Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 28 of 40)

‘n Dag van verootmoediging

Vandag word ons almal opgeroep om onsself voor die Here te verootmoedig…

Vanweë uiters streng inperkingsregulasies, voel die kerke die druk, nood en dringende behoefte om weer in die volle gemeenskap van die heiliges te funksioneer.

Ons versoek dat:

1. Elkeen selfondersoek doen en verootmoedig voor die Here.

2. Elkeen die koningsheerskappy van Christus sal erken en nie die uitkoms by mense soek nie.

3. Ons voorbidding doen vir die owerheid in hierdie belangrike saak om in verantwoordelikheid voor God op te tree.

4. Ons voorbidding doen vir ’n goeie reënseisoen, sodat daar genoeg kos en werk sal wees vir alle mense in die land.

5. Die kerk in gehoorsaamheid aan God, ons lig in besonder sal uitstraal in hierdie tyd met liefde en omgee vir alle mense en in besonder vir die mense in nood, sodat die triomf van die evangelie eindeloos sal wees.

6. Die kerke die Here dank vir die bewaring wat die kerk grootliks ontvang het en die seëning van ʼn hoë herstelpersentasie onder mense wat die virus opgedoen het.

Ootmoed word verklaar in die HAT as “‘n besef van nederigheid, onderworpenheid, veral teenoor God.” Hoewel dit nie meer so algemene Afrikaanse woord is nie, is dit nog altyd ‘n belang-rike begrip in Bybelse terme.

Met hierdie woordjie, wat vandag baie meer algemeen vertaal word met nederigheid, sit daar tog iets dieper in, om jouself neer te buig, om jouself te verneder voor God. Dit gaan oor ‘n baie spesifieke aksie/reaksie.

Die verklarende woordeboek vertaal dit met: Humility, meekness, poverty.

Ons Here Jesus begin die saligsprekinge met hierdie gesindheid wat in ons moet wees om “arm van gees” te wees. Dit is om van jou eie moedigheid af te sien en volkome op die Here te vertrou.

Daarom ook dat die Here afsien van Sy kwaad en toorn as sy kinders hulle verneder in hulle swakheid en hulle voor Hom verootmoedig. Moses leer die volk in Deuteronomium 8 dat hulle 40 jaar deur die woestyn gereis het omdat die Here hulle nederigheid (ootmoed) geleer het om hulle op die proef te stel of hulle Hom waarlik liefhet. Salomo pleit in sy gebed in 1 Konings 8 dat die Here sal uitkoms gee as daar nood is en die volk hulle tot die Here bekeer (verootmoedig). So het Dawid en Jehiskia en die profete hulle voor die Here verootmoedig. Ja ook die volk het by tye in nederigheid gebuig, en die Here het hulle genadig aangesien.

Jesaja verkondig in hoofstuk 61 oor die koms van die Messias: “Die Gees van die Here my God het oor my gekom, die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood (ootmoediges), Hy het my gestuur om die wat moedeloos is, op te beur….”

Mag ons dan hierdie blye boodskap ter harte neem as ons onsself vandag voor die Here in nederigheid verootmoedig en ons van harte bekeer en ons vertroue volkome op Hom rig. Mag die Here ons gebed verhoor. Want die nederiges sien Hy genadig aan, maar die hoogmoediges werp Hy neer.

Lourens (VDM)

Nie selfvoldaanheid nie maar dankbaarheid!

Pred 9:1-12

Ons kan so maklik dink dat EK ‘n geweldig impak by die werk, skool in my omgewing maak. Die eie-ek is tog so dikwels ons norm. Daarom meet ons andere aan onsself, ek is die vinnigste, slimste, sterkste, oulikste, mooiste, rykste ens.

Maar wat het ek of besit ek wat ek self verdien het? Is alles nie genade van God nie? Is alles wat ek het nie aan my gegee om te dien nie. Die Skrif is duidelik dat hy wat die belangrikste wil wees, moet die minste wees. Ons Here Jesus Christus, die Koning van die konings, het op ‘n donkie gery. Op aarde het Hy nie sondaars voor Hom weggevee nie, maar vir hulle gebid, hulle bemoedig, vertroos en die evangelie verkondig. Trouens Hy het vir ons as sondaars Sy lewe kom aflê.

Die dissipels het gestry wie van hulle is die belangrikste in die koninkryk, selfs gestry oor wie langs Jesus sal sit. Dieselfde geld natuurlik vir intellektuele kapasiteit. Dit is nie noodwendig die intellektueles wat die beste daaraan toe is of wat die kitaar moet slaan nie. Dit is diegene wat biddend voor God staan, diep afhanklik van Hom.

Dit beteken nie dat jy jou eie talente moet minag nie, maar bloot dat jy dit na waarde skat soos wat God dit aan jou gegee het en dit gebruik tot eer van God en tot voordeel van jou naaste. Ons lees in Prediker 9 dat die goeie en die slegte met alle mense gebeur. Nie een is gevrywaar van die swaarkry op aarde nie. God gee reën en droogte, rykdom en armoede.

