Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 42 of 53)

ENGELSE DIENSTE BEGIN 7 JAAR GELEDE

Die volgende artikel het op 14 April 2013 in die Kommunikaatjie verskyn. Dit is dus nou presies 7 jaar aan die gang en dit met groot dank aan die Here vir alles wat ervaar, bereik en gedoen is. Die gemeente hoef géén twyfel te hê dat hierdie sewe jaar se werk ooit tevergeefs was nie. Die Here soek nie getalle om die werk te regverdig nie, maar alleen maar gehoorsaamheid aan Sy opdrag! Eendag sal ons terugkyk en weet wat sy ewige plan was met hierdie beskeie werk. Mag u steeds aanhou bid vir hierdie bediening, bekend as Alethea Outreach, en altyd onthou dat dit ten volle deel is van die totale bediening van die GK Centurion. En ja, kom maak so nou en dan ‘n draai en geniet dit om saam met Alethea te aanbid en te kuier (worship and fellowship).

NS: Alethea beteken “waarheid/truth”. Dit is ook die een straat se naam waar ons kerkgebou geleë is!

ENGELSE DIENSTE BEGIN

Daar is die mense wat deur die Here geroep is om vêr van huis te gaan en die evangelie aan die nasies in ander plekke en lande te gaan verkondig. Laat ons nooit ophou om sendelinge uit te stuur en te versorg met fisiese en geestelike ondersteuning nie.

Dit is egter so dat die Here die nasies nou tot op ons voorstoep gebring het. Selfs hier in Centurion en veral hier in die nabye omgewing van die kerk is daar ‘n groot verskeidenheid van mense uit alle tale en nasies! As ons dus nie ons roeping om aan hierdie nasies die evangelie te bring nakom nie, sal ons, ons roeping liederlik versuim. Ons kan nie net oor ons eie verlossing besorg wees en die evangelie vir onsself reserveer nie. Die Here sal ook hieroor van elke lidmaat van hierdie gemeente verantwoording eis.

Die Here het ons nou daartoe gelei om as gemeente met ‘n Engelse Uitreik te begin, wat as die Here wil, moontlik tot die stigting van ‘n nuwe gereformeerde Engelse gemeente kan lei. Hierdie aksie mag nie net van ‘n kommissie of sommige lidmate uitgaan nie. Dit is die uitreik van die hele gemeente aan mense van ander volke en tale en nasies! Gelukkig weet ons dat baie van hierdie mense, indien nie die meeste nie, ook Engels magtig is. Dus sal hierdie Engelse eredienste op hierdie mense gerig wees.

Dit word dus u elkeen se saak om hierdie bediening te ondersteun deur u liefde vir hierdie mense, u gebede vir die bediening en u hulp te gee waar nodig. Ons begin DV aanstaande Sondag die 21ste April om 11:00 met die eerste amptelike Engelse erediens hier in ons kerk-gebou. U kan oorweeg om dit self by te woon, maar ten minste om mense van alle volke tale en nasies na hierdie eredienste te nooi. Ons bede is dat die Here hierdie grootse poging om aan Sy opdrag gehoorsaam te wees, met Sy ryke seën sal bekroon en dat ons eersdaags die Here ook daarvoor sal kan dank.

Ds Maarten

Pandemie en geloof

Op 10 Maart 2020 het die WHO die Corona-epidemie tot pandemie verklaar. Mense word nou op verskeie maniere dramaties geïsoleer om die pandemie te probeer hokslaan. Vroeër jare het mense in tye van epidemies en rampe méér kerk toe gegaan. Meer gaan bid. Dalk selfs vir verkeerde of bygelowige redes, maar hulle het kerk toe gegaan in hoop op antwoorde en genesing. Nou praat ons selfs daarvan dat om kerk toe te gaan gevaarlik kan raak! Hoe kan die plek waar jy die God van lewe en dood gaan dien en verheerlik en loof en prys, nou vir ons vrees inhou? Skielik word mense en selfs gebiede en lande in isolasie (lockdown) geplaas uit vrees vir wat gebeur of wat aan die kom is. Selfs kerke fokus meer op voorkomingsmaatreëls en word hande nie meer geskud en ons deel nie meer die een beker nie.

Ons het verlede week uit die Skrif gehoor-gevra of ons dalk banger vir Covid-19 is as wat ons vir God is. Wie vrees ons werklik: Dit wat jou liggaam kan skaad of Hom wat jou siel kan verwerp in die ewige helse vuur!?

By ernstige siekte het Job op sy ashoop met sy God bly worstel. Hiskia in sy dodelike siekte draai na die muur en smeek sy God in sy nood. Paulus kom uiteindelik by sy doring in die vlees tot besef dat God se genade genoeg is. En Jakobus leer ons dat ons in siekte die ouderlinge moet inroep om vir die siekes te bid.

Isolasie van die virus is sekerlik een van die moontlike voorkomingsmaatreëls. Tog wonder ek so by myself wanneer laas het jy jouself so bietjie van die dinge om jou heen geïsoleer, sodat jy op God kon fokus? Veertien-dae afsondering of langer is dalk God se manier van om ons weer tot nadenke te dwing. ‘n Soort vastyd. ‘n Tyd waarin jy as op jou kop uitgooi en oor jou sondes nadink. ‘n Tyd vir doelbewuste heiliging (‘heilig’ beteken letterlik ‘afsonder’). Soos die getroue God en Vader altyd doen, gee hy die sondaarmens en sy wêreld genadetyd, bekeringstyd, want Hy wil dat almal hulle sal bekeer (2 Pt 3:9). Tyd waarin jy weer kan besef dat jy selfs die dood nie vrees nie want jou lewe is veilig geborge in God, vir ewig.

Vroeër het ons meer geestelike vrae gevra. Deesdae is alles gefokus op fiksheid, vitaliteit en viriliteit. God as hoogste goed en geestelike nadenke is minder relevant. Miskien is hierdie virale aanslag op ons vlees eintlik ‘n Goddelike genade handreiking na sy mens om geestelike tyd te maak en na te dink en terug te keer na dit wat ons werklik nodig het.

Ds Maarten

Bewaar die Woord!

Ons lees telkens in die briewe van Openbaring 2-3 hoe ons Here Jesus Christus kom besoek aflê by die gemeentes om te sien hoe hulle optree. “Ek ken jou werke…” weergalm die woorde. Op grond van hierdie getuienis is daar een van twee dinge wat gebeur: beloning of straf. Ons kan dit verder beskryf as seën of vloek.

Deurgaans word die behoud van die Woord, geloof en beloon. Dit is tot seën. Ons word verder in die apokalips gewaarsku teen verleiding en misleiding. Die onheilige drieheid van die duiwel, die antichris en die valse profeet sal alles moontlik doen om die kerk van Christus te vernietig.

In vandag se wêreld sien ons hierdie misleiding en verleiding baie duidelik veral in die digitale wêreld. Daar is beswaarlik ‘n huis in ons land sonder tv en selfs die armste mens het vandag ‘n selfoon wat kan “youtube” en “whatsapp” en “facebook”. Maar ongelukkig het hierdie wonderlike tegnologie en platforms ons lewe ingesluk sodat ons begin skade ly aan ons persoonlike verhoudinge.

Kinders weet nie meer om in die sand te speel nie, tieners kan nie ‘n behoorlike gesprek voer met ingeligte opinies nie, jong werkendes het nie meer tyd vir ‘n huisgesin nie ens, ens, maar almal kan “facebook” en “youtube”.

Die grootste probleem lê nie soseer by hierdie wonderlike tegnologie nie, maar die inhoud wat dit bevat. As gelowiges het ons ook nie altyd ‘n oplossing hoe om van hierdie wêreldse invloede te ontvlug nie. Dit oorweldig ons so dat ons skoon omsingel voel.

Daar is natuurlik altyd die bekende veg of vlug reaksies wat kan volg. Of ons moet vlug en onsself geheel en al uit hierdie wêreld onttrek. Ons moet asketies raak en op ‘n eiland sit en vergaan terwyl ons wag vir die wederkoms.

Of ons kan terugveg, met goeie en gebalanseerde lewens wat midde die wêreldse invloede steeds soos ‘n helder lig, ‘n baken in die duisternis die blye boodskap van die evangelie laat skitter.

Die Gereformeerde Kerk het pas die nuutste terugvegpoging aangewend in die vorm van glomedia.tv. Op hierdie intekenplatform kan ons kinders enige program kyk wat geestelik en opbouend is in Afrikaans. Daarby is ons in gesprek met rightnowmedia om hulle dienste ook te gebruik, wat slegs op hierdie stadium in Engels beskikbaar is en kinderprogramme bevat sowel as Bybelstudies.

Mag die Here ons die wysheid gee om in die vinnige veranderende wêreld nie verskrik en bevrees te wees vir al die verleidings en misleidings wat so oorweldigend kan wees nie, maar dat ons in die midde van al hierdie uitdagings Sy woord sal bewaar!

Ds Lourens

Rotteresies

Dit is of die lewe net al hoe vinniger en vinniger raak. Om by te bly raak al hoe moeiliker, want daar is nie genoeg tyd in die dag om alles te doen wat jy moet nie. Jy voel later soos ‘n rot in ‘n hok wat in ‘n plastiese wiel hardloop, al vinniger en vinniger en dit voel of jy op pad is na nêrens. Dit kan ‘n mens soms moedeloos maak. Dit kan soms maak dat jy nadink oor die sin van die lewe, die doel van die lewe. Is dit die moeite werd?

Prediker 2:26 lees ons dat alles is ‘n gejaag na wind, AS jy nie werk in afhanklikheid van God nie. Gaan sit ‘n bietjie rustig en bedink jou lewe. Wat is die doel van jou lewe? Wat wil jy bereik? As ‘n mens geluk najaag of rykdom of eer, is jy op die verkeerde pad. As jy werklik wil lewe tot eer van God in afhanklikheid van God, dan het jy die regte doel in jou lewe.

Die prioriteite in ons lewens moet reg wees. Prioriteite gaan oor die verhoudings in ons lewe. Om tot eer van God te lewe is om God eerste te stel in jou lewe. Daar is basies drie verhou-dinge in jou lewe en dit moet in ‘n bepaalde volgorde beskou word.

  • Eerstens jou verhouding met God.
  • Tweedens jou verhouding met jou man/vrou/kinders/naaste.
  • Derdens jou verhouding met jou werk.

As hierdie drie verhouding in plek is, dan is daar doel in jou lewe, is dit nie ‘n dolle gejaag na wind, ‘n rotteresies wat geen doel het nie.

Verbly jou in die Here en dien Hom in jou lewensbestaan, in jou verhouding met jou naaste en in jou werk. Moet nie jou werk eerste stel en daarvan ‘n afgod maak en jou man/vrou/ kinders/naaste afskeep nie. Stel God eerste en dien Hom en al die ander sake sal in plek val.

Pred 2:26

“Vir die mens met wie se lewe God tevrede is, gee Hy wysheid, kennis en blydskap. Maar die een met wie Hy nie tevrede is nie, kry die taak om op te gaar en bymekaar te maak en dit dan te gee aan een met wie God tevrede is. Ook hier kom dit dus tot niks. Dit is ‘n gejaag na wind.”

Ds Gerrit

2 MILJOEN BYBELS PROJEK

2 Kor 2:14 “Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ‘n aangename geur.”

Die doelstelling van die Bybelgenootskap van SA (BSA) is “om bekostigbare Bybels te voorsien vir elkeen in hul eie taal en in geskikte formate, sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar.”

Ter viering van die BSA se 200 jarige bestaan word R200m ingesamel om 2 miljoen stelle Bybels en Bybelgebaseerde geletterdheidboekies gratis aan mense beskikbaar stel wat dit nie kan bekostig nie.

GK Centurion het die 2020 Bybelprojek in Okt 2019 geloods met die doel om R100 000 in te samel en aan die einde van Feb 2020 is alreeds R60 000 aan die Bybelgenootskap oorbetaal. Ons loof en dank die Here daarvoor!

Ons wil u weer aanmoedig om die projek te ondersteun deur of kontant in die wit kassies (met die bogenoemde kenteken op) by die deure te gooi of in die GKC se rekening in te betaal met verwysing “Bybelgenootskap”.

Beywer julle veral deur prediking, Bybelstudie en doelgerigte gebed vir ‘n persoonlike verhouding met die Here, sodat Hy deur ons die kennis van Christus versprei en ons aktief deel sal wees van Sy triomftog. Beywer julle daarvoor dat die Here waarlik ‘n realiteit in julle lewe sal wees sodat watter bedrag julle ook al gee, dit sal wees uit ‘n blymoedige hart en uit ywer vir God se Koninkryk.

Hennie Dekker van die BSA gaan op 1 Maart na afloop van die aanddiens in die Geestelike Opbou met ons gesels oor die BSA se 200 jaar bestaan, werksaamhede en die 2 miljoen Bybelprojek.

Die Evangelisasiekommissie

Droomverlore

Wanneer ons jonk is, het ons baie drome oor die lewe. Klein kindertjies beleef hulleself in die wonderlikste fantasiewêrelde waar hulle seerowers en prinsesse kan wees. Hoe ouer ons egter word, hoe moeiliker word dit om te droom soos ‘n kind oor wat die lewe mag inhou.

Dit is veral wanneer ons begin om die realiteite van die lewe te ervaar, wat ons drome begin uitsterf en ons droomdroogtes beleef. Ja natuurlik is daar altyd iemand wat al hierdie groot drome het, en altyd nog groter droom al misluk al hulle pogings, maar hier bedoel ons eintlik die begeerte en verlange om in jou lewe iets te bereik wat van waarde is.

Elke mens droom daarvan om gelukkig te wees. Elke mens droom om deel van ‘n huisgesin te wees, om te behoort, om ‘n lewe vol betekenis te leef. Elke mens het drome, en begeertes van dit wat hulle graag in die lewe wil bereik.

Dit is juis daardie ambisie en hoop op die toekoms wat ons dryf en aanspoor. Dit is juis daardie droomvrou of droomman wat maak dat jy snags wakker lê en wag, of duisende kilometers sal ry net vir ‘n uur of twee saam. Dit is daardie droom van ‘n werk of besigheid wat jou nagte en dae besig hou en deurdruk om te realiseer.

En dan kom daar soms droomdiewe, wat in ‘n oomblik al jou drome aan skerwe laat spat en alles ontaard in ‘n nagmerrie. Daardie diagnose van die dokter dat jy terminaal is, of die uitslae wat wys dat jy nie kan kinders kry nie. Daardie brief van jou werkgewer dat jy afgelê gaan word, of die oproep wat jou skok oor die dood van ‘n familielid of vriend…

Jy wens eintlik dat jy net droom, dat dit ‘n nagmerrie was, maar helaas. Jou lewensdroom word ‘n verskrikking. In ‘n oomblik voel dit asof jou hele lewe betekenisloos en doelloos word. Jy word hopeloos en gee moed op. Jy wil nie meer nie, want jy kan nie meer nie. Jy is so moeg gestry en baklei dat jy wens dat hierdie nagmerrie net moet eindig!

Dit is juis hier waar die Blye Boodskap, die Evangelie ons weer nuwe moed gee, hoop gee. Nie dat die Here al ons probleme gaan laat verdwyn nie. Maar dat Hy in al hierdie bekommer-nisse en probleme ons sal bystaan.

Jesaja 41:10: “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.”

In al ons aanvegtinge kan ons op die Here bly vertrou. Moenie dat die wêreld se bekommernisse jou drome steel nie, maar rig jou hart op die koms van ons Bruidegom, ons Droomman. Laat jou hart bly word oor Hom, want Hy is getrou. Sy beloftes is nie net mooi wense nie, dit is ons blydskap en hoop!

Plaas jou lewensdrome in Sy hand, vertrou dat Sy wil sal geskied en jy sal nooit teleurgesteld wees nie.

Ds Lourens

« Older posts Newer posts »