Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 295 of 344)

God ‘n ervaarbare werklikheid in my lewe

In 2 Timoteus 3:5 word daar gepraat van die krag van godsdiens. Wat is hierdie krag van ons diens aan die Here?

Elke gelowige wat in ware geloofsgemeenskap met die Here staan, sal kan getuig hoe die krag van die Heilige Gees elke dag en elke oomblik in sy of haar lewe ‘n werklikheid is.

Vir die gelowige is dit baie belangrik om daagliks die persoonlike gemeenskap met die Here te kan beleef. Juis in die tyd van ons lewe, word dit net meer en meer ‘n behoefte om die Here as ‘n ervaarbare werklikheid te kan beleef.

As jy voel dat jou lewe vreugdeloos, sinloos, vol vrese, woede en uitdagings is, is dit nodig om te bid dat die Here deur sy Woord en Gees vir jou ʼn daaglikse ervaarbare werklikheid sal wees. Dit is dan wat die krag van God, in ons diens aan die Here, ‘n heerlike werklikheid word.

Vra jouself gerus maar af wat is die werklikheid en selfs wenslikheid van die Here in jou daaglikse lewe? Die Here wat by my huis, by die werk, by die skool en op die pad vir my ‘n werklikheid is, ‘n ervaarbare werklikheid, sal kan getuig dat sy of haar manier van dink en doen totaal anders geword het.

Om die krag van godsdiens te kan ken en te ervaar, is dit nodig dat ons die Here sal ken en vertrou soos Hy Homself in sy Woord aan ons geopenbaar het. Juis die geloof in die Here, sal soveel stukrag en moed vir jou gee in die uitdagende tye in jou lewe.

Mag jy deur die Heilige Gees gelei word om vanuit jou persoonlike verhouding met die Vader, Seun en die Heilige Gees, die strome lewende water wat uit jou binneste vloei, te ken en te kan beleef.

Ds Paul

Erfsonde en die gevolge vir die mens

Skriflesing: Romeine 5
Teksvers: Rom 5:12-14
DL: Hoof 3 en 4: Punt 1-3
HK: Sondag 2-4

Die Dortse Leerreëls (DL), hoofstuk 3 en 4 handel hoofsaaklik oor drie aspekte, nl:

  • Die verdorwenheid van die mens,
  • Die bekering tot God en
  • Die wyse waarop die bekering tot God plaasvind.

In die prediking sal daar vanuit Romeine 5 na die erfsonde en die gevolge vir die mens gekyk word. Die reformatoriese kerke wat die erfsonde bely, staan teenoor mense wat:

  • Glo dat die mens van nature goed gebore is
  • en teenoor mense wat dink dat die bose wat in die mens se hart is, bloot aangeleerde slegte gedrag is.

Voordat ‘n gelowige kan smag na verlossing, is dit nodig om eers te weet hoe gebroke die mens sonder Jesus Christus is.

Laai af

Raadpleeg liewer die Here

Skriflesing: Deut 7:1-6; Josua 9; Joh 17:13-17; 18:36-38
Teksvers: Josua 9:14

Kyk na die borde op die lamppale… Nogal interessant waarmee sommige politieke partye ons stemme wil werf… Meer werk en kos en geld en fisiese veiligheid.

Nogal ‘n lastige ding, ek bedoel nou die verkiesing: Wat moet ek stem? Ons kan tog nie net aan die fisieke dinge bly dink terwyl ons hoop eintlik op ‘n baie hoër vlak geleë is nie!? Of wat praat ek alles! Stem moet jy stem.

Kom ons stem beter as wat Josua en Israel gedoen het!!

Kom ons gaan biddend na die stembus, want ons wik maar God beskik.

Laai af

Gees, siel en liggaam: Wat is die verskil?

Kom ons begin by wat die Bybel sê oor die skepping van die mens. Ons lees daarvan in Ge-nesis 2:7: “Die Here God het toe die mens gevorm uit die stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ‘n lewende wese (letterlik: “lewende siel”) geword het”. Hieruit kan ons die volgende afleidings maak:

•Die mens is ‘n eenheidswese. Toe hy/sy gemaak is, is hulle tegelykertyd liggaam en siel gemaak. Ook uit Ps.139:13 is dit duidelik dat die mens ‘n eenheidswese van konsepsie af is.

•Die Bybel maak nie ‘n skerp skeiding tussen liggaam en siel, asof liggaam en siel twee “dele” is waaruit die mens bestaan, nie. Maar bedoel telkens die mens in geheel, as lewende wese. Net so ook praat die Bybel van “siel”. Vgl. Joh.10:11: “die goeie Herder lê sy lewe (letterlik: sy siel) af vir sy skape”.

•Al hierdie Skrifgedeeltes dui bloot aan dat dit nie voldoende (en volledig) is om te sê: ‘n mens het ‘n siel; of is ‘n siel nie. Net so ook: dat ‘n mens nie ‘n liggaam het of ‘n liggaam is nie.

•Die verste wat ons behoort te gaan is om te sê die mense lewe, en die lewe van die mens is sy lewe as liggaam en siel.

•Nog ‘n onderskeiding wat die Bybel ten opsigte van die mens maak (waarna jy vra), is “gees”. “Mag God… julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar…” (1 Tes.5:23). “Gees” wys egter ook nie op ‘n derde (ge)deel(te) van die mens nie, maar gee ‘n beskrywing van die wyse waarop die mens (as liggaam en siel) bestaan. Lees 1 Kor 2:10-12

•Hierdie eenheid (van liggaam en siel) word verbreek slegs by die dood, as gevolg van die skeiding van liggaam en siel. Die siel word onmiddellik deur God geoordeel en verkeer in die “doderyk” – vir gelowiges is dit by God in die (voorlopige) hemelse saligheid (wat die “finale” bestaanswyse van die gees van die mens is (Pred.12:7). Vir die ongelowiges is dit in die (voorlopige) helse smart (Luk.16:22-23). Met Jesus se wederkoms sal al die grafte oopgaan en die liggame opstaan en weer met die siel herenig word (Fil.3:20-21; 1 Tes.4:16-17). Hoe dit presies gaan gebeur, is die Bybel nie duidelik oor nie. Dit bly ‘n goddelike misterie, wat ek met verwagting en vreugde afwag.

Ds Charl van Rooy

Bron: http://www.gkrandburg.org.za/gesprekskamer/lysvrae/579-verdudelik-asb-of-ons-uit-liggaam-siel-en-gees-bestaan

« Older posts Newer posts »