Daarom moet daar geen selfvoldaanheid wees nie, maar dankbaarheid. Daar moet dankbaarheid in ons harte wees dat ons kinders van God is. Dankbaarheid dat Hy ons gekoop het met Christus se kosbare liggaam en bloed. Dankbaarheid dat ons meer as oorwinnaars, deur Jesus Christus is. Doen alles dus met toewyding en werk hard maar rustig. God is in beheer.

ds Gerrit

Veranderinge in die Suidland (Psalm 126)

Om Namakwaland se blomme te gaan kyk is ‘n groot voorreg en eintlik ‘n móét vir elkeen wat dit kan doen. Kyk ek na ons foto’s van die afgelope naweek dan besef mens jy kan die prentjie-mooi land nie op film vaslê of oorvertel nie. Die Here het kwistig sy verfkwas gebruik en ‘n wonderwêreld opgetower vir ons om te sien en Hom te verheerlik.

Psalm 126 kom by my op soos ons deur die semi-woestyn van Namakwaland en die Knersvlakte ry. Eintlik is dit ‘n dorre en barre wêreld, waar dit meesal met temperature rondom die veertig grade worstel. So ook die Suidland van Israel. Die Hebreeus gebruik die naam van die Negevwoestyn suid van Judea. Harde wêreld! Dorre aarde, ja, maar laat dit net reën in die winter, dan kom die blomme in die vroeë lente in krag uit die aarde, net soos in die Weskaap van Namakwaland!

Die digter van hierdie psalm roep in herinnering dié kere dat God ingegryp het en hulle lot drasties verander het. Nou vra hy dit moet weer gebeur. Die woestyn kan ‘n lushof word, maar net die Here kan so iets vermag.

Ook ons gebed is vandag so. Ons soek weer die vreugde van die vryheid van pandemie en misdaad en korrupsie. Ag Here, verander tog ons lot, soos u die Negev in waterstrome en lentebloeisels verander. Net u kan dit doen omdat Jesus dit vir ons met sy bloed gekoop het.

Bid maar hierdie gebed gereeld in jou trane, want as God verhoor sal jy met vreugde maai wat jy gesaai het! (vs6)

Eintlik is ons gebed dat die groot verandering van die wederkoms kom wanneer Hy ons van hierdie woestynlewe kom verlos, en die poorte van die paradystuin oopsluit: Maranata, kom Here Jesus, ja, kom gou!

Ds Maarten

Verkondig Christus en Hom as gekruisigde

Die meeste van ons ken van kindsbeen af die frase: “Jesus het vir ons sondes gesterwe”.

Maar het u al ooit gedink watter vreemde gedagte dit inhou. Dat iemand se dood ons moet bly maak. Nie net moet bly maak nie, maar jou hele lewe verander. In die meeste gevalle is die dood iets wat ons selfs ons vyande nie eens toewens nie, wat nog te sê dat jy ‘n vriend of geliefde die dood toewens.

Tog praat ons met ons kinders oor die dood asof dit nie net normaal is nie, maar goed is. Jesus se dood is wonderlik! Jesus het vir jou en my aan die kruis gesterf…

Die afgelope tyd is my gedagtes geprikkel deur wat dit beteken om Christus te verkondig? Beteken dit bloot om vir ons kinders te vertel ‘n jong man van so in die dertig het ongeveer 2000 jaar gelede gesterf aan ‘n kruis en die lewe vir ons daardeur beter gemaak?

Of sit daar dalk iets dieper in die betekenis en die verandering van ons harte wat Christus se dood verkondig totdat Hy weer sal kom. Om Christus te verkondig beteken tog in wese dat die koninkryk van die hemele naby gekom het. Dat die dood geen mag oor die mens meer het nie. Dat ons die eiendom van God is. Dat ons lewe ‘n doel en betekenis het. Dat ons elke dag ons lewe kan rig tot die eer van God. Dat ons vreemdelinge en bywoners is in hierdie wêreld.

Om Christus te verkondig is om te leef met die hoop op die onvervulde beloftes van God, wat rotsvas gevestig is in Sy woord met die bewyse van sy liefde deur Sy dood en opstanding.

Om Christus te verkondig is om vry te lewe van die vrees en verskrikking van die aanslae van hierdie lewe, met ‘n diepgewortelde sekerheid in God se troue sorg en liefde. Dit is om te weet jy behoort, jy is kosbaar, jy is ‘n gawe uit God se hand aan jou medemens.

Laat ons dan besef, om Christus te leef is nie om iets te kry nie, nie om bakhand te bedel vir genadekrummels van die dominee nie, maar om as erfgenaam self deel te kry aan die ewige en heerlike erfenis wat in die hemel bewaar word in Christus. Dit is om iets te gee. Dit is om te aanbid. Om jou lewe met al jou begeertes, en bo alles jou hart te offer. Om jou lewenseer aan God te gee.

Mag ons Here ons deur die krag van die Heilige Gees daartoe versterk

Lourens (VDM)

Grendeltyd Fase 2 Eredienste

Noudat ons in Fase 2 is van die grendeltyd, begin ons stadig maar seker weer terugkeer na die “normale” lewe. Maar wat is normaal? Normaal is nie net om te doen wat ons altyd gedoen het nie, maar normaal is die intense begeerte om die Here VOLUIT saam met jou medegelowiges te dien.

Psalm 84 verwoord die intense verlange van die pelgrims om na die tempel te gaan en daar in die nabyheid van God, Hom te loof en te prys. Die tempel was die simbool van die Here se teenwoordigheid. Die pelgrims was in ʼn vrolike feesoptog vir die moontlike Huttefees. Op die lang en intense reis was daar ‘n intense verlange om in die tempel te wees.

So het ons die afgelope drie en ‘n halwe maand gesmag om weer saam in ‘n erediens te vergader. Hierdie reis van die pelgrims was ook simbolies van die verlange om vir ewig by God te wees, ‘n verlange na die ewige Godstad, die Nuwe Jerusalem, Open 21,22. Die Koragiete kon slegs in die voorhof van die tempel kom. Dit was vir hulle egter genoeg, hulle was in die tempel.

Maar geliefdes, tydens Jesus Christus se kruisiging het die voorhangsel geskeur en het ons vrye toegang tot by God. Heb 10:19-25. Deur Jesus Christus se soenverdienste heen het Hy vir ons die weg gebaan om by God te wees, om God te aanbid. Die Heilige Gees is uitgestort sodat ons ook deur Hom gelei, kan word in gebed, in ons daaglikse lewe om met verlange uit te sien om God elke dag te loof en te prys.

Ons lees in Open 21:22 dat daar nie ‘n tempel in die Nuwe Jerusalem is nie, maar God en die Lam is die tempel. Daarom die hunkering om by God te wees. Daar is ook die hunkering om by God te wees saam met my medegelowiges.

Sien jy ook uit om saam eredienste te kan hou tot eer van God!

ds Gerrit

MISSIO DEI

My Vader werk tot nou toe en Ek werk ook” (Joh 5:17)

Van tyd tot tyd gaan daar in die teologie begrippe rond waarmee mense probeer om die grootheid en grootsheid van die Goddelike openbaring te beskrywe. Begrippe wat populêr raak en dan soms weer in onbruik. Opsigself is dit net die bewys dat God en sy genadewerk onbeskryflik groot is (Rom 11:33). In die laaste paar dekades kry ons die begrip ‘Missio Dei’ as poging om die missionêre fokus van die kerk te beskrywe. Die Latynse woorde sou vertaal kan word met “God se Sending”. God se groot plan om vir Hom ‘n gemeente van uitverkorenes te versamel (Hbk vr 54).

In wese beskrywe Missio Dei die taak van die kerk van die Here binne die groot plan van God self. Die kerk is dan nie die doel opsigself nie, maar die instrument wat God gebruik om sy werk te voltooi. Dit gaan dus nie net om die kerk te wees nie, maar om as kerk van Christus, die werk wat Hy begin het voort te sit. Hy het sy taak voltooi (dit is volbring), maar Hy maak ons sy medewerkers in die versameling van sy uitverkorenes en die oprigting van sy koninkryk.

Die taak van die kerk is dan om deel te wees van die Missio Dei. God het ‘n plan of ‘n sending in die wêreld en om sy doel te bereik stuur Hy sy eniggebore Seun op die groot sending om mense van hulle sondes te verlos. As Christus na die hemel opvaar maak Hy sy dissipels en ook ons deel van die Goddelike plan of sending, deur ons uit te stuur en met ons saam te gaan na alle nasies om mense sy dissipels te maak (Mat 28).

God is nie soos die heidense afgode wat mense sy slawewerk laat doen nie, maar maak mense na sy beeld en roep hulle as medewerkers in sy koninkryk. Hy wil dus sy werk, sy ewige raadsplan voltooi en ons deelmaak van hierdie sending. Dit gee aan ons elkeen die voorreg en verantwoordelikheid om werklik om te gee vir verlore mense en alles in die stryd te werp om mense vir Christus te wen (Hbk vr 86). Daarby kry ons die belofte dat Jesus Christus self saam met ons sal wees in die uitvoering van hierdie kerklike taak (Mat 28) en dat Hy die verkondiging van die Evangelie onder die nasies seën (Hand 2:47b).

Wat ‘n groot voorreg is dit dan om saam met Paulus en baie ander gelowiges oor die eeue heen deel te wees van die sendingwerk van die kerk van die Here. Mag Hy gee dat ons elkeen altyd ‘n oop en gewillige hart het om aan ander mense die evangelie van Christus te bring.

Ds Maarten

« Older posts Newer posts »