Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 94 of 343)

Soos die slang verhoog is in die woestyn 

Skriflesing: Numeri 21:1-10, Johannes 3:1-21(2020)
Teksvers: Johannes 3 Vers 13-15
HK: Sondag 18

Nie net staan ons Here Jesus op uit die dood om daarmee die dood en die mag van die Satan volkome te verbreek nie. (HK So 17) Hy vaar ook op na die hemel. 

Elke jaar vier ons die hemelvaart op die 40ste dag na die Paasfees. Wat beteken hierdie verhoging van ons Here Jesus Christus? 

Hy self verklaar dit aan Nikodemus aan die hand van die gebeurtenis uit Numeri 21…soos die slang verhoog is in die woestyn. 

Die liturgie: Die opneem van ons liefdesgawes 

Skriflesing: II Samuel 9 lees ook II Sam 4 en 5 (1983)
Teksvers: II Sam 9 vers 13

Ons kom immers nie na die Nagmaal omdat ons onsself sondeloos of volmaak ag nie, maar omdat ons, ons saligheid buite onsself in Christus soek. Daarom kan ons seker wees dat God ons in genade aanneem en waardig maak om deel te hê aan die hemelse spys en drank… so lees (vir my) die mooiste sin in die Nagmaalsformulier! 

So moes die arme Mefiboset ook maar gevoel het toe hy met vrees en bewing na die paleis van koning Dawid gegaan het en tot sy verbasing aan die koning se tafel kon aansit… elke dag! En dit nogal dieselfde Dawid wat nie juis ooghare gehad het vir die kreupeles nie (I Sam 5:6-8). So bewys God se genade aan sy kinders en dit teen alle verwagting in! 

JY IS UITGENOOI

As die Here wil vier ons aanstaande Sondag weer die Heilige Nagmaal van die Here om sy dood vir ons en ons sondes te gedenk. Die Here wil ons deur die sigbare herdenking van sy kruisdood versterk in die wete en sekerheid dat Hy volkome versoening gedoen het vir al ons sondes. 

Die Nagmaal is dus nie vir sondelose mense nie! Die Nagmaal is vir sondaars, met die voorwaarde dat dié sondaars werklik in Jesus Christius glo en hulle sondes bely, sodat hulle deur die Vader vergifnis kry omdat Jesus daarvoor betaal en geserf het. 

Die Nagmaal is dus vir sondaars soos ek en jy. Die Here Jesus het hierdie herdenkingsmaaltyd in gestel om ons langs die pad van die geloof te help en alle twyfel weg te ruim. So seker as wat jy die brood eet en die wyn drink… so seker het Hy Homself vir jou en my geoffer. Vir sondaars. Soos ons. Soos jou verloofring getuig dat jy binnekort gaan trou. Soos jou troupand bewys dat iemand is wat jou onvoorwaardelik liefhet. So is die sakramente van Doop en Nagmaal Christus se bevestiging en herinnering dat wat Hy gedoen het en in sy Woord beloof het, alles werklik waar is. 

Jy is dus as kind van die Here genooi na sy verbondstafel. Genooi om saam met Hom aan te sit, al verdien ons dit nie eintlik nie. Uitgenooi om fees te vier omdat die Vader jou en my ons verskriklike sondes nie meer wil en gaan toereken nie. 

Jy is genooi om volgende week saam met die broers en susters van jou gemeente te kom en aan te sit aan sy tafel en versterk te word in die geloof. Mag die Here jou (en ons elkeen) deur sy Heilige Gees bystaan om onsself geestelik voor te berei vir hierdie besondere geleentheid. Sien weer volgende Sondag! 

Ds Maarten 

Nie tevergeefs nie! 

Skriflesing:1 Kor 15 (1983) 
Teksvers:1 Kor 15:1,14,58 
HK: Sondag 17 

In ons tyd is die aanslag teen die kerk van Christus veral gerig op die waarheid van die Woord. Die gewoon historiese waarheid. So ook die vraag of Jesus werklik uit die graf opgestaan het. Verskeie argumente word gewoonlik tot vervelens toe geopper. 

Die interessante van die Woord is dat dit al in Paulus se dae ‘n vraag was, en dat Paulus nie die historiese bevraagteken nie, (wel eenvoudig bewys), maar dat hy wel daaroor bekommerd is of ons dit werklik wel glo. Daarsonder is alles, ook jou geloof totaal tevergeefs. 

« Older posts Newer posts »