Skrywer: admin (Page 77 of 343)
Skriflesing: Mattheus 27:32-54; Hebreërs 10:1-25 (1953)
Teksvers: Mattheus 27:50-51a
Die doel van die kruisiging word vir ons geopenbaar toe God self die voorhangsel na die allerheiligste skeur. Die doel was dat ons toegang mag hê tot onse God. Ons Here Jesus Christus is die vervulling van die skadu’s van die tempel. Hy is vir ons verskeur, sodat ons deur Hom kan gaan na ons Vader.
Ons het die opdrag om nou te leef in die teenwoordigheid van God die Heilige Gees, in die allerheiligste. Daar kan ons leef sonder vrees en met groot vrymoedigheid, omdat ons gereinig is in Christus se bloed.
Skriflesing: 1 Samuel 16 (2020)
Teksvers: 1 Samuel 16:7
As mense is ons geneig om met die eerste oog opslag ‘n opinie te vorm.
Sommige mense maak onmiddellik ‘n indruk op ons met hoe hulle lyk. Hierdie indruk is egter nie altyd ‘n getroue weerspieëling van die werklikheid nie.
Samuel kry die opdrag om na Isai se huis te gaan om ‘n nuwe koning te salf, en met sy eerste indruk van Eliab, dink hy hier staan die nuwe koning.
Maar die HERE kyk anders as mense.
Skriflesing: Deut 5:12-15 (1983)
Teksvers: Deut 5:15
Moses herhaal die Wet of Tien Gebooie hier aan die nuwe geslag wat in die woestyn oorleef het. Hulle moet nadink oor waar hulle vandaan kom.
As ons vandag deur Woord (ore) en Sakrament (oë) herinner word aan ons afkoms en verlede, dan behoort dit ons te bring by ware aanbidding.
Miskien moet ons ons net weer bekeer oor watter plek die Sondag in ons lewe en weeklikse roetine inneem, sodat ons nie fokus verloor deur al die ander wêreldse aanbiedinge op Sondae nie.
Skriflesing: Jes 55:1-13 (1983)
Teksvers: Jes 55:1-5; Open 22:17
Goeie nuus vir ons almal vanmôre, vir sondaars en verlorenes, vir alle volke, alle nasies en alle tale, vir verloste sondaars!
Jes 55:1: “Kom almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook die wat nie geld het nie, kom koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.”
Dit is ‘n teenstrydigheid in die algemeen, hoe kan jy koop sonder om te betaal, sonder geld en nie net stapelvoedsel nie, maar wyn en melk? Vir die algemene verstaan ʼn paradoks, maar vir Christen-gelowiges, ‘n ryke vertroosting en versterking uit die Woord. Die rede is omdat daar reeds vir ons betaal is, nie met geld nie, maar met Jesus Christus se eie liggaam en bloed. Ons is losgekoop van ons sondige bestaan vir ‘n bestaan van volkomenheid en liefde by God.
Hierdie wonderlike uitnodiging lees ons ook van in Open 22:17:
“Die Gees en die bruid sê: “Kom!”
En elkeen wat dit hoor, moet sê: “Kom!”
En elkeen wat dors het moet kom;
Elkeen wat die water van die lewe wil hê,
moet dit kom kry, VERNIET!”