Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 297 of 344)

Die sewe kruiswoorde

Skriflesing: Lukas 23:26-55
Teksverse: Luk 23:33

(1) Luk 23:34 “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wa hulle doen nie!”
(2) Luk 23:43 “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees”
(3) Joh 19:26,27 “Daar is u seun…Daar is jou moeder”
(4) Mat 27:45,46 “My, God, My God, waarom het U my verlaat?”
(5) Joh 19:28-30 “Ek is dors”
(6) Joh 19:30 “Dit is volbring!”
(7) Luk 23:46 “Vader in U hande gee ek my gees oor”

Laai af

WAAROM WAG?

Ons leef in die tyd waarin ons in besonder dink aan die uitstorting van die Heilige Gees. Het jy al gewonder waarom die Heilige Gees eers 10 dae na die hemelvaart uitgestort is? Waarom moes die dissipels 10 dae wag op die vervulling van die belofte van Jesus Christus volgens Johannes 16:7?

Die uitstorting van die Heilige Gees is een van die wonderlike gebeurtenisse wat in die Bybel verhaal word. Die Heilige Gees het gekom om altyd by ons te wees. Om hierdie wonderlike gawe te kon ontvang, was dit nodig dat die dissipels moes wag om ‘n paar dinge te leer.

Ons kan ons nie werklik indink wat in die gemoedere van die dissipels die voorafgaande tyd afgespeel het nie. Die een oomblik was Jesus nog hier op aarde. Hulle het gesien en gehoor en ervaar wat Jesus alles hier op aarde gedoen het. Dan die skok van die gevangeneming van die Here Jesus. Binne enkele ure die verhoor en die kruisiging van hulle Here en Meester. Binne drie dae van verslaentheid, die opstandig van Jesus uit die dood. Dan die 40 dae wat Jesus nog op die aarde is en dan die hemelvaart.

Hierdie tyd van wag was tyd van gebed en voorbereiding op die koms van die uitstorting van die Heilige Gees (Handelinge 1:4). Die wag hou in dat die Here hulle voorberei het om sy getuies te wees, om met oorgawe en vertroue die Here te kan dien. Die wag het ingehou dat hulle die gebeure van die afgelope tyd kon verwerk en werklik tot verstaan kon kom oor wie Jesus Christus werklik is en wat hulle opdrag was.

Mag jy nadink oor die tyd van afwagting wat die dissipels deurgegaan het tot met die uitstorting van die Heilige Gees. Mag jy ook leer om op die inwerking van die Heilige Gees te wag. Mag jy leer om te wag op die uitkoms en troos en bemagtiging van die Heilige Gees ook in jou eie lewe.

In Johannes 16:8-15 sê Jesus dat wanneer die Heilige Gees kom, dan sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan Jesus Christus se kant is, en dat die oordeel al gekom het. Die Heilige Gees sal die dissipels help om te verstaan dat die wêreld skuldig is aan sonde. Die dissipels sal sien dat die wêreld nie in Jesus Christus wil glo nie.

Verder hou wag op die koms van die Heilige Gees in dat die dissipels werklik die ware waarheid sal leer ken en verstaan. Die wag hou in dat hulle gereed is om dit wat deur die Heilige Gees verkondig is, te glo omdat dit van die Vader en die Seun af kom. Hy sal die dinge wat nog gaan kom, aan hulle verkondig. Hy sal Jesus Christus verheerlik in alles wat deur Hom aan ons geopenbaar is. Alles wat die Heilige Gees van Jesus Christus ontvang het, sal Hy aan hulle verkondig. Daarom was die wag die geleentheid om te verstaan, te glo en te gaan doen. Vanuit die uitstorting van die Heilige Gees kon die dissipels volhardend en met oortuiging die blye boodskap van redding en genade aan die wêreld uitdra.

Ds Paul

‘n Soete tuiskoms!

Skriflesing: Johannes 1:1-14
Teksvers: Johannes 14:1-3

Dink bietjie terug toe jy na ‘n lang tydperk weer huistoe gekom het… die soete tuiskoms! Kyk nou op na die hemel en sien gegrendelde deure wat oopgaan! Jesus die Groot Kwartiermeester besig om die kamers oop te sluit wat deur sonde en dood toegesluit was.

Daar kom nou iets groots… iets wat geen oog nog gesien en geen oor nog gehoor en in die verbeelding van geen mens ooit opgekom het nie!

Maak oop

Bly gefokus op die Môrester wat die dagbreek aankondig

Skriflesing: 2 Petrus 1
Teksvers: 2 Petrus 1:19b

Petrus verwys in hierdie gedeelte na twee dinge wat die boodskap van verlossing in Jesus Christus versterk en bevestig. Die eerste is die profesieë in die Ou Testament en die tweede is sy persoonlike oor- en ooggetuie oor Jesus Christus op die berg van verheerliking (Matt 17:1-8).

Hierdie blye boodskap van hoop en redding in en deur Jesus Christus is soos ’n lamp wat in ’n donker plek skyn. Die donkerte simboliseer die wêreld met al sy sleg en verkeerde. Daarteenoor simboliseer ‘n lamp die lig te midde van donkerte. Hierdie Lig in die donker wêreld is Jesus Christus.

Elkeen wat gefokus op die lig in en deur Jesus Christus lewe, sal weet dat Jesus Christus soos die helder môrester is wat die aankondiger is van die dag wat spoedig gaan aanbreek.

Mag die Heilige Gees jou in staat stel om die helder lig van Christus in jou hart te bewaar.

Laai af

 

« Older posts Newer posts »