Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 291 of 328)

Betlehem – Het jy geweet?

Mense wat vandag Betlehem, die geboorte plek van Jesus, in Israel besoek, besef dat daar niks oorgebly het van die “oop velde” waar herders hulle skape laat wei het nie. Vandag is die hele gebied toegebou en val Betlehem sedert 1995 onder die administrasie van die Palestyne. Dit is ‘n gebied wat oorstroom word deur toeriste, busse en motors. Oor die plek (‘n grot) waar Jesus sogenaamd gebore was, is vandag ‘n kerkgebou. Drie godsdienstige groeperinge span saam om die kerk wat oor die sg geboorteplek van Jesus gebou is, te bestuur. Betlehem was eintlik maar net ‘n gehuggie in die tyd van Dawid en selfs met die geboorte van Jesus. Betlehem se ontstaan gaan vermoedelik sover terug as ongeveer 1400vC.

Die naam Betlehem beteken in Hebreeus “huis van brood” en in Aramees “huis van vleis”. Daar is geleer- des wat meen die stad is oorspronklik vernoem na die Kanaänitiese vrugbaarheidsgod, “Lehem”. Betle- hem is ongeveer 10 kilometer Suid van Jerusalem geleë.

In die Bybel word daar die eerste keer na Betlehem verwys in Genesis 35:19 (sien ook Genesis 48:7) wat oor Jakob se vrou, Ragel, se graf gaan. Rigters 19:1 verwys na die Leviet wat vir hom ‘n byvrou uit Betlehem in Juda gevat het. Rut 1:1 verwys na Elimelek en sy vrou Naomi wat agv hongersnood uit Betlehem na Moab vertrek het. In 1 Samuel 16:13 word Dawid tot koning gesalf en in 1 Samuel 20:6 word daar na Betlehem as die familiewoongebied van Dawid verwys. Dit hou dan ook in dat hy daar gebore is. 2 Kronieke 10:6,11 en 12 vertel van Rehabeam wat onder andere Betlehem herbou en versterk het. Esra 2:21 vertel dat daar 123 balinge na Betlehem terug gekeer het. Lukas 2:4 vertel ook van Josef en Maria wat na Betlehem gegaan het om te registreer as afstammelinge van Dawid. In Johannes 7:40 – 42 word vertel van die meningsverskil onder die Jode oor Wie Jesus is. Omdat Jesus in Nasaret in Galilea groot geword het, het van hulle gemeen dat Hy nie die Christus kon wees nie, aangesien die Skrif (Miga 5:1) sê dat die Christus uit die nageslag van Dawid en uit Betlehem sou kom.

Betlehem was vernietig in die 2de eeu nC. Die stad is na bewering herbou onder aansporing van Konstantyn die Grote se ma, Helena. Sy het na bewering die opdrag in ongeveer 327 nC gegee dat ‘n kerk (die kerk van Nativiteit – dit beteken: oorsprong of geboorteplek van Jesus) oor die sogenaamde grot waar Jesus gebore is, gebou moes word. Die kerk was in ongeveer 529 nC deur die Samaritane erg beskadig en is toe weer daarna herbou.

Van 637 nC tot ongeveer 1099 is Betlehem deur die Moslems beheer. Die kerk het verval en is weer in die 16de eeu nC deur die Ottomans herbou. Gedurende 1948 het Betlehem onder die beheer gekom van die Jordaniërs. In 1967, in die sesdagoorlog, het Betlehem weer onder die beheer gekom van Israel. Betlehem se meeste inwoners is tans Moslems. Daar is egter ook ‘n sterk Palestynse Christelike gemeenskap. Vandag word Bethlehem veral gedurende die kersseisoen deur Christen pelgrims oorstroom.

Gelukkig gaan dit nie vandag meer oor Betlehem nie. Betlehem herinner ons wel vandag nog aan die Here wat sy beloftes in stand hou en dat Hy die Here van redding en genade is.

Ds Paul

Reformasietoer 2019

Italië, Duitsland, Switzerland gedurende 15-26 Julie 2019

+/- R30 000

Kontak: Maarten van Helden vir navrae by 072 143 1855

Stede wat besoek word sluit in: Rome, Venisië, Wittenberg, Eisleben, Erfurt, Eisenach, Mainz, Worms, Swartwoud, Basel, Genevé…

Nog ‘n jaar is byna verby

Nog ‘n jaar is byna verby. Oor ongeveer ‘n maand is 2018 vir altyd verby en sal ons DV 2019 ingaan. Die jaar het weereens verbygesnel en almal is verbaas oor hoe vinnig die jaar ten einde geloop het. Dit is altyd goed om retrospeksie te hou oor die afgelope jaar se bedrywighede. Weereens kan ons as gemeente getuig dat God in beheer was en is en altyd sal wees van ons almal se lewens. Op die afgelope kerkraadsvergadering het die verskillende kommissies gerapporteer oor die verskillende werksaamhede van die afgelo-pe jaar. Baie broeders en susters en kinders het baie werk ingesit om die gemeente bedrywighede vlot te laat verloop. Hoe moet ons dan nou alles evalueer? Maklik meetbare sake is sekerlik die finansies en al die ander bedrywighede. Ons kan getuig van evangelisasie, jeugwerk, bejaardebediening, hoeveel huisbesoeke gedoen is, hoeveel katkisasielesse is gegee, hoeveel kinders belydenis van hulle geloof gedoen het, ens.

Maar wat is die kern van alle bedrywighede? Die kern van alles lê in die groot gebod opge-sluit van Mat 22:34-46, wat gaan oor die liefde vir God en vir ons naaste. Het God al die eer gekry hierdie jaar in die gemeente en in jou persoonlike lewe? Die vraag is hoe eer jy God? God word geëer deur alles wat ons is en het en doen moet in afhanklikheid en tot eer van God gedoen word. Daarom het niemand iets om op te roem nie, maar het ons alles wat ons gedoen het in afhanklikheid, in gehoorsaamheid, gedoen wat God gevra het?

Alles wat ons is en het kom van God en behoort aan God. Daarom moet ons alles wat ons is en het in diens en tot eer en tot voordeel van God gebruik. Niemand kan op sy eie staande bly nie. As God ons nie dra en ons krag en genade verleen nie, sal ons nooit die lewe ten volle kan lewe nie. Maar nou het ons die voorreg dat ons lewe en ons sterwe tot eer van God is. Want uit genade het God ons geroep en wederbaar en aan Hom toegewy.

Aan God al die dank vir hierdie jaar se genade.

Aan God al die eer vir sy genade en liefde.

Mag alles wat ons is en dink en doen tot eer van God wees.

1 Tim 1:17

“Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.”

Ds Gerrit

« Older posts Newer posts »