Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 188 of 344)

Volharding in die Geloof is die vrug van Hoop

Hulle wat God volgens sy voorneme tot die gemeenskap van sy Seun, ons Here Jesus Christus, roep en deur die Heilige Gees wedergebore laat word, verlos Hy wel van die heerskappy en slawerny van die sonde. Tog verlos Hy hulle in hierdie lewe nie heeltemal van hulle bedorwe natuur en bestaan nie.

Hieruit ontstaan die daaglikse sondes van swakheid, en selfs die allerbeste werke van die heiliges is nog gebrekkig. Daarom moet hulle voortdurend voor God verootmoedig, hulle toevlug tot die gekruisigde Christus neem, die bedorwe natuur hoe langer hoe meer doodmaak deur die Gees van gebed en die heilige beoefening van godvresenheid en vurig na die bereiking van die volmaaktheid verlang, totdat hulle losgemaak van hierdie sterflike liggaam, met die Lam van God in die hemel regeer.

Vanweë die oorblyfsels van die inwonende sonde en ook vanweë die aanvalle van die wêreld en die Satan kan die bekeerdes nie in hierdie genade volhard as hulle aan hulle eie kragte oorgelaat was nie. Maar God is getrou. Uit barmhartigheid bekragtig Hy hulle in die genade wat een maal aan hulle gegee is, terwyl Hy hulle ook tot die einde toe kragtig daarin bewaar.

Die mag waardeur Hy die ware gelowiges in die genade bekragtig en bewaar, is so groot dat dit nie deur die sondige natuur oorwin kan word nie…

Hierdie bewaring van God word ook vermeld in die teksvers op die embleem van die GKSA: Die poorte van die hel sal dit nie oorweldig nie. Dit word ook genoem in die doopsformulier: dat hulle wat gedoop is altyd deur die Heilige Gees regeer sal word, sodat hulle Christelik en godvrugtig opgevoed mag word en in die Here Jesus Christus mag groei en toeneem, sodat hulle die Vaderlike goedheid en barmhartigheid, kan bely en in alle geregtigheid onder ons enigste Leraar, Koning en Hoëpriester, Jesus Christus, kan lewe en moedig teen die sonde, die duiwel en sy hele ryk kan stry en oorwin, om die Drie-enige God te verheerlik en te loof en te prys.

So troosryk en bemoedigend is ons belydenis (Dordtse Leerreëls 5.1-3|). Hierdie woorde van ons belydenis moenie net by woorde bly nie, dit moet ook sigbaar word in ons lewe… Hou daarom vas aan die beloftes van God in Sy Woord. Leer Hom ken deur jou te verdiep in die Skrif. Volhard in jou geloof. Want volharding in die geloof is die vrug van Hoop!

Lourens (vdm)

God wat alles voorsien, moet aanbid word

Skriflesing: Psalm 39; Rom 8:37
Teksvers: Psalm 39:10
HK: Sondag 10

Die Vader van Jesus Christus is ook ons Vader! (Sond 9) ’n Vader wat sorg. ’n Almagtige God wat omvattend sorg. Soveelso dat ons weet dat alles uit sy Vaderhand na ons toe kom.

Daar is niks wat sy oog sal mis en waar sy hand nie kan bykom nie. Daarom laat Hy geen plek vir dinge soos toeval of noodlot of blote geluk nie – die afgode van die wêreld wat nie van die heerlike voorsienigheid van die Vader weet nie. Hulle dink nog hulle lot is in hul eie hande.

Wie egter onder die besef en indruk kom van die almagtige en alomteenwoordige krag van God (Sond 10), kom selfs in die teenspoede van die lewe en buig in aanbidding van die Vader van ons Here Jesus, wat so omvattend vir ons sorg!

In Christus word ons geloofswerke sigbaar in die liefdesywer deur volharding in die hoop

Skriflesing: 1 Tessalonisense 1:1-10 Handelinge 17:1-14
Teksvers: 1 Tessalonisense 1:3

Kort nadat Paulus en Barnabas terug gekeer het van Jerusalem oor die vraagstuk van die besnydenis by die heidene, besluit hulle om op ‘n tweede sendingreis te gaan en die nuwe gelowiges te ondersteun. Silas gaan saam met Paulus en hulle besoek weer die gemeentes in Listre, Ikonium en Derbe waar hulle Timoteus vind en saam neem.

Deur die Heilige Gees word hulle gewys om na Europa te gaan. In Filippi word die eerste gemeente in Europa gestig, waarna hulle verder reis tot in Thessalonika. Na drie weke moet hulle inderhaas vlug, en kort daarna skryf Paulus hierdie brief waarin die drie sake sommer uit die staanspoor genoem word oor die

  • werk van hulle geloof
  • inspanning van hulle liefde
  • volharding van hulle hoop in Christus
« Older posts Newer posts »