Skrywer: admin (Page 156 of 343)
Skriflesing: Handelinge 16:11-40
Ons as kerk is ’n eenheid in Christus. Ons het almal ’n gemeenskaplike geloof in Hom en Sy verlossings dade. Hoe ons tot geloof gekom het, is egter nie iets wat elkeen van ons in gemeen het nie. Wanneer daar ondersoek ingestel word oor hoe elkeen tot bekering gekom het tot die christelike geloof, sal dit interessant wees om te vind dat almal se paadjie nie presies dieselfde geloop het nie. Dit gebeur verskillend en nie vir almal in gelyke mate nie.
In hierdie Skrifgedeelte gaan ons kyk na die bekering van drie persone. Die van ’n vrou, ’n slavin en ’n soldaat.
Skriflesing: Johannes 20:26a
Teksvers: Johannes 20:19‑31; Matteus 14:22‑33; Lukas 7:18-23
“Agt dae later…” Joh 20:26a
Mens kan nogal wonder wat alles in daardie agt dae gebeur het. Ons lees eintlik net van hierdie een saak.
Maar dit moes nogal gegons het in die stad Jerusalem. Die graf was leeg, daaroor was daar geen twyfel nie. Die bewyse was daar, dat Jesus nie gesteel is nie, nie weggedra is nie, en nie net sommer verdwyn het nie. Die dissipels het Hom gesien! Hy het aan hulle in persoon verskyn! Hulle het die gate in sy hande gesien…
Dan kom Thomas in die prentjie; “My Here…!” Op die keper beskou is hierdie belydenis die uitsluitlike doel van die Evangelie van die apostel Johannes. Wat is jou belydenis?
Getalle en nommers in die Bybel kan nogal veelseggend wees. So kan die getal sewe (7) ons almal troos, want dit is die getal van vrede tussen God en mens (3+4). God is drie en die getal van die mens/aarde is vier… Vier seisoene en vier windrigtings, ens. Christus het hierdie ewige vrede met God vir ons bewerk en ons met God versoen. Die getal tien (10) en sy veelvoude (100 en 1000 ens) dui op volledigheid en op grootheid of grootsheid. Maar die getal agt (8) kruip eintlik so bietjie weg in sy beskeidenheid. Die Sentrum van Numerologie heg daaraan die waarde van hoop, nuwe horisonne, en ‘n blink toekoms.
Die eerste verskyning van hierdie getal in die Bybel is by die Sondvloed en die Ark van Noag waarin AGT mense gered en bewaar is. Die hele wêreld of mensdom word in agt mense uit die dood herbore!
Die besnydenis van jong seuns moes op die agste dag plaasvind en nie later nie! Die geestelike besnydenis (Kolossense 2:11,12) was ook die inlywing in die nuwe lewe van hoop in Christus.
Meer ongesproke is die feit dat God in ses dae skep en Hy rus die sewende, sodat Hy die agste dag kan begin om te geniet van die lewe van sy skepping! Hy verlustig Homself in die skoonheid van alles wat Hy gemaak het en Hy alleen onderhou en versorg dit. Abraham het ook agt seuns gehad waaruit hy die groot en geseënde nasies word wat méér is as sterre van die hemel en die sand van die see. (Isak by Sara en ses seuns by Ketura – Gen 25:1,2).
Blykbaar verskyn Jesus ook agt keer na sy opstanding aan mense, waarvan die tweede keer op die agste dag! Op die dag bring hy die ongelowige Thomas tot wedergeboorte en geloof, anders “sou ek/hy nooit glo nie”! Agt dus die syfer van wedergeboorte en nuwe lewe. En as jy nog gedagtes hieroor soek sal jy vind dat die Loofhuttefees sewe dae gevier is en dan volg die agste dag, die Laaste Groot Dag, wat dit ‘n agt-dag fees maak. Dit was die fees van redding en oorwinning in Israel. En dan val Pinkster op die agste dag na sewe weke (7×7) en die volgende dag is 50, Penta (Eng: Pentacost). Die nuwe verbond word waar as Christus by Pinkster sy Gees uitstort op alle vlees tot nuwe lewe en geloof en wedergeboor-te.
Die getal dui dus meermale op iets van ‘n geestelike wedergeboorte en nuwe lewe en daar-by die oorwinning oor die oue en die bose. En die Jode was dan van gewoonte om nie te praat van “volgende week” nie maar van agt dae later… veral as hulle van iets nuuts of heerliks wou vertel (vgl Luk 9:28evv waar vertel word van die verheerliking van Jesus op die berg).
Seker nie toevallig nie, dat die AGSTE dag van die week ook die EERSTE dag van die volgende week is! Die dag van die Here! Die nuwe week. Die nuwe dag. Die opstandings-dag. Die dag van groot dinge. Die dag van nuwe en heerlike lewe. Sondag!
Op hierdie dag sou ek dink ons sou wou kerk toe gaan om die Here te dank en weer opnuut onder sy seën te vergader en met sy groetseën huis toe gaan.
Ds Maarten