Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 208 of 328)

God se liefde is lewe

Skriflesing: 1 Johannes 3:1-24
Teksvers: 1 Johannes 3:15
HK Sondag 40

In Hom is die lig, en die lig is die lewe van die mense… So getuig Johannes oor Christus. Christus is lewe. Hy gee lewe uit die dood. En hierdie lewe rig die mens op die ewige. As God lewe gee, en sy lig in jou skyn deur Sy liefde, kan jy nie anders as om God ook lief te hê nie. Elkeen wat God liefhet, sal ook sy naaste liefhê.

Dit is die wese van die 6de gebod. Die lewensgebod. God se liefde, waardeur ons lewe. As hierdie liefde nie sigbaar word in ons lewe nie, beteken dit ons is geestelik dood.

Ons staan vanaand stil in die lig van die 6de gebod by 1 Johannes 3:15 “Elkeen wat sy broer haat, is ‘n moordenaar, en geen moordenaar het die ewige lewe blywend in hom nie.”

Laai af

Brose mense en tog in God se diens!

Skriflesing: Spreuke 30:24-28; 2 Kon 5:1-18
Teksvers: Spreuke 30:28; 2 Kon 5:2,3,9,10,15

Vier klein dingetjies op aarde met buitengewone wysheid

“’n Geitjie kan jy met die hand vang en tog kry jy hom in koninklike paleise.”

‘n Geitjie is ‘n brose soort akkedissie. Ons sien hom dikwels in huise waar hy teen mure sit. In die aand sit hy by ‘n lig en vang muskiete en allerhande klein goggatjies. ‘n Geitjie is ook baie weerloos en daarom is hy skugter en kruip weg sodat jy hom nie maklik kan sien nie. Jy vang hom baie maklik met die hand. Omdat hy egter so skugter is kruip hy ongesiens selfs in paleise weg.

So lees ons ook van ‘n klein dogtertjie, naamloos en tog was sy instrumenteel in ‘n leeraanvoerder se herstel van melaats-heid. Is jy in God se diens? Is jy diensbaar vir God?

Laai af

Geloof, Hoop, Liefde

Almal sien uit om 2020 agter die rug te kry. Dit is asof die einde van die jaar net nie wil aanbreek nie. Ons wens eintlik om net hierdie nagmerrie jaar, die Annus Horribilis, om te kry. Vir die grootste gros mense oor die wêreld heen was 2020 menslik gesproke ‘n mislukking en ramp. Al die inperkingsregulasies en die aanpassing in ons sosiale en persoonlike lewe sowel as by die huis, werk en die kerk het soveel stremming en spanning veroorsaak.

Wat nog te sê van die isolering, die afsondering, die eensaamheid en die hartseer van mense wat bitter siek geword het, en vir hulle wat gesterf het. Nou beleef ons alweer die oplewing van die virus met ‘n styging in infeksies en moontlike verdere regulasies… Dit voel kompleet asof ons lewe net nie uit tweede rat wil kom nie…

Die groot deel van die boeke in die Bybel is geskryf onder moeilike omstandighede soos ons dit nou beleef. Paulus het selfs briewe uit die tronk geskryf en onder huisarres. Johannes as ‘n banneling op Patmos. Petrus skryf aan mense wat leef in die verstrooiing vanweë vervolging.

As ons hierdie briewe lees, en die aanmoediging en vermaning hoor, dan kom daar ‘n opvallende driedubbele begrip telkens na vore. Drie begrippe wat altyd saam gebruik word. Hulle staan die duidelikste en die meeste bekend uit die 1ste Korintiër brief hoofstuk 13, hoewel hulle in feitlik elke brief prominent is.

Lees gerus weer Romeine 5 en 8, 2 Korintiërs 1, Galasiërs 5, Efesiërs 1, Filippense 1, Kolossense 1, 1 Tessalonisense 1, 2 Tessalonisense 2, 1 Timoteus 1, Titus 1 en 2, 1 Petrus 1 ens…

Geloof, Hoop en Liefde kom op verskillende maniere en in verskillende volgordes voor. Hierdie drie is altyd aanmekaar gekoppel. Want elkeen wat Hoop het, kan tog nie hoop sonder om te glo nie. En elkeen wat glo, glo nie sonder hoop nie. En hoe kan jy glo sonder dat die liefde van Christus aan jou bewys word. God is Liefde, Hy skenk ons geloof en Hy gee Hoop.

Dit is wat ons kan neem uit hierdie jaar. Dat ons die geloof behou wat gewortel en gegrond is in die liefde van Christus wat aan ons bewys is, en wat ons ook aan ander moet bewys. Met ons harte gerig op die toekoms, met hoop. Ons hoop is nie net ‘n vae wens van ‘n beter toekoms nie, maar ‘n geloofsekerheid wat gegrond is in die vaste beloftes van God se woord. Wat bewys is deur Sy liefde en trou.

Hou vas aan die beloftes van God se woord met ‘n onwrikbare geloof. Streef na die toekoms in hoop. Wees verseker van God se liefde en trou. Want in Hom is ons meer as oorwinnaars.

Lourens (vdm)

« Older posts Newer posts »