Soos ek hier sit en die herfsluggie om my dartel kry ek koue rillings as ek dink aan April vier jaar gelede toe ons gehok was om tuis te bly weens die Covid-19 Pandemie van 2020. Veral as die Strelitzias begin blom dan onthou ek die droewige tyd van afsondering van geslote kerke en bevreesde mense.
Hier sit ons nou vier jaar later en ons het al weer byna daarvan vergeet. Destyds het ons geglo, en selfs gesê dat die inperkings van die grendeltyd ons weer honger sou maak vir die intieme koinonia van gemeentelike samekomste. As mens iets mis waardeer jy dit mos meer.
Die vraag is nou of dit ooit gebeur het en of ons werklik die gemis en verlies aan koinonia in ‘n positief omgekeer het. Hier hoef ons nie groot beoordeling toe te pas en tendense te probeer evalueer nie. Die kerk van Jesus gaan immers maar deur goeie en slegte seisoene. Dit sal eerder vanpas wees om jouself te beoordeel of jy nog die gemis van destyds onthou en gevolglik die geleentheid wat daar nou is met alle mag aangryp en benut.
Koinonia (gemeenskap van die gelowiges) is immers nie net iets waarby jy alleen kan baat nie, maar waarby ander baat as ek en jy dit nie afskeep nie. Dink maar aan laas naweek se heerlike koek en tee, gemeente-ete, die mooi eredienste en kategese.
Maak gebruik van die koinonia-geleenthede en leef die nuwe lewe in Christus.
“Laat ons dus die onderlinge byeenkomste nie versuim, soos sommige die gewoonte het nie, maar mekaar eerder aanmoedig… en dit des te meer soos ons die oordeelsdag sien naderkom” (Heb10:25).
Ds Maarten