Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 93 of 343)

Wedergeboorte 

’n Voorsmaak van die wederkoms! 

Hoe weet jy dat jy die ewige lewe het? Omdat jy gereeld eredienste bywoon, of dankoffers gee, of nie skinder of steel nie? Omdat jy ’n goeie lewe probeer lei? 

Jesus maak met die gelykenis van die jongman dit duidelik dat ’n mens nie die ewige lewe kan kry op grond van jou goeie dade nie. Jy kan nie die ewige lewe verdien omdat jy gebooie nakom soos die ryk jongman gedoen het nie. Jy kan ook nie die ewige lewe kry omdat jy baie vir God opoffer en Hom volg nie, soos die dissipels gedoen het. Die dissipels was, tipies menslik, ontsteld dat God nie hulle dade in ag neem om die ewige lewe aan hulle te skenk nie. Ons Here Jesus verduidelik God se genade wanneer Hy dit duidelik maak dat God se genade ver bokant ons menslike manier van redeneer uitgaan. Jesus verseker sy dissipels daarvan dat wanneer Hy Self op sy glansryke troon sit, hulle ook op trone sal sit. Hulle sal deel hê in die belangrike taak wat Jesus van sy troon af uitvoer. 

Wanneer gebeur dit? Wanneer alles nuut gemaak, as’t ware weergebore, word. ’n Nuwe bedeling breek dan aan. 

Ons kry hier ’n voorsmakie van dit wat gelowiges met Jesus se wederkoms kan verwag wanneer Hy alles herskep. Ten spyte daarvan dat ons goeie dade nie help om die ewige lewe aan ons te verseker nie, plaas God ons in ’n hoër posisie as wat ons selfs voor die sondeval gehad het. Dit doen Hy deur ons Here Jesus wat ons skuld ten volle vereffen het. Die proses om deel te hê aan die ewige lewe het reeds begin. Iemand wat deur God se Gees wedergebore is, kan uitsien na ’n plek in God se koninkryk wat baie heerliker is as wat ons onsself kan indink. 

Ds. EJ de Beer (Edmund) (Laeveld) Uittreksel uit: Almanak 2023 (Sondag 22 Oktober 2023) 

Die hemele geopend 

Skriflesing: Esegiël 1:1-3;(2020); Handelinge 7:44-61
Teksvers: Handelinge 7:55-56
HK: Sondag 19

Die dieptepunt van ons belydenis handel oor die lyding van Christus, maar die hoogtepunt van ons belydenis gaan oor die verhoging van ons Middelaar aan die regterhand van ons hemelse Vader, vanwaar Hy weer sal kom as Regter om te oordeel. 

Daar is egter iets geweldig belangrik wat ons moet verstaan met betrekking tot hierdie koms van ons Here uit die hemele en sy terugkeer daarheen. Ons staan vanaand by die Nagmaal stil rakende die hemele wat geopen is. 

Die liturgie: Geseënd oppad! 

Skriflesing: Ps 134 (1983); I Kron 9:33 en 23:30; Num 6:22-27
Teksvers: Psalm 134

Ons sluit vandag die reeksprediking oor die Liturgie van ons Eredienste af met die die laaste moment voordat ons weer oppad is huistoe: Ons gaan geseënd hiervandaan. 

Reeds vroeg in die die Bybel lees ons dat die Here die opdrag aan Aäron gee om as priester die volk namens God self te seën (Num 6:22-27). Die geroepe en bevestigde dienaars van die Here het dus die groot voorreg en verantwoordelikheid om dit gereeld te doen. So stuur die liturgie ons elke Sondag weg onder die seënende hand van die Here. 

Dit is dus nodig dat u weer die praktyk om op hierdie stadium van die liturgie u oë biddend te sluit sal heroorweeg. Die priester-leraar staan voor u met sy hande omhoog en spreek die seën oor u uit in die Naam van die Almagtige en Drie-Enige God van die hemel en aarde. Dit is nie ‘n gebed nie. U is dus veronderstel om aan hierdie simboliese handeling deel te neem deur op te kyk en die seën te ontvang. (Hier is geen voorskrif nie, maar miskien moet u hierdie wonderlike oomblik van ons liturgie net weer ernstig oordink ). 

Vita est Adoratio 

Die lewe is aanbidding 

Ons maak baie graag die onderskeid tussen teorie en praktyk. Dit was egter nie van altyd af so nie. In die Griekse filosofie het theoria nie ten doel gehad om bloot feite te stipuleer nie, maar eerder die nadenke, die oordenking van die ware betekenis van die bestaan van die lewe. Dit het gesoek na die hoogste vorm van kennis en wysheid oor bestaan. 

Hiervoor is die woord filosofie gebruik. Dit is filos – liefde, en sofos – verhewe kennis of wysheid. Hierdie liefde vir die verhewe kennis was nie verwyder van die wyse waarop jy leef nie, inteendeel, jou filosofie het jou lewenswyse bepaal en beïnvloed. 

Daarteenoor was episteme, of bestaan nie die wetenskap of vasstel van iets wat jy doen los van jou theoria nie. Net soos ‘n musikant leef vir musiek, of ‘n wiskundige leef vir wiskunde, kan ons geloof nie losgemaak word van ons aanbidding van die enige ware God nie. 

Ons leef egter nie deur filosofie nie, want Christus self is die wysheid van God. In God se Woord vind ons die hoogste vorm van kennis en wysheid. Christus is die selfopenbaring van God se liefde, sodat ons Hom mag ken en in gemeenskap met Hom mag leef. 

Daarom kan ‘n Christen nie los van Christus leef as teorie en praktyk nie. Vir die Christen is Christus self die lewe. Hy word die Alfa en die Omega. Hy word die doel van jou bestaan en dit waarvoor jy leef. 

So word jou lewensfilosofie die wyse waarop jy jou wetenskap (lees beroep) beoefen. Dit is nie teorie en praktyk nie, maar eerder wysheid wat jy uitleef deur aanbidding in jou hele bestaan. 

Vandag vier ons die Nagmaal. Ons gedenk en glo dat Christus ons Bron en Doel is: Uit Hom en Deur Hom en Tot Hom is alle dinge. Hy versterk ons geloof en gee ons nuwe moed sodat ons kan volhard. 

Hy is ons Rots, die fondament, die Theoria, waarop ons lewe gebou word. Deur sy Woord kan ons nadink oor die ware betekenis van die lewe en dit uitleef as ‘n lewe van aanbidding – Vita est adoratio – die lewe is aanbidding! 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »