Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 78 of 343)

Verskillende opvattinge oor die Nagmaal      

(Bron: Feenstra, JG 1986 p244) 

Hoekom vier ons vandag die heilige Nagmaal? Wat is die betekenis van die Nagmaal en waarop dui die brood en die wyn? Die Heidelbergse Kategismus behandel die Heilige Nagmaal en wel in Sondag 28-30 so ook die Nederlandse Geloofsbelydenis, art 33,35 

Om hierdie vrae te antwoord en tot dié belydenis te kan kom, was daar ’n heftige stryd tydens die Reformasie gevoer oor die betekenis van die heilige nagmaal. Die opdrag het tog van Jesus Christus self gekom om nagmaal te vier en Hy het gesê: “Dit is My liggaam en dit is My bloed!” Die woordjie “is” kan verskillende betekenisse hê wat dui op verskillende opvattings van die verstaan van die brood en die wyn. Bv. Wanneer ek ’n foto van ’n olifant bekyk, kan ek sê: “Dit is ’n olifant!” Terwyl dit eintlik ’n foto van ’n olifant is. As Jesus dan sê van die brood: “Dit is my liggaam!” wat beteken dit? 

1 Die Roomse kerk leer die transubstansiasie. 

Volgens hierdie siening moet die woordjie “is” letterlik verstaan word en verander die brood letterlik in die liggaam van Christus en die wyn letterlik in die bloed van Jesus Christus. 

2 Luther leer die konsubstansiasie. 

Luther het nie geheel en al met die Roomse nagmaalbeskouing gebreek nie. Volgens hom verander die brood en wyn wel nie in die liggaam en bloed van die Here nie, maar die liggaam en bloed “is” daarin. Soos water in ’n spons is, so “is” Christus in die brood en wyn. 

3 Zwingli leer die figurasie. 

Uit reaksie teen Rome het hy te ver gegaan en gesê dat ’n mens die woordjie “is” heel gewoon moet opvat en in die nagmaal slegs ’n gedagtenismaal moet sien. Soos ons dan op ons verjaarsdag ons geboortedag herdenk, so herdenk die kerk by die nagmaal slegs die lyding en sterwe van die Here. 

4 Calvyn leer die sakramentele betekenis van die Nagmaal. 

Calvyn leer dat die brood en wyn tekens maar ook seëls is van die liggaam en bloed van Jesus. Christus is na sy Godheid, majesteit genade en Gees by die nagmaal teenwoordig. Dit is sakramenteel. Dit is tekens en seëls. Die betekenis is heilig. Daarom moet ons dit met die grootste respek en eerbied en verantwoordelikheid in die geloof gebruik. 

Verlossing het nie goedkoop gekom nie. Daar is ten duurste voor betaal met die bloed en die liggaam van ons Here Jesus Christus. Daarom moet ons dit met ’n opregte geloof, in die regte gesindheid tot versterking en opbou van ons geloof gebruik. 

Ds. Gerrit 

Terme en Voorwaardes geld

Skriflesing: Genesis 21:22 – 22:19 (2020)
Teksvers: Genesis 21: 22: 16-8
HK: Sondag 37

In Genesis 21 en 22 sien ons Abraham in die middelpunt van moeilike omstandighede. Eers die kwessie van Ismael wat vir Isak spot en Sara wat Hagar laat wegjaag. Dan die twis oor ‘n waterput tussen die veewagters van koning Abimeleg en Abraham. Meer nog die beproewing van God wat Abraham stuur om Isak op Moria te offer. 

Telkens sien ons hoe daar ‘n belofte gemaak word, ‘n eed word afgelê, daar word gesweer. Ons staan vanaand stil by die tema: terme en voorwaardes geld. 

God se vermaning teen ‘n wêrelds-gesindheid en sy oproep tot toewyding

Skriflesing: 2 Kor 6:14-7:1 (1983)
Teksvers: 2 Kor 7:1

God het ons in hierdie wêreld geplaas met ‘n doel en ‘n taak. Ons doel en taak is eerstens om tot eer van God te leef en tweedens om die evangelie uit te dra. Maar alhoewel ons in hierdie wêreld leef, moet ons nie soos die wêreld leef nie. Dit beteken ons moet heilig leef soos hemelse burgers. Dit moet ons strewe wees. Ons moet elke dag in liggaam en gees ons daarna streef om heilig te lewe. Paulus het as apostel en Christen ‘n voorbeeld gestel. 

Ons gaan na drie sake kyk: 

  • Paulus se oproep tot erkenning van sy werk. 
  • Paulus se vermaning teen ’n wêreldse-gesindheid. 
  • Paulus se oproep tot toewyding. 

Die Lam van God!

Lees Ex 12; Joh 1:29,36 

Joh 1:36 “Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!”” 

Die aand voordat die Israeliete uit slawerny bevry is, die aand voor die uittog uit Egipte, het hulle opdrag gekry om vir elke gesin of twee ’n lammetjie, sonder gebrek te slag en te eet. Maar daar was ook ’n belangrike opdrag by, hulle moes die bloed van die lammetjie neem en dit met ’n hisoptakkie aan die deurkosyne smeer en hulle moes binneshuis bly die hele nag lank. Daardie nag het die Here self deur Egipte getrek en elke huis waar daar nie bloed aan die deurkosyne was nie se eerstelinge, mens en dier, laat sterf. 

Ex 12:12 “Daardie selfde nag sal Ek deur Egipte gaan om al die eerstelinge van die Egiptenaars, mens en dier, te tref. Met al die Egiptiese gode sal Ek afreken. Ek is die Here!” 

Die paasmaaltyd het heengewys na die nagmaal. Dit was dan ook die aand voor sy dood dat Jesus die nagmaal ingestel het (Mat 26). Johannes het dan ook na Jesus verwys as “Die Lam van God!” Daarmee het hy aangedui dat Christus die gelowiges van die slawerny van die sonde kom bevry het. Christus het Homself as die Paaslam aan die kruis laat spyker, sodat die dood, ons wat in Hom glo, nie sal tref nie. Ons moet egter die belangrikheid van Jesus se soenverdienste begryp en dit glo en dit met ons hele hart en siel en verstand aangryp en bely en aanvaar. Die is die Heilige Gees wat hierdie openbaring aan ons bekend maak sodat ons dit kan glo. Dit is dan ook hoekom ons die heilige Nagmaal so gereeld vier om herinner te word aan wat Jesus Christus vir ons gedoen het. Kom daarom ywerig op om deel te neem aan hierdie heilige sakrament. 

Die Lam is vir ons geslag! 

Jesus Christus is die Lam van God. 

Ds. Gerrit 

« Older posts Newer posts »