Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 56 of 343)

Hy wat ons Roep is getrou

Skriflesing: 1 Tessalonisense 5:8-28 (2020)
Teksvers: 1 Tessalonisense 5:23

Die werk wat God in ons begin, laat Hy nooit halfpad nie, Hy voltooi dit. So kan ons getuig en so is die opdrag aan die gelowiges in Thessalonika, om te volhard in die geestelike dissiplines van ‘n lewe in gemeenskap met Christus. 

Wees altyd bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar. Blus die Gees nie uit nie. Met hierdie opdragte kom ‘n volkome lewe van heiligmaking, deur Hom wat ons vir Homself heilig. Hy wat ons roep is getrou, Hy sal dit ook doen. 

Hou jou oog op Jesus

Skriflesing: Hebreërs 12 (1983)
Teksvers: Hebreërs 12:1,2

Die lewe van die nuwe mens in Christus is soos ‘n wedloop wat volharding vereis. 

Die wedloop van die geloof is egter nie ‘n resies, soos ‘n naelloop om te kyk wie eerste of die beste is nie. Dis veel eerder ‘n uitdagende en uitmergelende marathon, maar dan ʼn wedloop waarin ons gelukkig nie alleen hardloop nie. 

Dink aan die skare om die baan of op die paviljoen wat jou aanmoedig, en dan boonop die ander gelowiges wat saam met jou hardloop en jou motiveer en aanpor. Nou moet ons net dissipline toepas en fokus! Fokus op Jesus want Hy is ook nog deel van die wedloop. 

Jubel in die Here

Die almagtige Here red sy kinders uit die ergste krisis 

Skrifgedeelte: Eksodus 13:17-22 Fokusgedeelte: Eksodus 13:18, 21-22 

Die krisis waarin Israel beland het, met die see voor hulle en die Egiptiese magte wat hulle van agter inhaal, het klagtes van twyfel en ongeloof ontlok. Moses kry egter van God die versekering dat Hy hulle sal verlos, tot verheerliking van sy Naam. Daarom word die Israeliete opgeroep om nie bang te wees nie. Hulle moet net stil wees en die verlossing aanskou. Daarby moet hulle mooi kyk, want hulle sal die Egiptenare nooit weer so sien nie. 

Mens kan dieselfde ding op twee maniere sien. Wie in ongeloof na die aardse omstandighede kyk, kom een of ander tyd in ’n krisis. Wie gelowig daarna kyk, word stil en sien hoe God in sy almag daaroor seëvier. 

Vroeër het die Israeliete gesien hoe hulle eie seuntjies in die water van die Nyl sterf. Nou sien hulle hoe die sterk manne van Egipte in die waters van die Skelfsee sterf. Die Here red hulle uit die hand van die Egiptenare. Intussen sien hulle die magtige daad (hand) van die Here oor die Egiptenaars. 

By ons kom so maklik twyfel oor God en sy almag om ons werklik in krisisse te help. Twyfel kom so maklik by die oproep tot geloof, veral as jy nog niks sien nie. Nou het Israel weer gesien. Dan vrees hulle God en glo weer in Hom. Die evangelie van ons Here Jesus Christus word gedra deur sigbare getuies. Boonop word dit ook deur die Heilige Gees in ons harte bevestig deur sy Woord en sakramente. Laat ons dan ook bid: Gee my geloof om alleen in God te glo wat my in sy genade en almag uit die grootste krisis van sonde, ja die dood en hel verlos het. Laat ek dankbaar in u jubel. 

Ds. SA (Sarel) Cilliers (Emeritus) 

Uittreksel uit Dagstukkies van die Almanak 2025. Beskikbaar by die kerkkantoor @ R130 

Die Waarheid is ons Getuienis

Skriflesing: Openbaring 11:1-19 (2020)
Teksvers: Openbaring 11:3-5

‘n Gebou uit die Ou Testament wat verskeie kere vernietig en herbou is, en nou al bykans 2000 jaar nie meer bestaan nie, is die beeld wat ons in die toekoms laat sien wat met die kerk gebeur. Die tempel word vertrap. Maar uit haar gaan die getuienis van God, twee getuies, wat verkondig wat die wêreld nie wil hoor nie. 

Ons staan vanaand stil by die apokaliptiese beeld in die ondersoek na wie hierdie twee getuies is, wat hulle simboliseer in hulle werk en waarom dit vir ons belangrik is met die tema: die Waarheid is ons Getuienis. 

« Older posts Newer posts »