Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 43 of 50)

Die gevare van ‘n boesemsonde

“Die vraag is sekerlik: Wat is ‘n boesemsonde? Dit gebeur dikwels dat ‘n bepaalde persoon ‘n sterk neiging het om ‘n spesifieke sonde te doen, om een of meer gebooie van die Here op ‘n bepaalde wyse te oortree. Dit kan byvoorbeeld wees ‘n neiging tot diefstal, seksuele losbandigheid, pornografie, drankmisbruik, verwaandheid, eersugtigheid, spandabelrigheid, gierigheid ens.

Daar word gewoonlik gepraat van iemand se swakpunt of sy boesemsonde. Dit is ‘n geliefde of verslawende sonde waartoe iemand maklik verlei kan word. Dit is ‘n punt waar hy in sy stryd teen Satan en die sonde, baie kwesbaar is. Indien iemand so ‘n boesemsonde het – en die meeste mense het dit – moet hy goed daarvan bewus wees en homself nie probeer bluf deur te maak asof hy daar niks van weet nie. Hy moet besef dat Satan hom juis op daardie punt van sy lewe sal probeer aanval om op die wyse sy hele lewe te verwoes.

Dit is immers altyd so as daar oorlog gevoer word: die een vegtende groep probeer die ander groep altyd op die swakste en kwesbaarste plek aanval, die plek waar hy die maklikste en terselfdertyd die grootste skade kan aanrig. So doen Satan ook met die mens.

Daarom moet die gelowige juis ten opsigte van daardie swak punt in sy lewe uiters waaksaam en op sy hoede wees. Hy moet homself nêrens, maar veral nie ten opsigte van sy boesemsonde aan die verleiding of versoeking van Satan blootstel nie. Wie byvoorbeeld ‘n sterk neiging tot drankmisbruik het, moet alle plekke of byeenkomste waar sterk drank bedien word, waar enigsins moontlik vermy.

Wie keer op keer in ‘n boesemsonde val, moet nie moedeloos word en ophou om daarteen te stry nie; inteendeel, hy moet steeds met groter inspanning stry, terwyl hy God aanhoudend en baie ernstig bid om hom te help in sy stryd teen die sonde.”

  • Bly teen die boesemsonde stry.
  • Bely dit opreg en eerlik voor God.
  • Bid vir krag deur die Heilige Gees om te kan oorwin.
  • Glo steeds dat God aan jou die krag en genade sal gee om dit te kan oorwin.

(Bron. PJ de Bruyn. 2008. Die Tien Gebooie. bl. 265)

Epiloog van die Dordtse Leerreëls

Die voorgaande is dan die duidelike, eenvoudige openhartige verklaring van die regsinnige leer aangaande die Vyf Artikels waaroor in Nederland verskil van mening is. Tegelykertyd is dit die verwerping van die dwalings waardeur die Nederlandse kerke ‘n tyd lank in beroering was.

Die Sinode oordeel dat hierdie uiteensetting uit die Woord van God geneem is en met die belydenisse van die Gereformeerde Kerke ooreenstem. Hieruit blyk dit duidelik dat mense in stryd met alle waarheid, eerlikheid en liefde die volk die volgende wou wysmaak:

  • dat hierdie leer ‘n oorkussing van die duiwel en die sondige natuur en ‘n vesting van die Satan is, waaruit hy vir alle mense hinderlae opstel, die meeste verwond en baie met pyle óf van wanhoop óf van sorgeloosheid dodelik tref;
  • dat hierdie leer God tot outeur van die sonde, ‘n onregverdige, ‘n tiran en ‘n huigelaar maak en dat dit niks as die herleefde leer van die Stoïsyne, Manigeërs, Libertyne en Moslems is nie;
  • dat hierdie leer die mense sorgloos maak en dat hulle hulle daardeur verbeel dat, op watter wyse hulle ook al leef, dit nie die saligheid van die uitverkorenes verhinder nie en dat hulle gevolglik sonder kommer allerhande afskuwelike sondes kan doen;
  • dat dit die verworpenes nie tot saligheid strek nie, selfs al sou hulle inderdaad ook al die werke van die gelowiges verrig;
  • dat volgens hierdie leer God enkel en alleen deur sy wilsbesluit en sonder oorweging of inagneming van enige sonde van enig-iemand die grootste deel van die wêreld vir die ewige verderf voorbeskik en geskep het;
  • dat net soos die verkiesing die fontein en die oorsaak van die geloof en die goeie werke is, die verwerping ook so die oorsaak van die ongeloof en goddeloosheid is;
  • dat baie onskuldige kinders van gelowiges van die moederbors weggeruk en op wreedaardige wyse in die hel gegooi word, sonder dat die bloed van Christus of hulle doop of die gebede van die kerk by hulle doop vir hulle tot voordeel kan wees.

En watter baie ander soortgelyke bewerings is daar nie wat die Gereformeerde Kerke nie aanvaar nie, en totaal verfoei!

Daarom doen hierdie Sinode van Dordrecht in die Naam van die Here ‘n beroep op almal wat die Naam van ons Verlosser Jesus Christus gelowig aanroep, om die geloof van die Gereformeerde Kerke nie te beoordeel op grond van hier en daar saamgeroepte lasteringe of op grond van persoonlike uitsprake van verskeie ouer of jonger leraars nie.

Hierdie uitsprake word dikwels slegs met kwade bedoelings aangehaal of vermink en tot ‘n verkeerde betekenis verdraai. Hulle moet eerder op grond van die openbare belydenisse van genoemde Gereformeerde Kerke oordeel en op grond van hierdie uiteensetting van die regsinnige leer wat met algemene instemming van almal saam en van elke lid van die hele Sinode afsonderlik vasgestel is.

Vervolgens vermaan die Sinode hierdie lasteraars ernstig dat hulle moet besef watter swaar oordeel van God hulle oor hulleself bring as hulle teen soveel kerke en teen die belydenisse van soveel kerke valse getuienis gee, die gewetens van die swakkeres in beroering bring en naarstiglik streef om by baie mense die gemeenskap van die ware gelowiges verdag te maak.

Ten slotte doen hierdie Sinode ‘n beroep op alle mededienaars in die evangelie van Christus om hulle in die behandeling van hierdie leer in die skole en in die kerke vroom en gelowig te gedra. Hulle moet hierdie leer sowel mondeling as skriftelik tot eer van Naam van God, tot heiligmaking van die lewe en tot troos van die verslae harte uitlê. Hulle moet in ooreenstemming met die Skrif nie alleen na die reël van die geloof dink nie maar ook praat.

Eindelik moet hulle hulle weerhou van alle uitsprake wat die voorgeskrewe perke van die ware strekking van die Heilige Skrif oorskry. Sulke uitsprake kan aan die skaamtelose dwaalleraars ‘n gegronde rede gee om die leer van die Gereformeerde Kerke sleg te maak Of te belaster.

Mag die Seun van God, Jesus Christus, wat aan die regterhand van die Vader sit en aan die mense gawes gee, ons in die waarheid heilig. Mag Hy hulle wat dwaal, tot die waarheid lei en die lasteraars van die gesonde leer die mond snoer. Mag Hy die getroue die-naars van sy Woord die Gees van wysheid en onderskeiding gee, sodat al hulle uitsprake tot eer van God en tot opbouing van hoorders mag strek.

Amen

Bogenoemde paragrawe is ʼn slot wat die Sinode destyds self bygevoeg het ter verduideliking.

Katkisasie – Verbondsonderrig aan ons kinders

Lees Luk 1:1-4; 2 Tim 3:10-17; 2 Pet 1:20,21

Die woord katkisasie is welbekend in gereformeerde kringe. Dit kom van ’n Griekse woord “katecheu”. Alhoewel ons met katkisasie grootword, vergeet ons maklik die belangrikheid en doel van katkisasie. Katkisasie is om uit die Skrif onderrig te word. Dit is om die Bybelse waarhede uit die Skrif te ken.

Hierdie Bybelse waarhede is om God te ken soos wat Hy homself in die Skrif openbaar, om te leer hoedat God wil hê dat ons in gehoorsaamheid tot sy eer moet lewe. Ouers is verplig om hulle kinders op te voed en te leer en te onderrig in die Bybel.

Dit is eerstens die ouers se plig. Tweedens is dit die Kerkraad se plig. Daarom lees ons ook die volgende op die webwerf van GK Centurion: “Die katkisasiekommissie se doel is om die reëlings te tref rondom katkisasieonderrig.” Dit behels die praktiese reëlings wat nodig is sodat onderrig aan die dooplidmate kan plaasvind. In die doopsformulier word daar verwys na “onderrig en laat onderrig”.

Die kommissie sien toe dat die gedeelte “laat onderrig” gepas en toereikend gedoen word. Soos nodig, doen die kommissie verslag aan die kerkraad oor die werksaamhede. Dit is die ouderlinge se verantwoordelikheid om toesig te hou oor die onderrig wat aangebied word en te verseker dat die inhoud getrou en korrek is.

Elke graadgroep volg ‘n gepaste leerplan wat jaarliks deur die kerkraad goedgekeur word. Katkisasie is ‘n baie ernstige wyse van onderrig aan ons verbondskinders. Daarom moet ouers baie noukeurig toesien dat hulle kinders vir katkisasie voorberei en dit getrou bywoon. Sodoende word hulle voorberei om eendag openbare belydenis van hulle geloof te doen.

  • Ons dank die Here vir verbondskinders.
  • Ons dank die Here vir ʼn toegewyde Kerkraad.
  • Ons dank die Here vir ʼn Katkisasie Kommissie.
  • Ons dank die Here vir pligsgetroue ouers.

Ds. Gerrit Kruger

Bronne

https://proregno.com/2013/04/15/ons-roeping-om-onsself-en-ons-kinders-te-katkiseer/https://gkcenturion.co.za/kommissies/katkisasie/

Versorg in die woestyn (Psalm 23:1-6)

Toe Dawid, die digter, hierdie woorde gesing en neergeskryf het, was hy die skaapwagter in die Judawoestyn. Ons moet hierdie Psalm dus lees soos ‘n woestyn-psalm. Die groen weivelde waarvan Dawid sing is dus nie die groen grasvelde of lusernlande van Suid Afrika nie.

Jou gedagtes word teruggeroep na die dorre landskap van die woestyne van Israel. Meestal is dit klipagtige en bergagtige woestyne. ‘n Harde wêreld. Hier kom niks vanself nie. Hier kan ‘n skaap nie eintlik oorleef nie. Hier vergaan jy maklik van die honger en van die dors.

En dit is presies die bedoeling van die lied: Alleen kan ek en jy nie. Ons is soos die skaap wat sonder ‘n herder in die woestyn sal verdwaal en in die hitte en onherbergsaamheid sal omkom. Die wêreld waarin ons woon het geen rus en geen vrede nie. Die wêreld is hard en ongenaakbaar, en dit nog des te meer teenoor die kinders van God, omdat ons anders is, vreemdelinge in die wêreld. Die lewe van God se kinders is ‘n moeilike en moeisame pad waar veiligheid ontbreek en vrees ons metgesel geword het.

Alleen en op jou eie gaan jy dit nie maak nie!

Nou kom Dawid en troos ons met die stok en staf (vs 4 OAV) van die Herder, die waarheid van die Woord van God: Jy kan nie alleen nie, maar jy hoef ook nie alleen nie. Die Here is jou herder. Hy ken die pad waarop ons moet gaan. Hy sal ter wille van Christus, wat aan die kruis deur God verlaat is, ons nooit alleen laat nie. Hy sal ons lei op die regte spore, en Hy sal vir ons rus gee by die waters van die lewe. Selfs in die donkerskadu’s van die lewe sal ons sy teenwoordigheid as Herder beleef. Sal ons Jesus Christus ervaar as ons goeie Herder (Joh 10).

Omdat Hy vir ons sorg sal ek en jy niks ontbreek of kortkom nie.

Ds. Maarten van Helden

Pinkstersondag

Vandag vier die Christelike Kerk regoor die wêreld Pinkstersondag. Dit is vyftig dae na die opstanding van Jesus Christus, en tien dae na sy hemelvaart.

Op hierdie dag dink ons na oor die sin, inhoud en betekenis van die Pinkstergebeure. Daar is by sommige gelowiges ‘n oortuiging dat die Pinkstergebeure weer en weer sal en moet plaasvind. So asof die Heilige Gees weer en weer uitgestort moet en kan word. Hulle glo dat elkeen sy eie Pinkster, dws sy eie uitstorting van die Heilige Gees, kan en moet beleef.

Dan is daar natuurlik die ongelowige mense wat meen dat die uitstorting van die Heilige Gees, Jesus se geboorte uit die maagd Maria, Jesus se kruisiging, sy opstanding en hemelvaart sommer net ‘n mite, ‘n storie is wat onwaar en onmoontlik is.

Ons leer egter uit die Woord van die Here dat hierdie gebeure ‘n vervulling was van God se beloftes wat al in die Ou Testament en deur Jesus Christus in die Nuwe Testament self belowe was.

In Handelinge 1:18 het Jesus Christus gesê dat die dissipels krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom. Verder word in Johannes aangedui dat Jesus self gesê het dat Hy weggaan, maar dat Hy hulle nie alleen sal laat nie. Hy het belowe dat Hy die Vader sal vra, en dat die Vader vir hulle die Voorspraak, die Gees van die waarheid sal stuur om altyd by hulle te wees.

Wat dus op Pinksterdag gebeur het, is God se belofte aan die dissipels en al die gelowiges oor die eeue heen. Die Heilige Gees het op ‘n sigbare wyse in gelowiges se lewens ingegryp om hulle te verseker dat God self altyd in hulle lewens ‘n werklikheid sal wees. Verder herinner die Pinkstergebeure ons daaraan dat die Heilige Gees in die gelowiges se lewens groot verandering, sekerheid en troos sal bring.

Van die Pinkstergebeure af, staan daar in Handelinge dat die gelowiges op die ware leer in Christus gefokus het, dat hulle die Woord van die Here verkondig het, dat hulle eensgesind was, dat hulle in gebede, in mededeelsaamheid, in liefde vir mekaar en in ondersteuning aan mekaar volhard het.

Die Woord van die Here dui verder ook aan dat niemand kan sê Jesus die Here is nie, behalwe deur die werk van die Heilige Gees. Galasiërs 5:25 sê verder: “Ons lewe deur die Gees, laat die Gees dan nou ook ons gedrag bepaal”. Kom laat ons dan, deur die werking van die Heilige Gees, lewe soos mense wat die Heilige Gees in hulle lewe ken en gehoorsaam. Die Heilige Gees stel ons immers in staat om die vrug van die Gees in ons lewens sigbaar te maak. Dit is byvoorbeeld die vrug van sagmoedigheid, liefde, geloof, vriendelikheid, vrede, geduld, getrouheid en selfbeheersing.

Mag jy wat glo dat die Heilige Gees op Pinkster uitgestort is, met oorgawe aanvaar en uitleef dat die Heilige Gees in ons lewens ‘n werklikheid is.

Ds Paul

God se Almag geopenbaar in sy Name!

Elke mens het ‘n naam. Ons weet gewoonlik nie wat ons name beteken nie tensy ons gaan navorsing doen daaroor. Sommige mense gee net mooi name aan kinders, ander familiename maar min mense gee name wat werklik die karakter van iemand beskryf.

God is so groot en Almagtig dat daar verskeie name is hoe God Homself aan ons openbaar. Ons kan nie praat van God se karakter nie, want God is volmaak en nie saamgestel uit kenmerke nie. Elke kenmerk van God is volledig Hy. ‘n Mens moet ook nie sy (Hebreeuse name) gebruik om daardeur “geleerd of gelowig” te wil klink nie. Gebruik God se name soos wat dit in jou taal vertaal is. Daar is nog baie ander name in Hebreeus en Grieks wat vir God, Vader Seun en Heilige Gees gebruik word.

Hier volg net ‘n paar Hebreeuse name:

EL, ELOAH: God “almagtig, sterk, allerhoogste” (Gen 7:1; Jes 9:6) ELOHIM: God “Skepper, almagtig en sterk” (Gen 17:7; Jer 31:33)

EL SHADDAI: “God Almagtig,” “magtige God van Jakob” (Gen 49:24; Ps 132:2,5) ADONAI: “Here” (Gen 15:2; Rigters 6:15) JHWH/JAHWEH/JEHOWA: “HERE” (Deut 6:4; Dan 9:14) – “Ek is wat Ek is” (Eks 3:14).

JAHWEH-JIREH: “Die Here voorsien” (Gen 22:14)

JAHWEH-RAPHA: “Ek, die Here wat julle gesond hou” (Eks 15:26) JAHWEH-NISSI: “Die Here gee my die oorwinning” (Eks 17:15),

JAHWEH-M’KADDESH: “Ek is die Here, Ek heilig julle aan My” (Lev 20:8; Eseg 37:28) JAWEH-SHALOM: “Die Here gee rus” (Rigters 6:24)

JAHWEH-ELOHIM: “Here God” (Gen 2:4; Ps 59:5)

JAHWEH-TSIDKENU: “Die Here verskaf reg aan ons” (Jer 33:16) JAHWEH-ROHI: “Die Here is my Herder” (Ps 23:1)

JAHWEH-SHAMMAH: “Die Here is daar” (Eseg 48:35) JAHWEH-SABAOTH: “Die Here vd leërskare” (Jes 1:24; Ps 46:7)

EL ELYON: “Allerhoogste” (Deut 26:19)

EL ROI: “U is ‘n God wat my sien” (Gen 16:13)

EL-OLAM: “Ewige God” (Ps 90:1-3) – God se natuur is sonder begin of einde, vry van alle tydsbeperkinge en Hy bevat in Homself die ware oorsaak van tyd. “Van ewigheid tot ewigheid is U God.” EL-GIBHOR: “Almagtige God” (Jes 9:6)

Bron: https://www.gotquestions.org/Afrikaans/God-name-van.html

« Older posts Newer posts »