Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 139 of 343)

Deur Geloof in Jesus kan ons tot inkeer kom

Skriflesing: Handelinge 3:1-26
Teksvers: Handelinge 3: 19, 20, 26
HK Sondag 33

Bekeer julle want die koninkryk van die hemele het naby
gekom. So het Johannes die Doper, en natuurlik ons Here
Jesus self in die openbaar verkondig.

Verandering, en omdraai. ‘n Wegkeer en ‘n afkeer van wat
sondig is en wat boos is, na dit wat goed is.
Ons staan vanaand stil by Sondag 33 met die oog op geloof
en bekering, en dit wat goeie werke is.

Christus kom oordeel oor lewendes en dooies

Skriflesing: Prediker 2; Lukas 17:20-37
Teksvers: Lukas 17:37

‘n Aasvoël het reuse vlerke om ure lank op die wieke van
die wind en lugstrome te sweef en ook ‘n geweldige skerp
sig om sy prooi of aas van baie vér af raak te sien. Dan
sirkel hulle veral oor die dooie aas om seker te maak van
die dood en skiet dan neer op die aas om dit gulsig te
verslind totdat net die geraamte oorbly. Vir die boere is dit
natuurlik ‘n groot hulpmiddel om te weet dat daar op sy
plaas iets gevrek het. Hy reageer op die aasvoëls wat in
die lug draai!

Die vraag vandag is of ons ook oplet na die naderende
oordeel van God en of ons reageer? Daar is nog tyd! Die
Here Jesus kom. Die aasvoëls draai al. Wees gewaarsku!
Maak seker jy lewe nog, anders sal jy saam met die ander
lyke verslind word!

Tekens van die tyd…

Ons beleef die afgelope paar jaar sulke interessante en te gelyk skrikwekkende uitdagings in die groot toneel van die wêreld dat ‘n mens onwillekeurig wonder of dit nie nou baie, baie naby aan die wederkoms van Jesus gekom het nie. As maar net ‘n paar van die sogenaamde komplot-teorieë waar sou word, loop ons letterlik op die randjie van die skrikwekkende einde van hierdie bedeling en baie naby aan die koms van die Here Jesus met die wolke. Ten minste maak dit ons as kerk meer waaksaam, terwyl die wêreld meer bedwelmd raak in sy eie gemaksones. Die vraag bly steeds wat sê die tekens van die tyd? 

In sy boek ‘The Bible and the Future’ onderskei prof A Hoekema drie soorte tekens: 

Eerstens, tekens wat die werking en triomf van God se genade wys. Daaronder val hoofsaaklik die verkondiging van die evangelie. Die evangelie sal en moet eers aan al die nasies verkondig word – iets wat natuurlik nou baie makliker geword het met die internet en tegnologie wat so vinnig vorder. 

Tweedens, tekens wat wys op die intensivering van die konflik tussen die koninkryk van Christus en die ryk van die Antichris. ’n Konflik wat sal uitloop op die oorwinning van Christus en die onderwerping van alle dinge onder sy voete. Hieronder noem hy vier dinge: vervolging; die groot verdrukking; die afval; die Antichris. (vgl veral 2 Tess 2) 

Die derde soort tekens is dié wat God se oordeel openbaar en in toenemende mate vooruitwys na die finale oordeel by Christus se wederkoms. Daaronder noem Hoekema dinge soos oorloë en gerugte van oorloë; hongersnode en aardbewings en die finale stryd en oorwinning oor God se vyande. 

Die apostel Petrus sê: “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. 

Maar die dag van die Here sal so onverwags soos ‘n dief kom. En op dié dag sal die hemel met ‘n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan. Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom, moet julle des te meer vroom en aan God toegewy lewe. Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor, die dag waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die hemelliggame sal brand en wegsmelt. Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.” (2 Pet 3:9-13) 

Ds Maarten 

« Older posts Newer posts »