Skrywer: admin (Page 138 of 343)
Skriflesing: Deut 6; 1 Kor 8 (Hgl 8:6); Jesaja 40:25-31
Teksvers: Deut 6:4 (1 Kor 8:6)
HK Sondag 34 vr 94,95
Die Eerste Gebod is eintlik in wese ‘n liefdesverklaring en vra vir ‘n liefdesbetuiging as antwoord, ‘n liefdesbetuiging in woorde en dade. In lof en lewe. Daar is immers net één God. En Hy wil alleen gedien en geëer word. Afgodery is immers as jy enigiets anders naas/langs God vereer of dat jy iets anders in sy plek vertrou en aanbid (antw 95).
Die vraag is dan: As daar dan werklik net een God is, waarom moet Hy ons dan self waarsku teen sogenaam-de ander ‘gode’? Erken Hy dalk daarmee dat daar wel ander ‘gode’ of afgode bestaan?
Skriflesing: 1 Petr 1:13-21
Teksvers: 1 Petr 1:16
Om heilig te lewe beteken om anders te wees. Nie anders in die sin van eksentriek of snaaks of anders net om anders te wees nie, maar anders as die wêreldse mens. ’n Christen se lewe moet anders wees as ’n nie-christen se lewe. Dit moet duidelik blyk in jou lewe en in jou lewenswandel. Hoe is dit moontlik om te wandel in die heiligheid van God? Hoe is dit moontlik om heilig te lewe?
- ’n Heilige lewe vereer God.
- ’n Heilige lewe is ’n gehoorsame lewe aan God.
- ’n Heilige lewe is ’n lewe in en deur ons Here Jesus Christus.
Gen 18:16-33
n Goeie man pleit vir slegte mense. Dit klink nie vir ons goed nie, want in die eerste plek was Abraham ook ‘n sondaar. In die tweede plek hoeveel keer het ons nie al gesê en in geselskap gewees waar mense gesê het: “Boontjie kry sy loontjie! Dit is sy verdiende loon.” Ja ons is dikwels hard en ongenaakbaar teenoor die wêreld en veral hulle wat buite die dampkring van die kerk staan. Maar Abraham, was anders gesind. Abraham was vol van liefde vir God en omgee vir sy medemens. Daarom lees ons in Gen 18 dat Abraham ‘n dienaar was.
Abraham het die Here gedien. Gen 18:1-8. Daar het drie mans by hom gekom en heel waarskynlik was een die Here in ‘n menslike gestalte en Abraham het vir hulle ‘n ete voorgesit. Hy word dan ook genoem, die vriend van God. 2 Kron 20:7
Abraham het sy vrou Sara bedien. Gen 18:9-15
Abraham het die verlore wêreld bedien. Gen 18:16-33. God wou Sodom vernietig. Want Sodom was vol van sedeloosheid en perversiteit. Ons sou verwag dat Abraham sou sê, vergeld hulle na hulle sondige lewens. Soos Jona wat nie na Nineve wou gaan om die evangelie te bring nie, maar Nineve vernietig wou sien. Hoeveel keer dink ons nie ook vandag dat die goddelose wêreld, die sondige wêreld, maar vernietig kan word nie. Ons dink hulle verdien dit mos, hulle het gesoek daarvoor, dit is hulle eie toedoen en skuld. Dink ons nie ook vandag maar maklik, ag verdelg tog maar die goddelose nasies nie. Maar wat het Abraham gedoen, Hy pleit vir slegte mense! Hy pleit vir sondaars! Abraham was nie haatdraend nie. ‘n Goeie man pleit vir slegte mense!
Abraham wou graag sien dat alle mense tot geloof sou kom en gered sou word! Abraham pleit in nederigheid voor God, dat God Sodom genadig sal wees. Hy neul nie by God nie, maar in nederigheid vra hy vir God, al sou daar net tien gelowiges in die stad wees of God nie die stad sal begenadig nie.
Geliefdes, ook ons moes eintlik verdelg gewees het vanweë ons sondes, maar God het sy Seun Jesus Christus gestuur om vir ons te betaal en nou soos Abraham van ouds, is Hy ook ons pleitbesorger by God. Jesus pleit vir ons op grond van sy kruisdood dat God ons sal begenadig. Dit is daarom ook net vanweë Jesus Christus dat ons as sondaars die ewige lewe ontvang. Kom ons bid ook vir die sondaars in die wêreld. Kom ons bid vir God se genade oor almal. Kom ons bid dat God ons as instrumente sal gebruik in sy diens om die evangelie uit te dra.
Ds Gerrit