Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 292 of 328)

Speel jy ook Morabaraba?

Skriflesing: Johannes 18 en 19
Teksvers: Johannes 19:1-3;14

Elders in ons nuusbrief vind jy die reëls vir die spel wat ons as kinders Meul genoem het. In my jong dae was dit veral die swartmense wat op straat hierdie spel gespeel het. Die doel was om die ander persoon te onttroon deur ‘n spel wat nogal vinnig gespeel word. Die swartmense speel dit nog deesdae gereeld en noem dit Morabaraba.
Die spel is egter donkiejare oud. Met ons toere deur die Bybelse lande het ons op ‘n paar plekke hierdie spel op die sypaadjies van die ou Romeinse stede uitgekrap gesien. Onder andere is daar so ‘n bordspel uitgekrap in die Fort Antonio, waar Pilatus se soldate hulle tyd met hierdie spel verdryf het (vlakby Gabbata, die Plaveisel). In daardie tyd is die spel in Grieks Basileus genoem, en word vry vertaal as die Konings-spel (The King’s Game). U kan seker u indink dat daar nogal heelwat geld met hierdie tydverdryf weggedobbel is.
Miskien speel ons vandag nog gereeld hierdie spel ten koste van die Here!?

Laai af

In die wêreld, maar nie van die wêreld

SkriflesingJoh 17
TeksversJoh 17:15

Ons Here Jesus Christus bid in hierdie gebed vir sy dissipels op ‘n hartroerende manier. Hy staan self op die vooraand van geweldige lyding, spot en Godsverlatenheid. Tog is Jesus se fokus op die belange en uitdagings in die toekoms van die dissipels. Hy bid dat hulle, hulle roeping en taak sal kan verstaan en uitvoer. Dit te midde van ‘n vel aanslag wat hulle van die wêreld kan verwag as Hy opgevaar het na die hemel. Jesus bid nie dat die dissipels hulle sal onttrek van die wêreld nie. Hy bid wel dat ons hemelse Vader die gelowiges deur die werk van die Heilige Gees van die Bose sal bewaar.

Mag jy in hierdie gebroke wêreld weet dat Jesus Christus vir jou by die Vader intree. Mag jy ervaar hoe die Here jou beskerm en bewaar teen die aanslag van die duiwel en sy bose magte. Ons word nie wêreldvermyders nie, maar is geroep om in hierdie wêreld ligdraers te wees van die Blye Boodskap in Jesus Christus.

Laai af

God het ons gered, geroep om toegewy aan Hom te lewe

Skriflesing: 2 Tim 1:1-18
Teksvers: 2 Tim 1:9

Die meeste van ons het van babadae van God gehoor en geleer. Die meeste van ons is onderrig en geleer in die Christelike, gereformeerde leer vanaf graad 1-11. Wat ‘n voorreg! Op die manier het ons God leer ken, sy Woord leer ken en het God die geloof aan ons geskenk. Ja sonder enigste verdienste van ons kant het God ons begenadig met geloof en liefde. Die geloof en die kennis van God en van die evangelie het, moet ons in dankbaarheid leef.

Maar nou dat ons volwasse mense is en ons God ken en belydenis van ons geloof gedoen het of nog wil doen, moet ons dapper, entoesiasties en geestelik lojaal teenoor God wees. Want om God te dien is die belangrikste en die heerlikste roeping en taak wat ons op aarde het. Daarom is die belydenis van geloof aflegging sekerlik die grootste en belangrikste gebeurtenis in elke gelowige se lewe.

2 Tim 1:9

“Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het.”

Laai af

EER DIE KONING!

“Vloek die koning selfs nie in jou gedagtes nie,…” (Pred 10:20)

Die Prediker (Heb: Koholet) gee goeie raad aan sy lesers. Hy is ‘n man van wysheid… soos Salomo, of dalk is dit selfs die einste hy, Salomo, die seun van Dawid (Pred 1:1). Hy vergelyk ons dwase optre- de met diere: vlieë (10:1), slange (10:11) en voëltjies (vs 20). Hy vermaan ons om te dink oor WAT ons praat (vs 12), oor HOE ons praat (13) en oor WAAR ons praat (20). Hy waarsku die dwase wat hul woorde misbruik.

