Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 137 of 343)

Voorbereiding met die oog op Nagmaalsviering

Calvyn het in Straatsburg waar hy predikant was, verwag dat alle voornemende Nagmaalsgangers hulleself gedurende die weke voor die Nagmaal by hom en die ouderlinge sal aanmeld met die oog op die behoorlike voorbereiding vir die gebruik van die Nagmaal. Dit is vir ons ’n bewys van hoe belangrik en hoe ernstig die viering van die Nagmaal is. 

In artikel 62 van die Kerkorde word daar beskryf hoe die Nagmaal gevier moet word. Die vraag is: Het Nagmaalsviering nie by ons maar afgewater geraak nie? As ek hier is, is dit goed, en as ek nie hier is nie is dit ook maar goed so. Baie mense vra verbaas: “O is daar Nagmaalsviering vandag?” 

Hoe kan dit dan wees dat jy jouself ernstig verootmoedig voor die Here as jy nie eers weet daar is Nagmaal nie? Daarom moet die ouderlinge toesig hou oor die gemeente deur huisbesoek en navrae na elke lidmaat se leer en lewe. 

Die ouderlinge en die predikante moet toesien dat die Nagmaal tot eer van God gehou word. Alhoewel dit gewone brood en wyn is wat by die Nagmaal bedien word, dui dit op ons Here Jesus Christus se eie liggaam en bloed wat Hy aan die kruis gestort het vir ons sondes. Jesus se versoeningsdood was nie maar ’n ligtelike sakie nie, dit het helse pyn en smart en bloedvergieting gevra, sodat ons die ewige lewe kan verkry. 

Daarom moet elkeen van ons onsself ernstig gaan voorberei met die oog op die Nagmaal. Gaan verootmoedig jou voor die Here. Bely jou diepe afhanklik-heid van God. Bely jou sondes voor God. Vra vergiffenis daarvoor. Nagmaal kom nie maklik en goedkoop nie. Bel jou ouderling of predikant as daar sake is wat jy wil bespreek en uitklaar voor die Nagmaalsviering. Dan kan ons as gemeente volgende week die heilige Nagmaal vier met erns en opregtheid, met diepe ootmoed en verootmoediging voor God. 

Ds. Gerrit 

God se Naam is Heilig!

Skriflesing: Jes 42:1-9 
Teksvers: Jes 42:8 
HK Sondag 36 

Hierdie gedeelte is een van die sogenaamde vier Knegliedere in die boek Jesaja nl. Jes 42:1-4; 49:1-6; 50:4-9 en 52:13-53:12. Op wie hierdie Knegliedere besonderlik wys is nie sommer net klinkklaar en duidelik nie. 

Tog word hulle dikwels aangehaal in die Nuwe Testament waar dit op Jesus Christus dui. Maar wat wel baie belangrik is, is dat God self hier aan die woord is en openbaar wie Hy is en hoe sy Naam gebruik moet word, vers 6,8. God se Naam is heilig, dit beteken dit openbaar God self aan ons. Dit is ‘n Naam wat bo elke ander naam verhewe is. God selfs sê dan in ons teksverse dat die eer wat Hom toekom gee Hy aan niemand anders nie, ook nie aan gesnede beelde nie. Maar in en deur God se naam word daar ook ‘n groot verantwoordelikheid op elkeen wat God ken en sy Naam aanroep geplaas. Dit beteken dat ons sy Naam reg moet gebruik en nie misbruik nie. 

Word wakker, en Christus sal oor jou skyn

Skriflesing: Efesiërs 5:1-21; Johannes 1:1-5 
Teksvers: Efesiërs 5:8-11 

Lig en duisternis staan soos twee ewige teenpole onversoenlik. God is lig en daar is geen duisternis in Hom nie. 

Die mense is egter duisternis. Maar die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kan dit nie oorweldig nie. As jy dan in die lig is, wandel soos ‘n kind van die lig. Word wakker, en Christus sal oor jou skyn! 

Ons sluit vanmôre aan by ons jaartema oor die vrug van die Gees wat bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid. 

“Julle moet eerder sê: Deo Volente…”

Dit is opvallend hoe ons as mense so gou kan vergeet wat die belangrike lesse is wat ons al voorheen in die lewe geleer het. Hoeveel keer het u nie al self gedink: “Ek het mos geweet ek moenie dit of dat doen nie.” 

Ons het in die onlangse verlede geleer dat ons nie alle dinge in die wêreld sommer so as vanselfsprekend moet aanvaar nie. Ons het geleer dat al ons baie planne vir die toekoms in ‘n oomblik kan verander. Ons het geleer hoe belangrik ons familie en ons gemeenskap van geloof is. Ons het geleer hoe noodsaaklik dit is om liggaam, siel en gees gesond te hou. 

Al hierdie lewenslesse word egter soms so gou vergete as ons nie in die oog hou om God se wil te soek nie. Al die ywer en al die inspanning van ons kragte en geloofsambisie kan so gou verydel word as ons nie D.V. as fondament het nie. 

In Jakobus 4 skryf die apostel aan lidmate in die verstrooiing oor hulle sorgelose ambisie vir die toekoms wat bloot op eie belange berus. As ons nie eers weet wat more gaan gebeur nie, hoe sien ons die lewe vooruit? Dit is maar soos ‘n miswolkie! 

“Julle moet eerder sê: As die Here wil en ons nog leef, sal ons dit of dat doen.” Jakobus 4:15 

So moet dit ook wees met ons. Nie net om te sê: Deo Volente, as die Here wil nie, maar veral ook om te soek na die wil van die Here. 

In hierdie komende weke sal ons as gemeente die Nagmaal vier en familie naweek hou. Daar sal Bybelstudies wees, en Bybelskool, daar is vergaderings en geestelike opbou. Maar dit sal alles slegs geskied D.V. 

Mag die Here u toekomsplanne in gedagte hou. Mag u toekomsplanne gerig wees op die soeke na die wil van God. En mag u toekomsplanne D.V. vervul word. 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »