Skrywer: admin (Page 190 of 328)
Skriflesing: 1 Kor 15:19; Lukas 24:13-35
Teksvers: Lukas 24:21 (en 27,35)
Die dorpie Emmaus is so 12 km buite Jerusalem. So drie ure se flink stap of dalk bietjie langer vir die stadiges. Veral as jy diep in gesprek is en dan ook nog swaar van gemoed.
Hierdie twee volgelinge van Jesus is diep bedruk. Dinge het gewoon net nie uitgewerk nie! En om jou nou te steur aan die vroue-praatjies sal darem nou nie so eervol wees nie… Totdat die teendeel letterlik bewys word!
Let dan op na die gesindheidsverandering by ons twee broers van Emmaus. Wat maak die verskil? Hoe kry mens weer moed langs die pad van die lewe met al sy teleurstellings?
Leidraad: God stel nooit teleur nie!
Skriflesing: Open 5:1-14
Teksvers: Open 5:5
In Openbaring 4 lees ons van die “Wetgewende Gesag”. Johannes sien ’n deur in die hemel met God wat op die Troon sit. God die Wetgewer en Wetmaker sit in sy heerlikheid in die hemel.
In Openbaring 5 lees ons van die “Uitvoerende Gesag”. Die uitvoerende gesag moet die wetgewende gesag se woorde openbaar.
Dit kry Hy in die Boekrol wat met sewe seëls verseel is. Maar Johannes sien die boekrol in die regterhand van God en daar is niemand wat die boek kan oopmaak nie. Hy huil verbitterlik, want hy wil weet wat in die boek staan. Vir ons is dit van die grootste belang wat in die boek staan. Daarom gaan ons na drie sake kyk:
- ’n Geslote Boek.
- ’n Geopende Boek.
- ’n Vertroostende Boek.
Ons hoor so gereeld as iemand uit die erediens stap die opmerking: “Dit was ‘n goeie boodskap” of dalk: “ek het nie ‘n boodskap gekry nie… ”
Dit laat ‘n mens diep nadink wat is die doel van die erediens en of die erediens die plek is waar die Woordbedienaar ‘n “boodskap” moet bring. Gaan jy na die erediens om die boodskap van die predikant te hoor? Of gaan jy na die erediens om jou “offer” te bring.
Natuurlik is daar ‘n boodskap wat oorgedra word. Soms ‘n goeie en soms nie so goeie boodskap. Maar het u al ooit besef die Evangelie self die BOODSKAP is. Dit is immers wat die woordjie evangelie beteken: Die Blye Boodskap.
Dit is dus nie die woordbedienaar se taak om iets anders te sê as die boodskap van die evangelie nie! Inteendeel, die prediking is slegs die verduideliking en die toeligting van die Evangelie self. Daarom is dit vir ons as gereformeerdes altyd so noodsaaklik en belangrik dat die Here Self aan die Woord is in die erediens.
Hy is aan die Woord deur die hele erediens in al die vorme van die liturgie. By die Votum verklaar ons openlik dat ons hulp alleen in die Naam van die Here is, Hy seën ons, ons sing Sy lof by wyse van Sy Woord… Hy spreek tot ons direk in Sy Eie woorde deur die Wet, en die lees van die Woord. Ons antwoord die Here deur die sing van Sy Woord as antwoord en deur die Woord te bely as die waarheid.
So word die erediens ‘n meelewing in die ontmoeting van die Heilige God in die erkenning Wie Hy is. Ons bring ons “offer” ons gebede, ons gawes, ons hartsbegeertes. Ons kom met die goeie werke van ons geloof om dank te offer op die altaar van Christus se volmaakte offer.
Hoe lieflik is die Blye boodskap, want die boodskap is Christus.
Lourens (vdm)