Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 75 of 343)

Die Here gee sodat ons kan gee 

(Gal 6:10) 

Die werkwoord “gee” het te doen met die gawes wat ons aan ander en aan die Here bring. Die beginsel wat van Gen 14:18-20 en wat regdeur die Bybel as riglyn loop, is ʼn tiende of tien persent van alles wat jy ontvang. Wat ons het, het ons van die Here ontvang. Hy gee sodat ons kan gee. So toets Hy ons gesindheid. 

Jesus het ook nooit gehuiwer om die onderwerp van geld aan te spreek nie. Elf van sy 40 gelykenisse verwys bv na geld. Geld is immers so alledaags dat ons almal die voorbeeld daarvan kan snap. Geld is nie die probleem nie, maar wel geldgierigheid. Paulus skryf aan Timoteus: “Geldgierigheid is die wortel van alle kwaad” (1 Tim 6:10). Geld kan ʼn afgod in ons lewe raak en daarvoor waarsku Jesus in die Bergrede: “Julle kan nie God en Mammon dien nie!” 

Die Here wil egter dat die bekering van die nuwe lewe in Christus, ons tot diep in ons beursies raak. Daarom toets Hy ons vrygewigheid (2 Kor 8). 

“Bring dus die hele tiende na My voorraadkamer, sê die Here, …” anders beroof ons God (Maleagi 3:8-12). God gee aan ons, sodat ons kan gee. 

U kan benewens u kerklike bydrae en die kollektes vir die armes en barmhartigheid ook nog bydra vir die volgende en ander instansies: 

  • Teologiese skool en Studentekas 
  • Mukhanyo Theological College (waarvan ons gemeente ‘n lidkerk is) 
  • Transoranje Instituut vir Buitengewone Onderwys 
  • Bybelverspreiding en Biblos 
  • Evangelisasieprojekte en GKSA Sendingfonds 
  • Projektefonds van die Kerk 
  • Crossroads Gevangenisbediening 
  • Koningskinders 
  • Kerklike Tydskrifte, DKB, Vroueblad en Kruispad 
  • Ander verdienstelike sake of organisasies 

Oorweeg selfs een van hierdie sake in u boedel en testament. Mag die Here ons ook in die finansiële aspekte van ons geloof en godsdiens seën, en mag ons altyd waarlik dankbaar wees vir alles wat ons uit Sy hand ontvang. 

Ds Maarten 

Die gebooie is verbondseise

Skriflesing: Eksodus 20:1-17 (1983) 
Teksvers: Eksodus 20:3 
HK: Sondag 34 

God het hierdie een hoofdeel van die Bybel, die Tien Gebooie, met sy eie vinger geskryf. Daarin kan ons sien dat Hy, God, ag die gebooie as baie belangrik vir jou en elke ander mens se lewe op aarde. Vir Hom is dit belangrik dat jy goed sal verstaan wat die Tien Gebooie is en met watter gesindheid jy hulle moet gehoorsaam. 

As die regte gesindheid ontbreek, kan dit of daartoe lei dat jy die gebooie van God minag, omdat jy nie God se stem daarin hoor nie, of dat jy die gebooie van God – jou afgod maak. Jou vertroue is dan nie meer op God gestel nie, maar op jou eie onderhouding van die gebooie soos jy dit graag wil interpreteer. 

Juis die inleidende woorde van die wet: “Ek is die Here, jou God, wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny verlos het”, verduidelik juis met watter gesindheid jy hierdie gebooie moet onderhou. 

Daaglikse bekering—ʼn teken van jou nuwe lewe in Christus

Skriflesing: 2 Korintiërs 7 (1983) 
Teksvers: 2 Korintiërs 7:9-11 

Ons sit nou weer die reeksprediking uit die Tweede Korintiërbrief voort, met die oorhoofse tema van die Nuwe Lewe van die Christen (Jaartema – 2 Kor 5:17 – Nuwe lewe in Christus). 

Prakties gesproke is die belangrikste deel van hierdie nuwe lewe juis dit wat Paulus graag by sy lesers wou vind en tot ‘n mate ook gekry het, nl. BEKERING. Ware bekering gaan egter dikwels met diepe worstelinge en droefheid gepaard soos waarna Paulus in hierdie hoofstuk verwys. 

Die sogenaamde ‘Trane-brief’ wat waarskynlik tussen Eerste en Tweede Korintiërs aan die gemeente gestuur is, dien as agtergrond vir die verstaan van Paulus se betoog en ons fokusteks. 

Diepe ontsag vir God lei tot ware broederliefde

Skriflesing: Hebreërs 12 en 13 (1983) 
Teksvers: Hebreërs 12:29 

Ons staan hierdie kwartaal tydens aanddienste stil by die TWEEDE TAFEL van die Wet van GOD. 

In die Hebreërbrief word ons herinner aan die offer van die Hoëpriester wat Homself as Lam van geoffer het vir ons redding en verlossing van al ons sondes. Wie Hom verag kry met ‘n vreeslike God van oordeel te make. 

Wie Hom eer sal dit in sy alledaagse lewe op ‘n heel praktiese manier uitleef in die gewone gang van die alledaagse lewe. 

So kom die eerste en tweede tafel in Christus by mekaar uit. 

God alleen is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang

Skriflesing: Open 4:1-11; 5:1-14(1983) 
Teksvers: Open 4:11; 5:11,13,14 

Daar was nog altyd ‘n stryd in God se kerk op aarde. Ons lees daarvan in Openbaringe 1-3. Ons hoef egter nooit te twyfel of moedeloos te word nie. Juis in Openbaring 4 lees ons van God as Skepper, wat op sy troon sit en in Openbaring 5 van Jesus Christus wat alleen waardig en in staat is om boek in die Vader se hand oop te maak. 

Psalm 33:7 
(Berymd. Totius) 
“Die HEER wat bo die wentelkringe 
van son en maan sy rykstroon stig, 
aanskou die mense en alle dinge – 
daar’s niks bedek voor sy gesig. 
Uit sy vaste woning / waar Hy heers as Koning, 
sien Hy, Skepper-HEER, uit oneindig hoë / blou-deurglansde boë 
op sy skepsel neer.” 

1 Johannes sien die hemele op ’n skrefie oop. 
2 Johannes sien ’n troon. 
3 Johannes sien hoe alles en almal God loof en prys. 

« Older posts Newer posts »