Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 157 of 343)

In die Naam van die Here Jesus Christus!

Skriflesing: Kol 3:1-17
Teksvers: Kol 3:11b, 17

Kol 3:17
“En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.”

Hierdie is ’n oorkoepelende opdrag wat ons van Jesus Christus ontvang het. Om alles in die Naam van Jesus Christus te doen, vra van ons om ons christenskap uit te leef op elke gebied. Dit beteken dat ons nie net christene genoem word nie, maar dat ons dit in die Naam van die Here Jesus Christus moet leef. Om daarom in die Naam van Jesus te leef beteken eerstens dat ons met Hom identifiseer en dat Hy ons identiteit is. Tweedens beteken sy Naam gesag. Dit is daarom in sy Naam dat ons mag bid tot ons Vader. Derdens om in sy Naam te bid of te lewe is om absoluut aan Hom die eer toe te bring vir wie en wat ons is.

Daarom dank ons God altyd vir ons Here Jesus Christus wat ons Hoof is van die kerk.

Die Bybel: is dit net vir grootmense

Skriflesing: Psalm 119: 9 – 16 
Teksvers: Psalm 119: 9 

Die Bybel… is dit net vir grootmense bedoel of is dit ook vir kinders en jongmense? Want soms kom mens by gedeeltes in die Bybel wat selfs vir die grootmense moeilik is om te verstaan. En as die grootmense soms sukkel om te verstaan wat hulle lees, kan dit mens laat wonder: wat van die kinders? Ons teksvers werp besondere lig hierop as daar gevra word “Hoe kan ‘n jongmens sy lewe skoonhou…?” Die goeie nuus van hierdie woorde is dat die Bybel vir elke kind bedoel is, van alle ouderdomsgroepe. Ons leer ook dat die Bybel ‘n baie kosbare geskenk, en hulpmiddel, uit God se hand is om kinders en jongmense te help om `n mooi en geseënde, vol lewe te lewe. Dis wat ons vanmôre in die prediking gaan hoor 

  • die goeie nuus dat die Bybel vir alle kinders bedoel is; 
  • waarom die Bybel vir alle kinders belangrik is; en 
  • watter rol ouers in kinders se lewe speel as dit kom by die verstaan van die Bybel. 

Christus se opstanding is ook my opstanding

Skriflesing: Efesiërs 2:1-10
Teksvers: Efesiërs 2: 4-6
HK: Sondag 17 vraag en antwoord 45

Hoofpunte: 

1. Christus se opstanding en my regverdigmaking. 

2. Christus se opstanding en my heiligmaking. 

3. Christus se opstanding en my heerlikmaking. 

“Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered!” Efesiërs 2: 4-6 

Nader as ‘n klipgooi ver

Skriflesing: Lukas 22:31-46
Teksvers: Lukas 22:41

Waak en bid dat julle nie in die versoeking kom nie. Hierdie woorde is nie maar net goeie raad nie, dit is wesenlik in ons behoud van geloof. Om te waak en te bid, bedoel om wakker te wees, om gereed te wees, maar ook om tot God te nader. Om op die Here te wag. 

So moes die dissipels saam met Jesus waak en bid, daar by Hom, in die tuin omtrent so ver ‘n mens ‘n klip kan gooi. So naby, en tog so ver. Nader as ‘n klipgooi ver. 

Iets rondom die Gereformeerde Kerk Elandskraal…

`n Pragtige gemeente aan die hange van die Magaliesberg. Die kerkgebou is gebou op die plaas, Elandskraal, na afstigting met Rustenburg (Vandaar die naam ‘Elandskraal’, nie ‘Mooinooi’ nie. Die plattelandse dorpie het eers later rondom die kerk en skool ontwikkel). Aanvanklik was dit `n sterk boerderygemeenskap, maar met die koms van die myne, het die omgewing al meer na `n myngemeenskap omvorm. Toerisme vorm ook `n gedeelte van die omgewing se ekonomie, met die bekende ATKV Buffelspoort, ‘n paar kilometer daarvandaan. 

Tans bestaan die gemeente uit 154 belydende lidmate en 56 dooplidmate. Meeste lidmate is op 1 van die 3 myne werksaam (veral by die myngroep, Sibanye), met nog net ‘n handjie vol boere (lett.) en enkele lidmate wat in groter omliggende stede werksaam is. Wat die gemeenteprofiel betref, is daar ‘n redelik eweredige verspreiding van lidmate tussen die verskillende ouderdomsgroepe. 

Die laaste tien jaar het die gemeenskap baie moeilike tye ervaar: 3 geweldadige stakings in 2012, 2014 en 2016, met allerlei herstrukturerings en afleggings as die direkte gevolg daarvan. Met Sibanye se oorkoop van Lonmin is sommige se posvlakke afwaarts aangepas en salarisse besnoei. Al hierdie verwikkelinge het ‘n geweldige impak op die gemeenskap, en ook op ons gemeente gehad (veral in lidmaattal). Tog was en is die genade van die Here groot deurdat Hy ons in alles en deur alles tot sover gedra het en nog sal dra. Ongelukkig het hierdie krisisse ook sy skadukant met allerlei sosiale probleme soos werkloosheid, drank- en dwelmmisbruik en gebroke huisgesinne. Tans dra die diakonie by tot die salaris van `n maatskaplike werker om die nood te help aanspreek, aangesien meeste mense dit nie kan bekostig om na stede te gaan vir hulp nie. 

Covid het natuurlik ook sy tol geëis. Maar met die genade van Bo kon ons afsluit met ‘n lekker “Bosveld-ete” vir die gemeente en gemeenskap. Ons kon die jaar ook begin met ‘n paar lekker aksies vir die jeug. Die gemeente het ‘n baie hegte en betrokke bejaarde groep wat voor covid, gereeld bymekaar gekom het. Dit bly steeds die gemeente se roeping om ‘n lig en sout te wees wat die hoop en genesing wat Christus bring, aan ons omgewing uit te dra. 

Ietsie oor die predikantsgesin… Ekself, het opgegroei in die Noorde van Pretoria, te Sinoville/Magalieskruin. Vandaar, Potch toe, waar ek gestudeer en my Spreukevrou, Christa, ontmoet het. Sy het in Lichtenburg gematrikuleer en is tans by Sasko-Brits werksaam as rekenmeester. Ons eerste gemeente was Bethal waar ons bedien het van 2004-2008. Daarna, na Komatipoort van 2008-2012 en van 2012 tot op hede, werk ons in Mooinooi. Die Here het ons geseën met 2 seuns, Jano(15) en Handre(13), beide leerlinge aan die Hoërskool Brits. Hulle doen graag atletiek, speel hokkie en krieket. As gesin is ons lief vir die natuur en as `n geleentheid hom voordoen, geniet ons dit om Drakensberge toe te gaan. Dis ons lewe om die Here te dien en dis vir ons lekker om dit saam met ander gelowiges te doen. Baie dankie vir die voorreg om die Woord en sakrament van ons Here aan u te bedien. 

Ds Nelius van Rooy 

« Older posts Newer posts »