Vers 20 gee so byna terloops wyse raad oor hoe jy van jou koning moet praat, of eerder hoe jy NIE moet praat nie. Die gewone Engelse vertaling lui: “Don’t bad-mouth your leaders, not even under your breath, and don’t abuse your betters, even in the privacy of your home. Loose talk has a way of getting picked up and spread around. Little birds drop the crumbs of your gossip far and wide.” Die NAV vertaal met “moenie jou koning verwens nie”!

Wees gewaarsku om die koning nie af te breek nie. As jy sleg praat van jou leiers voor kinders dan verloor die volgende geslag alle ontsag vir hulle leiers en raak ‘n ongedissiplineerde bende (kyk hoe spot die kinders van Bet-El vir die profeet Elisa en die berinne vreet 42 van hulle op! (2 Kon 2). Behal- we hierdie en ander gevolge kan jy dalk selfs by die koning in die moeilikheid kom… die storie word oorvertel. Pasop vir die voëltjies!

Nee, dit is nie die gelowige se plek om die koning/president in ons land/ of ander leiers te verkleineer, te beskinder of sleg te maak nie. Hulle is daar deur God om ons te regeer. Hulle is dienaars van die allehoogste God, en hulle sal self eendag rekenskap daaroor moet doen. Die Heid Kat verklaar die vyfde gebod juis met: dat ons met ons ouers en leiers se gebreke geduld moet hê, want God wil ons juis deur húlle regeer (Sondag 39).

Daar is geen koning wat nie foute maak nie. Mag doen vreeslike dinge aan ‘n mens. Ons kan hier aan Salomo self dink. Salomo die wyse… hy val in die strik van versoeking van vroue en perde en dinge. So ook die goeie Hiskia… en kyk maar koning Dawid. Ai, as ons nie met hulle geduld kan hê nie… hoe sal God met ons en ons sondes geduld kan hê?

Daar is maar net een koning wat bo almal uitstyg. Jesus, die Koning van die konings! Hy moet ten alle koste geëer word. Elke knie sal buitendien eendag bely dat Jesus die groot Koning is (Fil 2:11). Hy het betaal vir jou en my en vir Salomo en elke swakke koning wat sy Naam bely! Vir presidente ook.

God stel konings aan en Hy alleen werp konings en koninkryke neer. Die owerhede is daar deur God gestel. Moet hulle nie vloek of verwens of verkleineer nie, selfs nie in jou gedagtes nie (Pred 10:20). By gelowige kinders van God pas nuwe gedagtes (Rom 12:2). Ons as kinders van God dink ons nuut oor ons land, ons leiers, ons president en oor alles. Net God kán en sál leiers verwyder as Hy wil. Verder is dit God se wil om hulle te gebruik. Onderwerp jou dus aan die owerheid (Rom 13). Bid vir die owerheid. Bid vir die president (koning). Luister hoe skryf die apostel: 1 Petrus 2:17 – “Julle moet almal eer, die broederskap liefhê, God vrees, die koning eer.” Dit is wat Petrus onder die vreesaanjaende Romeinse owerheid, vir gelowiges leer. Dít is wysheid wat van bo kom!

Ds Maarten

Berou oor sonde word sigbaar

Skriflesing: Miga 1
Teksvers: Miga 1:10-16

Is dit nodig dat jy jou berou oor jou sonde sigbaar sal maak? Indien jy wel berou het oor jou sonde, hoe maak jy dit sigbaar?

In hierdie hoofstuk kla die Here vir Israel aan, oor hulle voortgaan- de en volhardende sonde. Hy spreek ‘n oordeel oor hulle uit oor al die uitdagende en openlike sonde wat hulle gepleeg het. Die tyd van genade is verby. Die ballingskap gaan plaasvind. Daarom kom die Here in vers 16 en sê:

“Skeer ’n kaal kol op jou kop, skeer ’n kaal kol op jou kop soos dié van ’n aasvoël, want dié oor wie jy bly is, sal van jou af in ballingskap weggevoer word.”

In daardie tyd was berou, smart, verootmoediging en sonde bely- denis onder andere sigbaar gemaak deur die skeer van hare.

Mag jy jou opregte berou oor jou sonde gebrokenheid in jou woor- de en dade sigbaar maak.

Laai af

« Older posts Newer posts »