Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Ander (Page 7 of 10)

Buite die kerk is daar geen saligheid nie 

Nederlandse Geloofsbelydenis art 28 
1 Joh 4:7-21 (20) 

“Dikwels sê mense in onderhoude dat hulle nog wel in God glo, maar geen erg meer aan die kerk het nie. Hulle wil deel wees van die sogenaamde ”kerk-lose” Christendom. Die kerk het vir hulle te veel sondes, binnegevegte, of is te streng en beperkend. Dis makliker om God te dien sonder ‘n kerk. 

Die NGB (Artiel 28) ontmasker die gesindheid agter sulke uitsprake. Dit bely dat niemand wat sy stand en status ook al is, hom in SELFTEVREDENHEID van hierdie vergadering afsydig mag hou nie”. Dis selftevredenheid wat agter afsydigheid van die kerk skuil. Hierdie selftevredenheid is inderwaarheid ‘n neersien op mede-gelowiges. Dit sê: “Ek is nie soos hulle nie. Ek het hulle nie nodig nie. Ek en God, ons sal allleen regkom, dankie.” 

In ons Skrifgedeelte wys Johannes dat so ‘n houding nie opgaan nie. “Wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, want hy nie kan sien nie” (20). Dis waar dat die kerk baie foute het. Kerkmense is allermins volmaakte mense. Dis ook waar dat geen kerk jou in die hemel sal bring nie. Maar, dis ‘n leuen dat jy God kan liefhê sonder om liefdevol by medegelowiges betrokke te wees. 

Die kerk is die plek waar die liefde van God ontvang en uitgedeel word. Elkeen wat so liefhet is ‘n kind van God en ken God (7). Dink jy werklik dat daar enige saligheid sonder hierdie liefde is? Begin dus vandag om die liefde wat God aan jou bewys het, in alle erns met medegelowiges te deel. Waar mens dit begin doen, word die heerlike wonder van kerkwees sigbaar!” 

Bron. Vergeer Wim. 2007. ‘n Vaste geloof. p.127 

Verootmoediging bring ons nader aan God 

Dit is ‘n noodsaaklikheid dat gelowiges God eer deur onsself nederig voor die aangesig van God te stel, om voor Hom neer te buig – om bereid te wees om verneder te word voor die kragtige hand van God. 

Waarom vorm verootmoediging so ‘n kerndeel van ons aanbidding tot God? 

In Jakobus 4:7-10 (2020) staan geskrywe: “Onderwerp julle dus aan God. Weerstaan die Duiwel, dan sal hy van julle wegvlug. Nader tot God, dan sal Hy tot julle nader. Reinig julle hande, sondaars, en suiwer julle harte, dubbelhartiges! Weeklaag en treur en huil! Laat julle lag in droefheid verander, en julle blydskap in somberheid. Verneder julle voor die Here, dan sal Hy julle verhoog”. 

Verder in 1 Petrus 5:6 (2020): “Daarom, verneder julle onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle op die regte tyd kan verhoog”. 

In tye van swaarkry en beproewing roep die kerk soms ‘n dag van verootmoediging. Alhoewel ‘n oproep van dié aard heeltemal geregverdig kan wees gegewe die konteks van sekere omstandighede, moet daar egter daarteen gewaak word om die beweegrede vir ‘n dag van verootmoediging te plaas buite ons eie geloofslewe. Daarom geskied dit onder leiding van die kerkrade. 

Verootmoediging is vanuit die staanspoor ‘n erkenning van ons eie menslike swakheid en sondige natuur. Dit is ‘n diep betekenisvolle proses is van gereedmaking om ontvanklik te wees vir die werking van Heilige Gees in ons lewe. 

Dit is daarom dat die Kerkraad, na aanleiding van ‘n onlangse versoek om ‘n Dag van Verootmoediging aan te kondig, besluit het om ‘n gebed vir die gemeente voor te hou in die lig van die diep krisisse wat die land en sy mense te staan kom. Verder dat ons as ‘n gemeenskap van gelowiges in aanbidding die betekenis van ootmoed deur prediking herontdek, en ons nederig voor die Here te stel. 

Deur ons te verootmoedig voor die Here stel ons ons hart en siel oop, sodat die Heilige Gees in ons kan meewerk om ons nader aan God kan wees. 

Gebed 

Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u Koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons skulde, soos ook ons hulle vergeef wat teenoor ons skuldig staan. En bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan u behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid” 

Ons Vader, daar is niks wat ons ontvang wat nie uit U hand kom nie, daar is ook niks wat ons ontvang wat nie uit genade van U is nie. Ons as gemeente is vanoggend bymekaar om U te dien, om u Naam te loof en prys, en ons afhanklikheid tot U te verklaar. 

Maar ons is ook hier om ons voor U te verootmoedig. Ons wil ons sondes voor U bely. 

Volgens Daniël 9:10ev wil ons bely… 

“10 Ons was nie altyd aan U, Here ons God, gehoorsaam nie… 

ons het nie altyd volgens u wil gelewe nie…” 

Ja, ook ons het oortree en gesondig. Daarom smeek ons om genade en vergifnis en uitkoms. Uitkoms nie tot ons eie voordeel alleen nie, maar dat ons uit diepe dankbaarheid U alleen sal dien en aanbid. 

Ons wil U van harte dien en eer en verheerlik.Mag u hierdie oggend, en in besonder by die bediening van u Woord, seën, dat ons harte ontvanklik daarvoor sal wees en dat die Heilige Gees by ons mag wees waar ons u konkinkryk verder uitbou. 

Here, ons bid tot U in uitdagende omstandighede waar dit voorkom of die swaarkry en onsekerheid, net te veel raak. Ons bid tot U vanweë die afvalligheid van mense en die aanslag wat op u Woord is. 

Stoflik is daar ‘n algehele verval van openbare infrastruktuur, misdaad op onaanvaarbare vlakke, onverantwoordbare leierskap, die misbruik van mag, die voortslepende kragkrisis, ‘n kwynende ekonomie, onvolhoubare sosio-ekonomiese omstandighede van armes en werkloses – die lys kan aangaan. Here, dit voel asof ons uitgelewer is aan al die elemente. Al hierdie omstandighede bring verskeie beproewinge mee. 

En geestelik, Here, weet ons ook die aanslag op die Kerk en op u Woord, is nog groter – en dit kom vanuit die mens se ongehoorsaamheid aan U. U Naam word ydelik gebruik, beswadder en bespot – die beskouing van die mens asof ons in beheer is, en as die bepaler van goed en kwaad, as foutloos en sondeloos, vier hoogty. Die sondige tendens is besig om al meer momentum in die wêreld te verkry .

Here, ons draai juis daarom as ‘n gemeente na u toe U is ‘n God van liefde en
genade, u oordeel is regverdig. Ons bid daarvoor Here, dat:
• Vir die huisgesin: Mag U, u hand van beskerming oor elke huisgesin plaas, mag die
man en vrou hul unieke rol soos u in u Woord vir ons leer, nakom. Ons bid vir die
welstand van kinders, sodat kinders onderrig mag word in u Woord. Sonder kennis
van u Woord, en sonder die werking van die Heilige Gees in elkeen, sal die
uitdagings van die tyd ondraagbaar wees.
• Vir die gemeente: Ons dank u vir die groot seën in ons gemeente, vir broers en
susters wat ywerig werk om u Woord te verkondig, dat ons gemeente deel vorm van
die gemeenskap van gelowiges. Ons dank U dat u vir die gemeente so goed
voorsien en bid, gee volharding in geloof vir elkeen.
Ons Almagtige God, ons bely ons swakhede en sondes voor U en bid vir vergifnis.
Ons bid vir versterking deur die Heilige Gees omdat ons weet óns hoop is in ons
Hemelse Vader wat die hemele en die aarde geskep is, en in u Seun Jesus Christus
ons Here.
Ons bid dat ons oë op u gerig sal bly, dat ons gemoed nie deur stoflike sake afgetakel
word afvallig word in ons geloofslewe nie.
Ons bid dit in die Naam van ons Here Jesus Christus
AMEN.

Dag van verootmoeding – GKSA – 18 Junie 2023
Oudl Werner Human 

Die vrug van jou arbeid 

Ps 128 

Ons helmelse Vader en sy Seun druk ons dit op die hart om God lief te hê met, onder andre, al ons kragte. Liefde vir God is dus nie net ‘n gevoel in die hart of ‘’n vlugtige gedagte nie. Ons liefde vir God word ook gesien in die wyse waarop ons ons werk doen. 

Die Here maak ‘n belofte aan sy mense: Die vrug van jou arbeid sal jy geniet. Arbeid word nie gekwalifiseer nie. Dit wil sê. Die gelowige sal die vrug geniet van alles wat hy doen. Maar daar is ‘n voorwaarde aan hierdie belofte. Die voorwaarde is opgeneem in die eis wat die Here stel: Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien en sy wil doen. 

Wie dus al sy werk binne en buite die huis – ‘n groot taak of sommer net ‘n stukkie sleurwerk – doen met die wete dat hy die Here daarmee dien, en hy doen dit soos die Here en nie vir mense nie, sal die vrug van sy arbeid geniet. Die mens wat sy arbeid sien as ‘n gelowige antwoord op die Here se genade, wil sy werk so doen. 

Gelowiges weet immers dat hulle werk alleen maar ‘n antwoord kan wees op God se werk. Omdat God Hom in Christus oor ons ontferm het en barmhartigheid aan ons bewys het, wil ons dankie sê. Ons arbeid is deel van ons dankie sê en ons doen dit soos vir die Here, want Christus het sy Vader se wil uitgevoer toe Hy ons – die uitverkorenes – deur sy soendood gered het. 

Ons aan wie die Heilige Gees die geloof gee, is die vrug van sy arbeid wat Hy geniet – ons loof en prys Hom en sy Vader. 

Geneem uit die Almanak 2013 (Ds CCA Vrey) 

90 JAAR VAN DIE BYBEL IN AFRIKAANS

Ons vier vanjaar die 90ste herdenking van die Bybel in Afrikaans.
Die eerste Afrikaanse Bybel is in 1933 gepubliseer
“Op 29 Mei 1933 seil die Carnavon Castle die Tafelbaai binne met die eerste besending van 10 000 eksemplare van die Afrikaanse Bybel aan boord. Hierdie eerste volledige Afrikaanse Bybel is op Sondag 27 Augustus 1933 landswyd feestelik in gebruik geneem.” – Bybelgenootskap van Suid Afrika. Genade in Oorvloed, 1994.
Sedertdien het daar nog drie vertalings van die Bybel in Afrikaans – die 1983, die Bybel vir dowes/Bybel vir Almal en die 2020—vertaling – die lig gesien. Hierdie Bybels is ook in verskillende formate soos druk, braile, oudio en digitaal beskikbaar.
Die verskyning van die Bybel in Afrikaans het grootliks tot die ontwikkeling van Afrikaans as taal bygedra maar nog meer belangrik, tot die geloofsvorming van baie Afrikaanssprekendes.
Wat ‘n groot wonder om die Woord van God in jou eie moedertaal te lees. Ons dank die Here vir hierdie gawes.
Mag een en elk van ons met groot en groter waardering die Bybel in ons lewe lees, en toepas. Skerp dit by jou kinders in en praat daaroor elke dag en soveel as moontlik.
“U Woord is die lamp vir my voet en die lig vir my pad.” Ps 119:105
Soli Deo Gloria

God se grense vir die lewe en die huwelik

Deut 22:5: ‘n Vrou mag nie mansklere dra nie, en ‘n man mag nie vrouensklere aantrek nie, Die Here het ‘n afsku van mense wat dit doen 

Moses pas die beginsel van die respek vir die lewe en die respek vir die grense wat God stel toe op verskeie sake. (Deut 22:1-30) 

  • Uit respek vir diere en hulle eienaars help ‘n mens verdwaalde diere, selfs al is hulle nie jou eie nie: “Jy mag jou nie blind hou nie”! Jy mag nie onverskillig staan nie. Jy moet jou naaste help, selfs al ken jy hom nie! Jy tel ook die diere van jou naaste op wat geval het. 
  • Uit respek vir die ander geslag trek mans en vrouens nie dieselfde aan nie. Transvestisisme word hiermee afgewys, ook homoseksuele gedrag, hoewel die presiese kleredrag nie gespesifiseer word nie en die Hebreeuse woord ook wa-pens en ander manlike gebruiksartikels kon insluit. Dit is nie asof daar iets inherent verkeerd is met die dra van spesifieke klere of gebruiksartikels nie. Dit is doodgewoon ‘n grens wat God gestel het tussen mans en vroue wat sosiaal ook in kleredrag respekteer moet word. 
  • Uit respek vir die voortbestaan van wilde diere word wyfievoëls beskerm sodat daar nóg kleintjies gebore kan word. 
  • Uit respek vir jou gaste sorg jy dat daar veiligheidsreëlings by jou huis aangebring word, sodat hulle nie per ongeluk afval van die kuierplek op die platdakhuise nie. 
  • Uit respek vir die oneweredige krag van ‘n bees en ‘n donkie mag hulle nie saam as trekdiere ingespan word nie. 

‘n Vrou wat vóór haar huwelik reeds geslagsgemeenskap gehad het, het die gevaar geloop om nie net ‘n slegte naam te kry nie, maar gestenig te word. Voorhuwelikse seks was doodgewoon ‘n ongehoorde ding in Israel. 

Geneem uit skrywe van Chris van Wyk: ( https://truthinmotion.wordpress.com ) 

Iets rondom die Gereformeerde Kerk Elandskraal…

`n Pragtige gemeente aan die hange van die Magaliesberg. Die kerkgebou is gebou op die plaas, Elandskraal, na afstigting met Rustenburg (Vandaar die naam ‘Elandskraal’, nie ‘Mooinooi’ nie. Die plattelandse dorpie het eers later rondom die kerk en skool ontwikkel). Aanvanklik was dit `n sterk boerderygemeenskap, maar met die koms van die myne, het die omgewing al meer na `n myngemeenskap omvorm. Toerisme vorm ook `n gedeelte van die omgewing se ekonomie, met die bekende ATKV Buffelspoort, ‘n paar kilometer daarvandaan. 

Tans bestaan die gemeente uit 154 belydende lidmate en 56 dooplidmate. Meeste lidmate is op 1 van die 3 myne werksaam (veral by die myngroep, Sibanye), met nog net ‘n handjie vol boere (lett.) en enkele lidmate wat in groter omliggende stede werksaam is. Wat die gemeenteprofiel betref, is daar ‘n redelik eweredige verspreiding van lidmate tussen die verskillende ouderdomsgroepe. 

Die laaste tien jaar het die gemeenskap baie moeilike tye ervaar: 3 geweldadige stakings in 2012, 2014 en 2016, met allerlei herstrukturerings en afleggings as die direkte gevolg daarvan. Met Sibanye se oorkoop van Lonmin is sommige se posvlakke afwaarts aangepas en salarisse besnoei. Al hierdie verwikkelinge het ‘n geweldige impak op die gemeenskap, en ook op ons gemeente gehad (veral in lidmaattal). Tog was en is die genade van die Here groot deurdat Hy ons in alles en deur alles tot sover gedra het en nog sal dra. Ongelukkig het hierdie krisisse ook sy skadukant met allerlei sosiale probleme soos werkloosheid, drank- en dwelmmisbruik en gebroke huisgesinne. Tans dra die diakonie by tot die salaris van `n maatskaplike werker om die nood te help aanspreek, aangesien meeste mense dit nie kan bekostig om na stede te gaan vir hulp nie. 

Covid het natuurlik ook sy tol geëis. Maar met die genade van Bo kon ons afsluit met ‘n lekker “Bosveld-ete” vir die gemeente en gemeenskap. Ons kon die jaar ook begin met ‘n paar lekker aksies vir die jeug. Die gemeente het ‘n baie hegte en betrokke bejaarde groep wat voor covid, gereeld bymekaar gekom het. Dit bly steeds die gemeente se roeping om ‘n lig en sout te wees wat die hoop en genesing wat Christus bring, aan ons omgewing uit te dra. 

Ietsie oor die predikantsgesin… Ekself, het opgegroei in die Noorde van Pretoria, te Sinoville/Magalieskruin. Vandaar, Potch toe, waar ek gestudeer en my Spreukevrou, Christa, ontmoet het. Sy het in Lichtenburg gematrikuleer en is tans by Sasko-Brits werksaam as rekenmeester. Ons eerste gemeente was Bethal waar ons bedien het van 2004-2008. Daarna, na Komatipoort van 2008-2012 en van 2012 tot op hede, werk ons in Mooinooi. Die Here het ons geseën met 2 seuns, Jano(15) en Handre(13), beide leerlinge aan die Hoërskool Brits. Hulle doen graag atletiek, speel hokkie en krieket. As gesin is ons lief vir die natuur en as `n geleentheid hom voordoen, geniet ons dit om Drakensberge toe te gaan. Dis ons lewe om die Here te dien en dis vir ons lekker om dit saam met ander gelowiges te doen. Baie dankie vir die voorreg om die Woord en sakrament van ons Here aan u te bedien. 

Ds Nelius van Rooy 

« Older posts Newer posts »