Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 189 of 344)

Het jy tyd om vrug te dra tydens die inperkings?

Joh 15:4
“Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.”

Dit is belangrik om vrugte te dra wat by die bekering pas. Veral in hierdie tyd van inperkings moet ons bly vrug dra. Maar nou is die probleem dat ons nie meer vrylik, elke Sondag, eredienste kan en mag bywoon nie. Is dit ‘n probleem vir jou om vrug te dra? 

Die probleem is dat baie Christene se vrug dra beteken om eredienste by te woon en die res van die week is daar nie baie tyd om aan God te spandeer nie. Miskien kan ek selfs as predikant of ouderling of diaken of suster baie besig wees met “kerkwerk”. Dit kan wees dat jy baie tyd spandeer by die kerk en vir die kerk en met die kerk. Määr hoeveel tyd spandeer jyself, fisies met Bybellees en persoonlike gebede. Die wedergeboorte is om as ‘n ware ingeënt te word in die wingerdstok, Jesus Christus. 

Hierdie inenting vra tyd saam met God. Dit vra dat jy persoonlik tyd moet spandeer met Bybellees en bid. Jy moet biddend deur die leiding van die Heilige Gees jou krag put uit die Woord. Die gevolg is ook dat jy sal honger na nog meer, na die geestelike voedsel. Ook Sondae word ons gevoed in die eredienste. Daarom sal jy ook hunker na die eredienste, sal jy ywerig, binne die protokolle, Sondag die eredienste wil bywoon. Net soos wat jy werk toe moet gaan, winkels toe moet gaan vir kos, kan jy ook na die eredienste toe kom. Moet daarom nie te besig raak met jou werk, jou persoonlike sake, jou wegkruip vir die virus en nie by God uitkom nie. 

Is jy werklik besig om soos ‘n loot aan ‘n wingerdstok, in hierdie tyd van inperkings en die virus, jouself te voed met die Woord? Is jy besig om geestelik te groei soos in loot wat ‘n tak word? Dit is so noodsaaklik tot verheerliking van God en tot vertroos-ting en versterking van ons almal. Mag God ons vashou en seën en voed in Sy groot, onmeetbare liefde en barmhartigheid. 

Ds. Gerrit 

Arbeid van Liefde

Die verskillende maniere waarop die terme Geloof en Hoop en Liefde gebruik word in die Nuwe Testament, laat ‘n mens telkens verwonderd. In 1 Tessalonisense 1 word die Grieks vertaal met arbeid van liefde, die ander van inspanning. In die 2020 vertaling staan daar die moeitevolle inspanning van liefde… 

Liefde is immers baie meer as ‘n gevoel. Dit is ‘n daad. ‘n Mens bewys liefde deur jou optrede. En hierdie optrede is baie kere met moeitevolle inspanning. Liefde sou ons kan sê is harde werk. Dit is tog juis die gewilligheid van jou vriend of vriendin se uiterste moeite wat hulle so kosbaar maak. Dit is jou pa en ma se ongekende inspanning om jou laste te help dra waarmee hulle liefde aan jou bekend word. Dit is die verpleegster wat met soveel ekstra moeite nog ‘n keer opdaag en help versorg, wat haar liefde bewys. Die dokter wat uit die pad gaan om iemand se lewe te red of verbeter. Die vreemdeling wat langs die pad sonder vrae help en hand bysit. 

Elke dag is daar mense wat met moeitevolle inspanning hulle liefde uitleef, sonder dat dit waardeer word of altyd gesien word. Ten minste nie deur mense nie. Maar dit is juis wat God raaksien. Die gewilligheid wat ons het om met liefdesinspanning ander mense te help… Dit is daardie inspanning van ons liefde wat so groot beloning inhou vir elkeen wat dit bewys. 

Dit is juis deur die uitleef van die liefde en die inspanning van ons lewe wat die wêreld anders en beter maak. Die feit dat daar iemand is wat jy weet jy kan bel wat geen moeite sal ontsien om jou te help nie, bring baie vertroosting en berusting… Die feit dat daar iemand is wat met moeitevolle inspanning dit geen moeite ag om die liefde van Christus uit te leef nie, maak jou lewe beter. 

Paulus moes inderhaas in die nag uit Thessalonika vlug vir sy lewe. Hy was maar skaars drie weke daar. Dan stuur hy vir Timotheus, ‘n jong man wat hy kort te vore ontmoet het, terug om die nuutbekeerde gelowiges te ondersteun. 

Hierdie mense het skaars ‘n evangelis vir drie weke gehad, toe daar met geweld teen hulle opgetree word en hulle gedreig word om nie hulle geloof in Christus uit te leef nie. Hulle het geen moeite ontsien om hierdie splinternuwe geloof in Christus te omhels en self daardie lief-de uit te leef nie! 

Mag die Here gee dat ons liefde ook so geken word. Dat ons liefde ‘n werk sal wees. Dat ons sal arbei in liefde. Dit is daardie liefde van Christus wat ons dring… 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »