Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 76 of 343)

Ware Koinonia

Soos ek hier sit en die herfsluggie om my dartel kry ek koue rillings as ek dink aan April vier jaar gelede toe ons gehok was om tuis te bly weens die Covid-19 Pandemie van 2020. Veral as die Strelitzias begin blom dan onthou ek die droewige tyd van afsondering van geslote kerke en bevreesde mense. 

Hier sit ons nou vier jaar later en ons het al weer byna daarvan vergeet. Destyds het ons geglo, en selfs gesê dat die inperkings van die grendeltyd ons weer honger sou maak vir die intieme koinonia van gemeentelike samekomste. As mens iets mis waardeer jy dit mos meer. 

Die vraag is nou of dit ooit gebeur het en of ons werklik die gemis en verlies aan koinonia in ‘n positief omgekeer het. Hier hoef ons nie groot beoordeling toe te pas en tendense te probeer evalueer nie. Die kerk van Jesus gaan immers maar deur goeie en slegte seisoene. Dit sal eerder vanpas wees om jouself te beoordeel of jy nog die gemis van destyds onthou en gevolglik die geleentheid wat daar nou is met alle mag aangryp en benut. 

Koinonia (gemeenskap van die gelowiges) is immers nie net iets waarby jy alleen kan baat nie, maar waarby ander baat as ek en jy dit nie afskeep nie. Dink maar aan laas naweek se heerlike koek en tee, gemeente-ete, die mooi eredienste en kategese. 

Maak gebruik van die koinonia-geleenthede en leef die nuwe lewe in Christus. 

“Laat ons dus die onderlinge byeenkomste nie versuim, soos sommige die gewoonte het nie, maar mekaar eerder aanmoedig… en dit des te meer soos ons die oordeelsdag sien naderkom” (Heb10:25). 

Ds Maarten 

Die Oes is groot en die arbeiders min!

Skriflesing: Luk 5:1-11; 10:1-16
Teksverse: Luk 5:10c; Luk 10:2

Daar is soveel nood in die wêreld.  Nood wat beteken dat die oes groot is en die arbeiders min.    Baie mense het nog nie die evangelie gehoor nie.   Baie mense het nog nie tot ware bekering gekom nie, alhoewel hulle al die evangelie gehoor het.   Ons wat tot geloof gekom het het die wonderlike genade ontvang om te mag glo.

Ons mag nie hierdie wonderlike gawe vir onsself hou nie.   Ons moet dit uitjubel en dit ook aan ander meedeel.  God roep ons daartoe.   God maak ook gewillig en bekwaam   Ons moet nie vrees of bang wees hiervoor nie, want God stuur ons en Hy sal ons bewaar. Daarom moet ons nooit ophou om te bid vir diegene wat spesifiek geroep is om die evangelie te verkondig onder heidene en onder moeilike omstandigehede nie.

Christus het deur sy opstanding die dood oorwin.

Skriflesing: Mat 28:1-10; Kol 3:1-17; Rom 8:11,34
Teksverse: Mat 28:5-7; Kol 3:1,2; 1 Kor 15:3-6,20,21

Die dood word dikwels beskou as ‘n onherroeplike, onherstelbare verlies.   Mense dink dit is die ergste wat met ’n mens kan gebeur, jy gaan dood en dan is dit klaar met jou.  Maar, Christus se opstanding uit die dood, is die grootste wonder van alle tye!  Juis die sondige mens wat nie glo in die opstanding nie, is hier totaal en al verkeerd bewys, wat menslik onmoontlik is, het deur die krag van God waar geword.   Die skepping het as ’n ware in afwagting asem opgehou, sou Jesus Christus uit die dood opstaan of nie.  Kolossense konstateer die feit dat ons saam met Christus uit die dood opgewek is.   Ons glo dit en bely dit en die Heilige Gees getuig dit in ons harte.  Dit is ook ons belydenis dat Christus nie net uit die dood opgestaan het nie, maar ook dat daar vir ons nut is in sy opstanding.

Vöelvry in Christus

Skrifgedeelte: Lev 14:1-21
Teksvers: Lev 14:5-7

Die reiniging van ‘n melaatse persoon het baie spesifieke voorskrifte. Niemand wat melaats is mag in die gemeenskap kom nie. Melaatsheid is hoogs aansteeklik met die gevolg dat so ‘n persoon uitgewerp word sonder plek of hoop. En tog is daar hoop, maar slegs as die melaatse gesond word. Daarby staan ons vanoggend stil, by die ritueel van die vrylating van ‘n voël, wat in ‘n ander se bloed gedoop is met die tema: voëlvry in Christus.

God is altyd in beheer as Skepper, as Verlosser en as Trooster!

Demografie van Klassis Burgersdorp in die Oos-Kaap

Klassis Burgersdorp is ’n plattelandse, uitgestrekte gebied waar die bevolking yl gesaai is. As ek daar bevestig word sal ons DV 3 voltydse predikante wees om 16 gemeentes te bedien, versprei oor ’n baie wye gebied. 

Van Noord na Suid, Aliwal-Noord in die Noorde, na Queenstown in die suide, is 163 km ver. 

Vanaf die Ooste Maclear/Elliot na De Aar in die verre weste is 550 km ver. 

Rofweg kan die klassis in die Oostelike deel en die Westelike deel verdeel word met die volgende indeling: 

• In die Westelike deel is daar agt gemeentes en drie predikante; ds. Bain (Oranjerivier in Orania), ds. van der Westhuizen in Colesberg (wat ’n jaar studieverlof het en in die VSA is) en De Aar, ds. Deysel in Venterstad. 

• In die Oostelike deel met slegs een predikant is daar 7 gemeentes: 

Burgersdorp (DV ds. Gerrit Kruger) Die volgende gemeentes het geen predikante nie, Aliwal-Noord, Molteno, Queenstown, Dordrecht, Maclear/Elliot, Barkly-Oos. 

Die hele klassis het net ’n bietjie meer lidmate as wat die Gemeente van Centurion het, te wete 1400 in totaal. 

Dit bring geweldige uitdagings mee. Nogtans is dit die Here se kerke en die Here is steeds in beheer. Daarom kan en mag ons nie ons oë en ore sluit vir die nood van die plattelandse-kerke nie. Ons mag hulle nie negeer as klein en nietig nie. Ons moet steeds kyk waar ons kan help, op watter wyse ookal. Die belangrikste en grootste hulp wat ons kan gee is deur voorbidding te doen. 

In Centurion is daar baie mense met noue bande met Burgersdorp. Om net ’n paar te noem: Wouter Styger se pa en ma boer in die distrik en dit is waar hy grootgeword het. Henda Vreugde se pa was vir jare ’n mediese dokter in Burgersdorp. Die eerste teologiese skool was in Burgersdorp gewees. 

Daar lê vir my en Rika harde werk voor. Ons bede is dat die Here aan ons die geloofsvolharding, die gesondheid en krag en lus en ywer sal bly gee om hierdie heerlike roeping te kan en mag verrig. 

Soli Deo Gloria – Net aan God die eer. 

Ds. Gerrit 

 

« Older posts Newer posts »