Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 32 of 40)

Bewaar die Woord!

Ons lees telkens in die briewe van Openbaring 2-3 hoe ons Here Jesus Christus kom besoek aflê by die gemeentes om te sien hoe hulle optree. “Ek ken jou werke…” weergalm die woorde. Op grond van hierdie getuienis is daar een van twee dinge wat gebeur: beloning of straf. Ons kan dit verder beskryf as seën of vloek.

Deurgaans word die behoud van die Woord, geloof en beloon. Dit is tot seën. Ons word verder in die apokalips gewaarsku teen verleiding en misleiding. Die onheilige drieheid van die duiwel, die antichris en die valse profeet sal alles moontlik doen om die kerk van Christus te vernietig.

In vandag se wêreld sien ons hierdie misleiding en verleiding baie duidelik veral in die digitale wêreld. Daar is beswaarlik ‘n huis in ons land sonder tv en selfs die armste mens het vandag ‘n selfoon wat kan “youtube” en “whatsapp” en “facebook”. Maar ongelukkig het hierdie wonderlike tegnologie en platforms ons lewe ingesluk sodat ons begin skade ly aan ons persoonlike verhoudinge.

Kinders weet nie meer om in die sand te speel nie, tieners kan nie ‘n behoorlike gesprek voer met ingeligte opinies nie, jong werkendes het nie meer tyd vir ‘n huisgesin nie ens, ens, maar almal kan “facebook” en “youtube”.

Die grootste probleem lê nie soseer by hierdie wonderlike tegnologie nie, maar die inhoud wat dit bevat. As gelowiges het ons ook nie altyd ‘n oplossing hoe om van hierdie wêreldse invloede te ontvlug nie. Dit oorweldig ons so dat ons skoon omsingel voel.

Daar is natuurlik altyd die bekende veg of vlug reaksies wat kan volg. Of ons moet vlug en onsself geheel en al uit hierdie wêreld onttrek. Ons moet asketies raak en op ‘n eiland sit en vergaan terwyl ons wag vir die wederkoms.

Of ons kan terugveg, met goeie en gebalanseerde lewens wat midde die wêreldse invloede steeds soos ‘n helder lig, ‘n baken in die duisternis die blye boodskap van die evangelie laat skitter.

Die Gereformeerde Kerk het pas die nuutste terugvegpoging aangewend in die vorm van glomedia.tv. Op hierdie intekenplatform kan ons kinders enige program kyk wat geestelik en opbouend is in Afrikaans. Daarby is ons in gesprek met rightnowmedia om hulle dienste ook te gebruik, wat slegs op hierdie stadium in Engels beskikbaar is en kinderprogramme bevat sowel as Bybelstudies.

Mag die Here ons die wysheid gee om in die vinnige veranderende wêreld nie verskrik en bevrees te wees vir al die verleidings en misleidings wat so oorweldigend kan wees nie, maar dat ons in die midde van al hierdie uitdagings Sy woord sal bewaar!

Ds Lourens

Rotteresies

Dit is of die lewe net al hoe vinniger en vinniger raak. Om by te bly raak al hoe moeiliker, want daar is nie genoeg tyd in die dag om alles te doen wat jy moet nie. Jy voel later soos ‘n rot in ‘n hok wat in ‘n plastiese wiel hardloop, al vinniger en vinniger en dit voel of jy op pad is na nêrens. Dit kan ‘n mens soms moedeloos maak. Dit kan soms maak dat jy nadink oor die sin van die lewe, die doel van die lewe. Is dit die moeite werd?

Prediker 2:26 lees ons dat alles is ‘n gejaag na wind, AS jy nie werk in afhanklikheid van God nie. Gaan sit ‘n bietjie rustig en bedink jou lewe. Wat is die doel van jou lewe? Wat wil jy bereik? As ‘n mens geluk najaag of rykdom of eer, is jy op die verkeerde pad. As jy werklik wil lewe tot eer van God in afhanklikheid van God, dan het jy die regte doel in jou lewe.

Die prioriteite in ons lewens moet reg wees. Prioriteite gaan oor die verhoudings in ons lewe. Om tot eer van God te lewe is om God eerste te stel in jou lewe. Daar is basies drie verhou-dinge in jou lewe en dit moet in ‘n bepaalde volgorde beskou word.

  • Eerstens jou verhouding met God.
  • Tweedens jou verhouding met jou man/vrou/kinders/naaste.
  • Derdens jou verhouding met jou werk.

As hierdie drie verhouding in plek is, dan is daar doel in jou lewe, is dit nie ‘n dolle gejaag na wind, ‘n rotteresies wat geen doel het nie.

Verbly jou in die Here en dien Hom in jou lewensbestaan, in jou verhouding met jou naaste en in jou werk. Moet nie jou werk eerste stel en daarvan ‘n afgod maak en jou man/vrou/ kinders/naaste afskeep nie. Stel God eerste en dien Hom en al die ander sake sal in plek val.

Pred 2:26

“Vir die mens met wie se lewe God tevrede is, gee Hy wysheid, kennis en blydskap. Maar die een met wie Hy nie tevrede is nie, kry die taak om op te gaar en bymekaar te maak en dit dan te gee aan een met wie God tevrede is. Ook hier kom dit dus tot niks. Dit is ‘n gejaag na wind.”

Ds Gerrit

Droomverlore

Wanneer ons jonk is, het ons baie drome oor die lewe. Klein kindertjies beleef hulleself in die wonderlikste fantasiewêrelde waar hulle seerowers en prinsesse kan wees. Hoe ouer ons egter word, hoe moeiliker word dit om te droom soos ‘n kind oor wat die lewe mag inhou.

Dit is veral wanneer ons begin om die realiteite van die lewe te ervaar, wat ons drome begin uitsterf en ons droomdroogtes beleef. Ja natuurlik is daar altyd iemand wat al hierdie groot drome het, en altyd nog groter droom al misluk al hulle pogings, maar hier bedoel ons eintlik die begeerte en verlange om in jou lewe iets te bereik wat van waarde is.

Elke mens droom daarvan om gelukkig te wees. Elke mens droom om deel van ‘n huisgesin te wees, om te behoort, om ‘n lewe vol betekenis te leef. Elke mens het drome, en begeertes van dit wat hulle graag in die lewe wil bereik.

Dit is juis daardie ambisie en hoop op die toekoms wat ons dryf en aanspoor. Dit is juis daardie droomvrou of droomman wat maak dat jy snags wakker lê en wag, of duisende kilometers sal ry net vir ‘n uur of twee saam. Dit is daardie droom van ‘n werk of besigheid wat jou nagte en dae besig hou en deurdruk om te realiseer.

En dan kom daar soms droomdiewe, wat in ‘n oomblik al jou drome aan skerwe laat spat en alles ontaard in ‘n nagmerrie. Daardie diagnose van die dokter dat jy terminaal is, of die uitslae wat wys dat jy nie kan kinders kry nie. Daardie brief van jou werkgewer dat jy afgelê gaan word, of die oproep wat jou skok oor die dood van ‘n familielid of vriend…

Jy wens eintlik dat jy net droom, dat dit ‘n nagmerrie was, maar helaas. Jou lewensdroom word ‘n verskrikking. In ‘n oomblik voel dit asof jou hele lewe betekenisloos en doelloos word. Jy word hopeloos en gee moed op. Jy wil nie meer nie, want jy kan nie meer nie. Jy is so moeg gestry en baklei dat jy wens dat hierdie nagmerrie net moet eindig!

Dit is juis hier waar die Blye Boodskap, die Evangelie ons weer nuwe moed gee, hoop gee. Nie dat die Here al ons probleme gaan laat verdwyn nie. Maar dat Hy in al hierdie bekommer-nisse en probleme ons sal bystaan.

Jesaja 41:10: “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.”

In al ons aanvegtinge kan ons op die Here bly vertrou. Moenie dat die wêreld se bekommernisse jou drome steel nie, maar rig jou hart op die koms van ons Bruidegom, ons Droomman. Laat jou hart bly word oor Hom, want Hy is getrou. Sy beloftes is nie net mooi wense nie, dit is ons blydskap en hoop!

Plaas jou lewensdrome in Sy hand, vertrou dat Sy wil sal geskied en jy sal nooit teleurgesteld wees nie.

Ds Lourens

Naturalisme

Naturalisme is ‘n filosofiese en wetenskaplike denkrigting waarvolgens die wêreld en sy ontstaan in suiwer wetenskaplike terme beskryf kan word en niks meer is as ‘n natuurlike gebeure nie. Tot sy essensie gereduseer, beweer naturalisme dat “alles natuur is“. Dit is dus die vooropgestelde idee dat daar geen God is nie of dat God geen aandeel in die skepping gehad het nie.

Daar word aangeneem dat die prosesse wat die werking van verskynsels verduidelik, die enigste ding is wat gebruik kan word om die oorsprong van die verskynsel te verklaar. Evolusie is ‘n voorbeeld daarvan.

Word die term in ‘n suiwer natuurkundige betekenis gebruik, kan uit die eenvoudige leuse ‘Alles is natuur’ op ‘n materialistiese of fisikalistiese uitgangspunt geformuleer word. Sodanige teorieë beweer dan ook dat die gees van ʼn mens deel uitmaak van die fisiese natuur hoegenaamd nie bestaan nie en ‘n blote illusie is.

Hierdie benadering het veral voortgespruit uit die motivering om alle filosofiese en weten-skaplike denke af te grens van bonatuurlike verskynsels in die religieuse sin. Hierdie soort naturalisme verwerp byvoorbeeld alle wonderdadige werkings en verskynsels of die bestaan van bonatuurlike wesens. Die naturalis ontken dus die bestaan of God en van sy skeppingshandele.

Uniformitarianisme (of uniformisme of gelykmatigheid) is die naturalistiese filosofiese aanname dat dieselfde natuurlike wette en prosesse wat tans in die heelal werk nog altyd in die heelal in die verlede en oral van toepassing was. Dit het die konsep ingesluit dat “die huidige is die sleutel tot die verlede” en funksioneer op dieselfde tempo’s. Uniformisme word veral gebruik in geologie en ook ander velde van die wetenskap.

Hierdie sg. Algemeen-aanvaarde-filosofiese uitgangspunte, druis egter direk in teen die heel eerste verse van die Skrif en ontken die skeppingswerk van Gen 1 asook die sondvloed van Genesis 6-9.

In die Bybelskool wil ons hierdie kwartaal ons weer vergewis van wat die Bybel ons leer oor die Skepping van alle dinge en die Sondvloed waarvan ons lees in Genesis. U is hartlik welkom om dit by te woon.

(Kyk elders in nuusbrief vir die advertensie met besonderhede)

Ds M

God se Geheim Sluit vir ons die hemele oop

Baie mense vergeet dat die Bybel eintlik God se groot geheim is. Dit klink vir ons snaaks, want vir ons is die Bybel nie ‘n geheim nie. Die meeste van ons word groot met baie Bybels in die huis, en gereeld Sondag kerk. Dit is egter nie vir almal so nie, en dit was ook nie van altyd af so nie.

Dit is tog juis waarom die laaste boek van die Bybel “Openbaring” genoem word. Nie Johannes se openbaring nie, maar die openbaring van ons Here Jesus Christus aan Johannes, en aan ons. Die Bybel is so merkwaardig dat God sy ewige geheim aan ons bekend maak. Dit is eintlik ‘n openbare geheim.

Die geheim van God is egter nie in iets wat jy self kan soek en vind nie, maar in die werking van die Heilige Gees. Hierdie geheim is in die woorde, in die boodskap wat God aan ons gee van die begin van die skepping af tot en met Christus se wederkoms.

Daarom word die Bybelseboodskap die evangelie genoem. Dit beteken die blye boodskap, of die goeie boodskap. As ons na die erediens kom, is dit nie om ‘n boodskap te hoor nie, maar Die boodskap. Daarom is dit nie vir enige iemand gepas om ‘n boodskap te bring nie, want God self stuur Sy boodskappers om Die Goeie Boodskap te verkondig.

Bid daarom vir die verkondiging van die evangelie, en bid dat God deur Sy Heilige Gees die harte van mense sal nuut maak deur Sy woord.

En as jy vanaand op jou bed lê en nadink oor God se geheim, die evangelie, die goeie boodskap, en jy is getroos met die wete dat jy die eiendom van God is, gekoop deur die bloed van Jesus Christus, verseël deur die Heilige Gees, prys Hom met jou hele hart in dankbaarheid, want God se geheim sluit vir ons die hemele oop.

Ds Lourens

JY WORD GEWEEG

Vandag is daar baie keer en op vele terreine groot druk op mense. Dit kan gebeur dat jy by die werk geweeg word en te lig bevind word. Jou werkstempo en -standaard kan byvoorbeeld nie voldoende wees na die mening van jou hoofde nie. Wanneer dit by bevordering kom, word jy weer geweeg en te lig bevind, want jy is dan weer dalk te onervare of oorgekwalifiseerd. In jou verhouding met ander mense, jou familie, gesin, huwelik en vriende kan dit ook gebeur dat jy geweeg word en te lig bevind word. By die skool is jy dalk nie “cool” genoeg om deel te wees van die “cool” groepie nie. Orals is daar “afknouers” wat jou laat voel dat jy net nie goed genoeg is nie.

Tragies genoeg kan jy soms eensaam en uitgestoot voel tussen gelowiges. Jy kan openlik en soms subtiel uitgestoot voel binne ‘n geloofsgemeenskap. Dan kom die onrus en soeke na die “geestelike rus wat elders” dalk op jou wag. Dalk ‘n ander gemeente, dalk ‘n ander kerkverband? Want die smagting om “gehê te wil wees” kan soms oorweldigend wees.

Dit is dan wat die woorde van Galasiërs 1:10 waarde kry. Paulus sê dat hy nie die guns van mense gesoek het nie, maar dat hy hom daarop toegelê het om die guns van God in sy lewe te vind. In die verkondiging van die boodskap van Jesus Christus het Paulus nie altyd die guns en goedkeuring van mense weggedra nie. Vir hom het dit om God gegaan. In alles wat hy gedink en gedoen het, het hy die Here voorop gestel. Daar het hy sy rus en vrede en aanvaarding gevind (Psalm 23). In die woorde van Daniël 5:25 word die Aramese woord “tekél” gebruik. Die woord bestaan eintlik uit twee begrippe: “op die weegskaal geweeg” en “te lig bevind” of “te kort geskiet”.

Wat sê ander mense van jou? Wat dink hulle van jou? Wat glo jy oor jouself? Dit maak egter voor die Here nie saak wat die duiwel, mense, die wêreld of jyself van jou dink en glo nie. In Sefanja 3:17 staan daar: Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.

Met die lyde en sterwe van Jesus Christus aan die kruis het Jesus voor sy sterwe gesê: “tetelestaai” – dit beteken: dit is volbring, dit is genoegsaam. Jesus Christus het gekom om jou weer in ‘n herstelde verhouding met die Vader te bring. Dit is die saakmakende saak. Nie wat ander mense, jou werk, die duiwel, jyself of die ongelowiges oor jou dink nie, maar wie ek in Jesus Christus voor die Vader is.

Mag jy in die vrede en vreugde leef dat God jou deur Jesus Christus geweeg het en reg bevind het. Mag dit wat die Here in sy Woord deur sy Gees vir jou sê genoeg-saam wees: God is stil tevrede in en deur Jesus Christus met jou.

Ds Paul

« Older posts Newer posts »