Skrywer: admin (Page 189 of 328)
Skriflesing: Lukas 24:30-53
Teksvers: Lukas 24:44
Na die manne van Emmaus terug gekom het in Jerusalem en by die ander dissipels aangesluit het, het hulle met groot blydskap openlik getuig van alles wat met hulle gebeur het. Die volgende oomblik staan Jesus in hulle midde. En toe hulle van blydskap nie kon glo wat hulle ervaar nie, begin die Here met hulle praat en Hy eet voor hulle oë.
Dan verduidelik Hy dat alles wat gebeur het, reeds in die wet, die profete en psalms vooruit verkondig is. Die Ou Testament is die belofte van God se genade. Hy wat Jesus is, is waarlik die verkondigde Christus.
Ons staan vanaand stil by die onuitspreeklike blydskap wat Jesus Christus bring deur die geloof. Amen
Skriflesing: Jesaja 51:17-53:5; Romeine 1:1-7
Teksvers: Jesaja 52: 7
Hoe lieflik is op die berge die voetstappe van hom wat die Goeie Boodskap bring… Wat ‘n Boodskap van vrede en verlossing aankondig. Wat ‘n Goeie tyding bring, wat redding verkondig. Wat sê: Jou God is Koning… Dit is die evangelie. Die Goeie boodskap. Die Blye tyding.
Ons sluit vanoggend af met die vraag: wat maak jou bly? Vandag is daar maar min dinge om oor bly te wees. Tog het ons gesien dat die Here se Verlossing ons bly maak. Dat die Here se gawes ons versorg, waarmee ons Hom kan dien. Dat die Here oor ons bly is. Maar bo alles, is die boodskap van God se genade, die evangelie, die Bybel, ons diepste bron van vreugde. Want dit verkondig aan ons Christus en Hom as die gekruisigde.
Die Evangelie is die boodskap wat ons bly maak! Amen
“Gaan om Sion, trek reg rondom, tel sy torings, bewonder sy mure, bekyk sy versterkings, sodat julle dit aan ‘n volgende geslag kan vertel!” (Psalm 48:13,14)
Oor die eeue heen het Jerusalem ontwikkel van die klein stadjie, Jebus – die goed versterkte stad waar die Jebusiete gewoon het – tot “die stad van die groot Koning” (Ps 48:3). Nie net die stad van koning Dawid nie, maar uiteindelik die stad waar die Here Jesus deur sy kruisdood en opstanding die groot verlossing vir sy volk berei het. Die voleinding van sy werk word voorgestel in ons verwagting van die komende nuwe stad Jerusalem (Op 21). Dit is ook die stad, die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel sal neerdaal!
Jerusalem, alias Sion, is die metafoor van die werk wat God in en deur sy kerk op aarde tot stand bring. Natuurlik het ons nie ’n fisiese stad met steenmure nodig nie, want die kerk van die Here is eintlik soos ’n “stad sonder mure”, omdat die Here self, soos ’n vuur rondom die stad, sy kerk, sal wees (Sag 2:4,5). Ons, sy kerk, is die “lewende stene” wat opgebou word tot ’n “geestelike huis” (1 Petrus 2:5).
As ons dus gehoor gee aan die oproep van Psalm 48:13 om die stad met sy mure, torings en versterkings te gaan bekyk, sal ons in verwondering God prys vir sy groot dade. En ons sal rede hê om dit aan ons kinders te vertel (48:14).
So is dit ons plig om die vaste torings vir ons kinders duidelik te laat sien en te laat verstaan. Hiervan is hul Doop die eerste toring. Daarna styg die torings van die Nagmaal en Eredienste uit, omring deur die wonderlike versterkings van Bybelstudiegroepe, kleingroepe, omgeegroepe en ouderdomsgroepe (tieners, jongmense, seniors). Versterkings wat elkeen staande hou teen die aanslae van die bose; veilige skanse waar broers en susters mekaar kan aanmoedig en versterk om te volhard in die geloof. Ons kerkverband is soos ’n muur van veiligheid en elke ampsdraer op huisbesoek, is soos ’n wagter op die mure wat vanuit die torings oor elkeen se geestelike lewe waghou.
En so word die kerk van Centurion soos ’n stad wat op ’n berg gebou is (Mat 5:14). Ons is immers geroep om ’n lig vir die nasies te wees. “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (Mat 5:16).
As ons sou terugkyk op die werk van die Here hier oor die jare heen is dit net met die bedoeling om die Here te prys vir sy standhoudende genade. Hy is hier in Centurion steeds in en deur ons aan die werk. Hy sal dit wat Hy begin het, ook voleindig! (Fil 1:6)
Ds Maarten