Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 57 of 343)

Dissiplines van die nuwe lewe (7): Jou daaglikse getuie-wees vir Christus!

(Rome is toe nie die einde van die wêreld nie!)

Skriflesing: Handelinge 1; Jesaja 49:6 (1983)
Teksvers: Hand 1:8; Jes 49:6; Hand 29

Vandag doen 14 kinders en 4 volwassenes Openbare Belydenis van hul Geloof. Ons vier hierdie heuglike dag saam met hulle en hul geliefdes terwyl onsself terugdink aan daardie besondere dag in ons eie lewe toe ons ons geloof in Jesus Christus openlik bely het. 

Handelinge 1:8 se opdrag en bedoelings eindig nie by die laaste verse van die boek nie… Rome is nie die einde van die wêreld nie! 

So is belydenis-aflegging nie die einde van ‘n pad nie, maar slegs ‘n mylpaal langs die pad na volkome gehoorsaamheid aan ons roeping en taak as gelowiges in hierdie wêreld. 

Mag die Here ons almal weer aanspoor tot dissipline in ons getuienistaak, om as sy geroeptes en gestuurdes die Evangelie se lig wyd en syd te laat skyn… tot aan die uiteindes van hierdie wêreld! 

Handelinge 29? 

Aangesien die boek Handelinge nie soos die ander Nuwe-Testamentiese boeke met “Amen” eindig nie, is kommentatore van mening dat die boek onvolledig is. Daar is ook die oorlewering dat die boek wel ‘n laaste hoofstuk gehad het wat dan verlore gegaan het. Sou jy dus op Google gaan soek dan vind jy jou werklikwaar daardie hoofstuk! U kan dit lees by die Google skakel https://rejectedscriptures.weebly.com/acts-of-the-apostles-chapter-29.html, en u sal verras wees hoe anders die boek Handelinge oorkom as dit sy einde moes wees. 

Die Bybel is egter nie ‘n storie of lewensverhaal van mense soos Paulus of Petrus nie maar die openbaring van die woorde en werke van God in die daarstelling van sy koninkryk deur Jesus Christus. Daarom het die boek Handelinge letterlik ‘n veelseggende “oop” einde (28:31). 

Van hierdie oorlewering oor die laaste moontlike hoofstuk lees ons in die Sonnini’s Travels in Turkey and Greece. 

Die Sonnini-manuskrip bevat die verslag van Paulus se reis na Spanje en Brittanje. Die dokument, wat na bewering die slotgedeelte van die “Handelinge van die Apostels” is, dek ‘n gedeelte van die tydperk ná Paulus se twee jaar gedwonge verblyf in sy eie huurhuis, in Rome. Dit is geskryf in die styl van die boeke Handelinge en lees nogal soos ‘n voortsetting. 

Die manuskrip is ingevleg gevind in ‘n kopie van Sonnini se Reise in Turkye en Griekeland en is gekoop by die verkoop van die biblioteek en besittings van wyle Regse eerbare sir John Newport Bart, van Ierland. Sir John se familiewapen is op die omslag van die boek gegraveer. Dit was al meer as dertig jaar in sy besit. 

By die boek was ‘n dokument van die Sultan van Turkye, wat aan C.S. Sonnini toestemming verleen om in alle dele van die Ottomaanse heerskappye te reis. Die dokument is vertaal deur C.S. Sonnini uit ‘n oorspronklike Griekse manuskrip wat in die Argief in Konstantinopel gevind is, en aan hom voorgehou deur die Sultan Abdoul Achment. 

Ds Maarten 

Dienende leierskap (servant leadership)

Skriflesing: Matteus 8:1-18 (1983)
Teksvers: Mat 8:1

Die groot versoeking as ons kom by leierskap is die misbruik van mag en gesag. Daar is ‘n sieklike honger na mag en die gevolglike misbruik daarvan in ons wêreld, en dit raak al die terreine van ons samelewing. 

Jesus kom stel vir ons die hoogste eise van sy koninkryk (Bergrede Mat 5-7), maar dan is Hyself ook bereid om Hom aan daar die eise te onderwerp en ware diens te lewer. 

Hy het immers gesê : 

“En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” (Mat 20:27-28) 

ʼn Nuwe lewe in Christus, Diens (6): Wat is jou verskoning?

Skriflesing: Jeremia 1:1-12 (2020)
Teksvers: Jeremia 1:7-9

Jeremia sê hy is te jonk. Jesaja roep uit: wee my ek is te sondig! Sara het gedink sy is te oud. Moses reken hy kan nie praat nie. Eva sê dit is die slang se skuld. Gideon beweer hy is te gering. Jakob is te bang of te hartseer. Kain is te kwaad. Adam sê dit is sy vrou se skuld. Maria was te bedroef. Jona hardloop weg. Josua dink nie hy kan Moses se skoene volstaan nie. Saul gaan kruip weg. Petrus verloën die Here. 10 van die 12 verspieders dink die reuse is te groot. Thomas wou eers die bewyse sien. Paulus het die kerk vervolg. 

Wat is jou verskoning? 

Dissiplines van ‘n Nuwe Lewe in Christus

Vir die laaste paar weke het ons gefokus op hoe ‘n nuwe lewe in Christus lyk. Wanneer jy ‘n nuwe mens is, wat in Christus vrygemaak is van die bande van die sonde en die dood, dan lyk jou lewe anders. Hierdie dissiplines is nie ‘n voorwaarde van verlossing nie, maar eerder ‘n sigbare kenmerk van ware gelowiges wat in Christus verlos is. 

Kom ons noem dit “kenmerke” van ‘n ware gelowige. Daar is baie van hierdie kenmerke, soos ons belydenis dit ook aantoon in die NGB art. 29. Dit is nie net die ware kerk wat kentekens het, maar so ook ware gelowiges. 

Vervolgens aangaande hierdie lidmate van die kerk: ons kan hulle maklik uitken aan die kenmerke van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig. 

Ten spyte van baie swakhede, en tekortkominge, bly gelowiges volhard en neem altyd hulle toevlug in Jesus Christus. Die groot vraag is altyd: Maar hoe doen mens dit? 

Deur TYD te maak… om God te KEN… uit Sy WOORD… in GEBED… 

en AANBIDDING… in GEMEENSKAP met God en sy kinders 

in die EREDIENS… 

en daarbuite. 

‘n Gesonde geestelike ingesteldheid fokus op huisgodsdiens, stiltetyd, diensbaarheid, Bybelstudie, getuienis/belydenis, offervaardigheid, mentorskap, feesviering, blydskap in die Here, vas, evangelisasie. 

Dit gaan nie net daaroor om te doen wat Jesus gedoen het nie, maar meer nog om te word soos Hy. Dissipelskap beteken om ‘n volgeling te wees. Om HEILIG vir God te wees. Om jou voor te berei vir die hemel. 

Oefen jou dan in die godsaligheid, dit is baie nuttig, want dit hou die belofte in nie net van die teenwoordige nie, maar van die ewige. 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »