Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 73 of 343)

ONS KONING OP DIE TROON

As die apostel Johannes ‘n oomblik deur die skrefie van die hemeldeur kyk, sien hy die troon in die middel (Op 4) en die wesens en ouderlinge rondom die troon. Kyk hy nog dieper dan sien hy die Lam van God op die troon met die boekrol van die geskiedenis van kerk en wêreld in sy hande (Op 5). 

Sedert die hemelvaart sit Hy koninklik op sy troon en sy dienaars dien Hom. Miljoene engele om sy troon wat blitssnel elke bevel tot op die keper uitvoer, terwyl hulle die Koning van die konings aanbid. Hoog verhewe en heilig is Hy. Hy het absolute mag oor alles en almal. 

Naas hierdie magsuitoefening is Hy daar ons ook ten goede. Hy is ons Voorspreker en Middelaar. Hy praat met die Vader oor ons. Hy tree in vir sondaars wat Hy met sy kosbare bloed vrygekoop het. Hy wys dan sy deurboorde hande en voete aan die Vader, en ter wille van Jesus, die Lam van God, verhoor die Vader sy bede en luister Hy weer na ons gebed. 

Ons kan immers nie maar net ‘gou-gou’ met ons Vader praat nie. Hy is God en nie maar net jou vriendjie nie. Jy kan alleen maar in die Naam van jou Middelaar tot die Vader nader. 

Laat dit dan ons erns wees om tydens ELKE gebed die Vader aan te roep, IN DIE NAAM VAN DIE HERE JESUS CHRISTUS, want in ons eie naam is ons nie aanneemlik voor God nie. In die Naam van Jesus, sal die Vader ons vergewe en elke gebed hoor en soos ‘n goeie Vader aan ons gee, wat ons nodig het. 

Laat die Heilige Gees jou so lei in jou gebede om slegs deur Jesus Christus tot die Vader te nader. 

Ds Maarten 

Vrede van God wanneer jy, gestroop vanjou steunpilare, weerloos is

Skriflesing: Psalm 3 (2020)
Teksvers: Psalm 3: 4

Weerloos, gestroop van jou steunpilare

Ons besef nie altyd hoe wankelrig die pilare is waarop ons in hierdie lewe steun nie.

Dawid het hierdie intuimeling van sy steunpilare intens beleef. Sy eie seun het die harte van mense gewen en ‘n opstand teen Dawid gelei. Dawid moes uit die stad vlug.

Om gestroop en weerloos steeds te sien

As gelowige sien ek:

  • die Here as my skild
  • die Here as my heerlikheid
  • die Here as die Een wat my hoof optel!

God skiet lugkastele plat

Skriflesing: 2 Korintiërs 10:1-18 (2020)
Teksvers: 2 Korintiërs 10:5

Die wonderlike geskenk van Christus se verlossing deur God se genade, maak ons harte blymoedig om self uit genade te kan leef. Tog bou ons forte om ons hart, ons bou vreeslike mure en skanse wat hierdie onuitspreeklike genadegawe met valse kennis en self uitgedinkte lugkastele omring en besoedel.

Christus wat ons so duur gekoop het, moet nou sy eie eiendom oortuig en ons harte wen uit die mag van die sonde! Ja, so veg die Koning sy weg oop na ons siele deur ons self-uitgedinkte lugkastele plat te skiet met sy kragtige wapens. Die stryd om jou gedagtes is ‘n gewetens-oorlog.

Voer dan oorlog, met die wapens wat God gee, en neem jou oorlogsgevangenes, jou denke in ballingskap onder die gesag van die Koning van jou hart.

Dink aan die vervolgde kerk

Uit die oog is uit die hart, lui die bekende gesegde. Hierdie woorde beskryf egter baie meer as net om nie iets of iemand te sien nie, en dan van hulle te vergeet. Met al die tegnologie van die 21ste eeu, kan ons wêrelde oorbrug wat voorheen ondenkbaar was. In ‘n oomblik stuur ons boodskappe, sommer so met die telefoon, of sien ‘n foto of video wat pas geneem is in ‘n ander kontinent.

Dalk sien ons te veel, dat ons nie meer vandag alles kan onthou nie. Of dalk is daar te veel om te sien dat ons nie by almal uitkom nie. Hoe dit ook al mag wees, is een kwessie sonder twyfel dat ons nie op hoogte is van die vervolging van Christene vandag nie. Ons sien baie video’s en hoor baie stories, maar daar is min wat regtig ons hart aanraak.

Dit is nie omdat ons nie omgee nie, maar eerder ons eie omstandighede en uitdagings of selfs ons gebrek aan begrip van hoe dit kan moontlik wees dat mense in hierdie moderne era hulle lewens verloor oor dit wat hulle glo…

Miskien is ons grootste probleem: uit die hart is uit die oog. Omdat ons nie regtig weet wat vervolging is nie, het dit nie so groot invloed op ons lewe nie. Dink maar aan die Korintiërs waarvan ons tans lees, hoe Paulus hulle aanmoedig om te dink aan die Christene in vervolging in Israel, en hoe die gemeente ‘n kollekte opneem om daardie gelowiges te ondersteun vanweë hulle armoede en nood.

Deur hierdie kollekte, sal daar met groot dank aan God, uitkoms wees vir die vervolgdes. So kom daar ‘n eenheidsband tussen Korinte en Jerusalem wat verbind word deur geloof in Jesus Christus.

Daar is tans geweldige vervolging van Christene op verskeie plekke in die wêreld. Daar is in besonder stemme uit Iran wat pleit vir uitkoms. Die oorlog in Israel en Gaza het ook gevolge vir Christene. Ons hoor van vervolging in Indië, en nou ook al hoe meer op ons eie kontinent. Vol-gens Geopende Deure se webblad tans, is Somalië 2de, Libië 3de, Nigerië 6de en Sudan 8ste .

Baie van daardie Christene vlug, ook na Suid Afrika. Ds Eric Kayayan, voorheen sendeling van GK Rietvallei, wys my onlangs op hoeveel mense uit Middel- en Noord-Afrika hier kom werk soek en oral maklik te vind is in ons eie gemeenskappe. Mense wat in nood is. Wat vatbaar is vir die evangelie van hoop.
Mag ons nie van die vervolgde Christene vergeet nie. Nie uit ons oog of uit ons hart nie, maar nog minder uit ons gebede.

Raak betrokke en ondersteun sendingaksies soos ds. Eric Kayayan by foi-vie.org.za of ds. Victor d’Assonville by vsod.co.za of Rajesh Kumar van Indië of een van ons ander kerklike uitreike na die buiteland. Besoek ook Geopende Deure se webblad en leer van die besondere wyse waarop Christene onder vervolging ondersteun word.

Dink aan die vervolgde Kerk!

Lourens (vdm)

« Older posts Newer posts »