Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 55 of 343)

Jesus word ontklee om ons te beklee

Skriflesing: Joh 19:17 37; Gen 3:21; Ps 22:1-19; 2 Kor 5:1 5; Rom 13:14; Kol 3:12; Op 7:9; 19:1-8; Op 21:1,2 (2020)
Teksvers: Johannes 19:23,24

Jesus klou nie vas aan sy aardse goed nie. Self leer Hy ons dat as iemand jou onderkleed wil vat, laat hom ook die boklere kry (Mat 5:40). Dan doen Hy dit self – Hy word ontklee! Hulle vat sy klere en dobbel daaroor. Hy baklei nie oor aardse goeters nie. 

Hy is besig met die hemelse! Hy vervul Psalm 22 wat Hy later self ook gaan aanhaal! Hy is besig met die profesie! Die groot Profeet wat hier offer (ontklee) word selfverloënende Hoëpriester, en as Hy oorwin word hy Koninklik beklee met dié Naam wat bo elke naam is (Fil 2:11). 

EINDE 2024

Ons het sowaar by die laaste nuusbrief van die jaar gekom. ‘n Jaar met sy eie dinge, maar voorwaar nog ʼn jaar geseën deur ons troue Here en groot Herder. Ons dank Hom vir genade op genade. 

Ons sluit nou die jaar se verrigtinge af met die beste wense vir almal in hierdie feesgety en met die bede dat u mag rus en uitrus in die vrede van God. As u dalk op reis gaan bid ons julle ‘n veilige en voorspoedige reis toe. Mag u elkeen die nabyheid van die Here op ‘n besondere manier ervaar. 

Volgende jaar se uitsig is die groot feesviering van ons gemeente se Jubeljaar. Ons roep vyftig jaar se genade in herinnering en beplan vir die groot naweek van 1 Junie 2025. Ons hoop en glo dit gaan in baie opsigte ‘n baie spesiale jaar wees onder liefdevolle hand van die Here se seën. 

Al ons lof en eer en dank aan Hom wat kan doen vér bo dit wat ons bid of dink. Aan Hom die heerlikheid tot in ewigheid. 

Vergun my om namens u leraars en die kerkraad u elkeen ʼn vreugdevolle Kerstyd en vakansie toe te wens. Mag dit vir ons almal ʼn ware herinnering wees aan die grootste gawe van God en laat ons nie ophou om Hom daarvoor te loof en te dank nie. 

Ds Maarten 

Deur vernedering verhoog

Skriflesing: Fil 2: 5-11 (1953)
Teksvers: Fil 2: 5-11

“[5] Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. [6] Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, [7] maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; [8] en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. [9] Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, [10] sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, [11] en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.” 

Ere aan God in die Hoogste Hemele

Skriflesing: Lukas 2:1-20 (2020)
Teksvers: Lukas 2:13-14

Hierdie hartroerende lofsang van die engele by die aankondiging van ons Here Jesus Christus se menswording bly iets wat ons verbeelding aangryp. Hierdie gebeurtenis is iets ongewoon, dit gebeur nie elke dag nie. Inteendeel, die hele skepping het asem opgehou vir hierdie oomblik, en nou bars dit uit in lofsange. Die engele begelei die ganse skepping in hierdie loflied. Eer aan God in die hoogste hemele, vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae. 

Gees, Siel en Liggaam

Aan die einde van die jaar voel baie mense uitgeput en afgetakel deur die eise van die lewe. In sulke tye is dit veral noodsaaklik om bestek te neem van ons verhouding met God. Te dikwels kry die eise van die lewe die oorhand, tot so ‘n mate dat ons verhouding met God daaronder lei. 

Paulus se boodskap aan die gemeente in Thessalonika, is dat elke gelowige selfs in uitdagende tye in hul geloof moet volhard en op God vertrou. Paulus lê ook klem op die rol wat ons as ‘n gemeenskap van gelowiges in mekaar se lewens moet vervul, wanneer hy skryf: “…bemoedig mekaar, en laat die een die ander in geloof opbou, soos julle inderdaad doen” (1 Tessalonisense 5:11). 

Paulus sluit aan by die heiligmaking van gelowiges, dat ons nie in ons geloof moet stagneer nie (Filippense 3:12-14), maar dat ons heiligwording met Hom nastreef in ons lewens (1 Tessalonisense 5:23). Hierdie heiligmaking is nie ’n menslike prestasie nie, maar die werk van die Heilige Gees, wat ons menslike bestaan omvorm. 

Dit is daar waar die samehang tussen gees, siel en liggaam duidelik word. 

Die teks verduidelik dat gees, siel en liggaam nie as afsonderlike komponente beskou moet word nie, maar as die volheid van God se werk in ons lewens. 

Die gees: Hiermee word verwys na ons bewussyn van God en die werking van die Heilige Gees in ons verhouding met God. Christus het hierdie herstel gebring deur sy kruisdood, wat ons weer in ’n regte verhouding met God stel. 

Die siel: Dit is die unieke bepaler van jou menswees – wie jy is. Dit is jou menslike selfbewussyn, die lewe binne jou wat nooit ophou bestaan nie. 

Die liggaam: Dit moet beskou word as die huisvesting van ons gees en siel. Ons moet deur ons liggaam as’t ware God verheerlik (1 Korintiërs 6:19-20). 

Anders gestel, dit is nie moontlik om in ‘n volle verhouding met God te wees sonder die samehang tussen gees, siel en liggaam nie. Sonder die Heilige Gees, kan ons nie ‘n persoonlike verhouding deur ons gees met God hê nie (Romeine 8:12-17); sonder ons unieke menswees en ‘n gesonde siel sal ons nie kan verbly in die Here nie (Matteus 11:28-29), en indien ons nie ons liggame as offer aan God bied nie, bring ons God in oneer en is ons ongehoorsaam (Romeine 12:1). Daar is ‘n verband tussen die gees, siel en liggaam in ons verhouding met God. 

Daarvoor het ons Here Jesus self na hierdie wêreld gekom en mens geword, Hy is Immanuel – God met ons. Hy het ons volkome herstel en weer verbind aan God. 

Daarom, wanneer ons in hierdie tyd van rus en besinning binnegaan laat ons strewe om ‘n hernude verhouding met God te volg- in gees, siel en liggaam. 

“En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!” 1 Tess. 5:23 

Oudl. Werner Human 

« Older posts Newer posts »