Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 74 of 343)

DIE SESDE GEBOD:LIEFDELOOSHEID IS MOORD

Skriflesing: Genesis 4; Heb 12:24; Ef 4:26
Teksvers: Genesis 4:6-9
HK: Sondag 40

Die geweld van moord en doodslag het deel van ons alledaagse lewe geword. Padwoede en motorkapings, plaasmoorde en gesinsgeweld, dreigemente en wraakgedagtes, gewapende roof en nog veel meer is so alledaags dat ons byna gewoond geraak het daaraan. Maar dit is alles tekens dat die een die ander nie meer die lewe gun nie. Dit lei maklik ook tot ‘n selfsugtige soeke na eie bestaan selfs al is dit ten koste van die ander.

Die sesde gebod roep na nuwe harte, wat aangevuur word deur die liefde van Christus wat sy lewe opoffer vir ons as sondaars. Want die liefde verdra en glo en hoop. Dit is die liefde wat deur die geloof tot dade oorgaan!
Waar is jou broer? Waar is jou suster? Is jy ook jou broer se wagter?

Wees oorvloedig in goeie werke

Skriflesing: 2 Korintiërs 9:1-15 (2020)
Teksvers: 2 Korintiërs 9:9-11

In baie opsigte word geluk vandag bepaal deur dit wat jy ontvang. Mense oor die algemeen is onder die indruk dat besittings, geld en goed ‘n mens sal gelukkig maak. In hierdie hoofstuk leer die Heilige Gees ons deur die apostel, dat dit inderwaarheid die teendeel is. Om te gee bring vreugde. Soos Jesus ook eenmaal sou opmerk: Dit is saliger om te gee as om te ontvang.

Soos ons verlede week uit hoofstuk 8 gehoor het, gaan dit oor die gesindheid waarmee gegee word, baie meer as die hoeveelheid. So was daar reeds in die eerste brief melding gemaak van ‘n kollekte vir die gelowiges in Jerusalem. Paulus het geroem oor die Korintiërs se vrygewigheid al het hulle nie baie nie. Nou kom hy die kollekte haal en stuur Titus vooruit sodat hulle nie onverhoeds betrap word nie. Ons staan vanoggend stil by die gevolge van ‘n gesindheid van seën met die aansporing dat hulle oorvloedig sal wees in goeie werke.

Eer God en geniet Hom vir altyd

Elkeen van ons ervaar hoe lewensomstandighede bykans daagliks al hoe moeiliker word en kan nie regtig by die pas hou van hoe vinnig dinge beweeg nie. Sedert ons gesin se aankoms in die gemeente einde 2019 het so baie dinge verander. Ek onthou baie goed hoe ek deur leë strate gery het oppad na die hospitaal en my vrou, omtrent soos Raponsie, van bo uit die venster, hier van onder in die parkeer area toegewuif het.

Die vraag op my gemoed wat gedurigdeur oor en oor deur my gedagtes maal, is dit: wat het in my verander? Behalwe al die vrese wat oorkom moes word en die al die uitdagings wat ons te bowe moes kom, wonder ek steeds of ons regtig verander het. Of ons werklik iets geleer het.

So maklik vergeet ons al die lesse van die verlede. So maklik keer ons terug na die ou weë wat ons laat verdwaal in die sorge van die lewe. Dan het ons as te ware armer geword en die waarde van ons ervaringe verloor. Die gevolg is dat ons ophou om te lewe en net probeer oorleef. Ons is so haastig besig na die volgende “betaaldag” uit te sien, dat ons al die mooi van elke dag miskyk.

Dit laat my dink aan die eerste vraag en antwoord van die Westminster belydenis.

Q. 1. What is the chief and highest end of man?
A. Man’s chief and highest end is to glorify God, and fully to enjoy him forever.

Hierdie vraag herinner my telkens om verby die goed van die Vader te kyk, en die Vader self raak te sien. Ons is so geneig om ons lewensdoel op onsself te betrek, en te vergeet dat ons doel, ons hoogste doel en heerlikste taak is om vreugde in God te vind. Om ons lewe elke dag te leef tot eer van God.

Dat ons sal ophou jaag verby die goedheid van God om ‘n oomblik stil te word en God self te geniet en ons vreugde en vrede in Hom te vind.
‘n Prediker na wie ek onlangs geluister het, het opgemerk, dat die hoofsaak van ‘n huwelik kommunikasie is. As ‘n man en vrou ophou om met mekaar te praat, kom daar probleme. Hoeveel te meer as ons as bruid nie meer tyd maak om te luister na ons Bruidegom, of selfs nog meer, dat ons nie met die bruidegom praat (bid) nie. Nie om die inkopielys van ons begeertes en probleme oor te dra nie, maar om ons vreugde in God en in die heerlikheid van sy genade te deel.

Wat is jou hoogste ambisie in die lewe? Wat is jou lewensdoel? Waarna streef jy en wat is die eindpunt wat jy wil bereik?

Laat dit wees om God te eer en Hom vir altyd te geniet.

Lourens (vdm)

Voorvaders voor die Vader

Skriflesing: Matteus 15:1-20 (2020)
Teksvers: Matteus 15:7-8
HK: Sondag 39

Eer jou vader en moeder. Hierdie is nie onbekende, vreemde woorde nie. Tog is daar soms misverstand oor wat die gebod werklik bedoel. Sommige mense haak vas by outoriteit, veral die owerheid. Hierdie gebod is gegee bykans 400 jaar voordat daar ‘n koning in Israel of owerheid was. Die fokus lê by VADER en MOEDER. Die huisgesin is hier in die oog, nie die regering nie. Ouers moet eerwaardig optree en hulle kinders leer om met eerbied en ontsag veral vir God te leef . 

Ons kyk vanaand na Jesus se optrede as daar ‘n afvaardiging uit Jerusalem opdaag om sy werk te ondersoek. Volgens hierdie geselskap is daar geen ontsag of eerbied vir die voorvaderlike gebruike nie, maar Jesus leer ons ook die voorvaders staan voor die Vader. 

Die nuwe lewe raak sigbaar in jou beursie

Skriflesing: 2 Korintiërs 8 (1983)
Teksvers: 2 Korintiërs 8: 8,9

Ons sit die reeksprediking uit die Tweede Korintiërbrief voort, met die oorhoofse jaartema van “Die Nuwe Lewe in Christus” ( 2 Kor 5:17). 

Iemand het onlangs in sy preek gesê hierdie hoofstuk is nie vir die finansieel-sensitiewe lesers nie! 

Maar op die ou end praat Paulus nie oor geld nie maar oor ons houding en die gesindheid van nuwe harte. So word ons ‘n aansporing vir mekaar as ons ons geloof praktyk maak. 

« Older posts Newer posts »