnvloed. 

Daarteenoor was episteme, of bestaan nie die wetenskap of vasstel van iets wat jy doen los van jou theoria nie. Net soos ‘n musikant leef vir musiek, of ‘n wiskundige leef vir wiskunde, kan ons geloof nie losgemaak word van ons aanbidding van die enige ware God nie. 

Ons leef egter nie deur filosofie nie, want Christus self is die wysheid van God. In God se Woord vind ons die hoogste vorm van kennis en wysheid. Christus is die selfopenbaring van God se liefde, sodat ons Hom mag ken en in gemeenskap met Hom mag leef. 

Daarom kan ‘n Christen nie los van Christus leef as teorie en praktyk nie. Vir die Christen is Christus self die lewe. Hy word die Alfa en die Omega. Hy word die doel van jou bestaan en dit waarvoor jy leef. 

So word jou lewensfilosofie die wyse waarop jy jou wetenskap (lees beroep) beoefen. Dit is nie teorie en praktyk nie, maar eerder wysheid wat jy uitleef deur aanbidding in jou hele bestaan. 

Vandag vier ons die Nagmaal. Ons gedenk en glo dat Christus ons Bron en Doel is: Uit Hom en Deur Hom en Tot Hom is alle dinge. Hy versterk ons geloof en gee ons nuwe moed sodat ons kan volhard. 

Hy is ons Rots, die fondament, die Theoria, waarop ons lewe gebou word. Deur sy Woord kan ons nadink oor die ware betekenis van die lewe en dit uitleef as ‘n lewe van aanbidding – Vita est adoratio – die lewe is aanbidding! 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »