Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Ander (Page 8 of 11)

90 JAAR VAN DIE BYBEL IN AFRIKAANS

Ons vier vanjaar die 90ste herdenking van die Bybel in Afrikaans.
Die eerste Afrikaanse Bybel is in 1933 gepubliseer
“Op 29 Mei 1933 seil die Carnavon Castle die Tafelbaai binne met die eerste besending van 10 000 eksemplare van die Afrikaanse Bybel aan boord. Hierdie eerste volledige Afrikaanse Bybel is op Sondag 27 Augustus 1933 landswyd feestelik in gebruik geneem.” – Bybelgenootskap van Suid Afrika. Genade in Oorvloed, 1994.
Sedertdien het daar nog drie vertalings van die Bybel in Afrikaans – die 1983, die Bybel vir dowes/Bybel vir Almal en die 2020—vertaling – die lig gesien. Hierdie Bybels is ook in verskillende formate soos druk, braile, oudio en digitaal beskikbaar.
Die verskyning van die Bybel in Afrikaans het grootliks tot die ontwikkeling van Afrikaans as taal bygedra maar nog meer belangrik, tot die geloofsvorming van baie Afrikaanssprekendes.
Wat ‘n groot wonder om die Woord van God in jou eie moedertaal te lees. Ons dank die Here vir hierdie gawes.
Mag een en elk van ons met groot en groter waardering die Bybel in ons lewe lees, en toepas. Skerp dit by jou kinders in en praat daaroor elke dag en soveel as moontlik.
“U Woord is die lamp vir my voet en die lig vir my pad.” Ps 119:105
Soli Deo Gloria

God se grense vir die lewe en die huwelik

Deut 22:5: ‘n Vrou mag nie mansklere dra nie, en ‘n man mag nie vrouensklere aantrek nie, Die Here het ‘n afsku van mense wat dit doen 

Moses pas die beginsel van die respek vir die lewe en die respek vir die grense wat God stel toe op verskeie sake. (Deut 22:1-30) 

  • Uit respek vir diere en hulle eienaars help ‘n mens verdwaalde diere, selfs al is hulle nie jou eie nie: “Jy mag jou nie blind hou nie”! Jy mag nie onverskillig staan nie. Jy moet jou naaste help, selfs al ken jy hom nie! Jy tel ook die diere van jou naaste op wat geval het. 
  • Uit respek vir die ander geslag trek mans en vrouens nie dieselfde aan nie. Transvestisisme word hiermee afgewys, ook homoseksuele gedrag, hoewel die presiese kleredrag nie gespesifiseer word nie en die Hebreeuse woord ook wa-pens en ander manlike gebruiksartikels kon insluit. Dit is nie asof daar iets inherent verkeerd is met die dra van spesifieke klere of gebruiksartikels nie. Dit is doodgewoon ‘n grens wat God gestel het tussen mans en vroue wat sosiaal ook in kleredrag respekteer moet word. 
  • Uit respek vir die voortbestaan van wilde diere word wyfievoëls beskerm sodat daar nóg kleintjies gebore kan word. 
  • Uit respek vir jou gaste sorg jy dat daar veiligheidsreëlings by jou huis aangebring word, sodat hulle nie per ongeluk afval van die kuierplek op die platdakhuise nie. 
  • Uit respek vir die oneweredige krag van ‘n bees en ‘n donkie mag hulle nie saam as trekdiere ingespan word nie. 

‘n Vrou wat vóór haar huwelik reeds geslagsgemeenskap gehad het, het die gevaar geloop om nie net ‘n slegte naam te kry nie, maar gestenig te word. Voorhuwelikse seks was doodgewoon ‘n ongehoorde ding in Israel. 

Geneem uit skrywe van Chris van Wyk: ( https://truthinmotion.wordpress.com ) 

Iets rondom die Gereformeerde Kerk Elandskraal…

`n Pragtige gemeente aan die hange van die Magaliesberg. Die kerkgebou is gebou op die plaas, Elandskraal, na afstigting met Rustenburg (Vandaar die naam ‘Elandskraal’, nie ‘Mooinooi’ nie. Die plattelandse dorpie het eers later rondom die kerk en skool ontwikkel). Aanvanklik was dit `n sterk boerderygemeenskap, maar met die koms van die myne, het die omgewing al meer na `n myngemeenskap omvorm. Toerisme vorm ook `n gedeelte van die omgewing se ekonomie, met die bekende ATKV Buffelspoort, ‘n paar kilometer daarvandaan. 

Tans bestaan die gemeente uit 154 belydende lidmate en 56 dooplidmate. Meeste lidmate is op 1 van die 3 myne werksaam (veral by die myngroep, Sibanye), met nog net ‘n handjie vol boere (lett.) en enkele lidmate wat in groter omliggende stede werksaam is. Wat die gemeenteprofiel betref, is daar ‘n redelik eweredige verspreiding van lidmate tussen die verskillende ouderdomsgroepe. 

Die laaste tien jaar het die gemeenskap baie moeilike tye ervaar: 3 geweldadige stakings in 2012, 2014 en 2016, met allerlei herstrukturerings en afleggings as die direkte gevolg daarvan. Met Sibanye se oorkoop van Lonmin is sommige se posvlakke afwaarts aangepas en salarisse besnoei. Al hierdie verwikkelinge het ‘n geweldige impak op die gemeenskap, en ook op ons gemeente gehad (veral in lidmaattal). Tog was en is die genade van die Here groot deurdat Hy ons in alles en deur alles tot sover gedra het en nog sal dra. Ongelukkig het hierdie krisisse ook sy skadukant met allerlei sosiale probleme soos werkloosheid, drank- en dwelmmisbruik en gebroke huisgesinne. Tans dra die diakonie by tot die salaris van `n maatskaplike werker om die nood te help aanspreek, aangesien meeste mense dit nie kan bekostig om na stede te gaan vir hulp nie. 

Covid het natuurlik ook sy tol geëis. Maar met die genade van Bo kon ons afsluit met ‘n lekker “Bosveld-ete” vir die gemeente en gemeenskap. Ons kon die jaar ook begin met ‘n paar lekker aksies vir die jeug. Die gemeente het ‘n baie hegte en betrokke bejaarde groep wat voor covid, gereeld bymekaar gekom het. Dit bly steeds die gemeente se roeping om ‘n lig en sout te wees wat die hoop en genesing wat Christus bring, aan ons omgewing uit te dra. 

Ietsie oor die predikantsgesin… Ekself, het opgegroei in die Noorde van Pretoria, te Sinoville/Magalieskruin. Vandaar, Potch toe, waar ek gestudeer en my Spreukevrou, Christa, ontmoet het. Sy het in Lichtenburg gematrikuleer en is tans by Sasko-Brits werksaam as rekenmeester. Ons eerste gemeente was Bethal waar ons bedien het van 2004-2008. Daarna, na Komatipoort van 2008-2012 en van 2012 tot op hede, werk ons in Mooinooi. Die Here het ons geseën met 2 seuns, Jano(15) en Handre(13), beide leerlinge aan die Hoërskool Brits. Hulle doen graag atletiek, speel hokkie en krieket. As gesin is ons lief vir die natuur en as `n geleentheid hom voordoen, geniet ons dit om Drakensberge toe te gaan. Dis ons lewe om die Here te dien en dis vir ons lekker om dit saam met ander gelowiges te doen. Baie dankie vir die voorreg om die Woord en sakrament van ons Here aan u te bedien. 

Ds Nelius van Rooy 

“Nie in die wit paleise”

– NP Van Wyk Louw 

Nie in die wit paleise nie
wou Hy (uit soewereine wil)
tot ons soort staat gebore word;
maar, waar die Kuise en die Arme stil
en buite die hotel se poort
verniet loseer het in die stal,
het Hy, Visarendjie van God,
in ons benoude vlees geval.
Die eerste oë wat Hom sien,
was skaapwagters vol strooi en stof;
kras manne wat in skerms woon
en ruik na bok en rook en mof;
ná baie dwaal en baie soek
en selfs digby Herodes vra! –
kom eindelik die Wyses tóg
met goud en wierook agterna.


Hy het sy eerste kern gekies
nie uit geleerdes in die Skrif
of dié wat hande en borde was
met koue voorgeskrewe drif;
maar vissers en ‘n tollenaar
die ‘t Hy geroep met sagte groet:
manne met harde hande en sweet
en eelte, en ‘n oop gemoed.


En toe Hy sy groot net uit laat gooi
regs van die boot en links en regs,
het Hy ingesleep: ‘n vreemde prooi –
‘n visvangs soos die óú Wet slegs
in skaam vermoede kon vermoed – :
melaats, besete, ryk of klein;
sondaars van elke kleur en geur,
maar in sy glimlag, skielik: rein.”

« Older posts Newer posts »