Ek kan nogal dink dat ongelowiges of agnostiese mense nie so baie van die Bybel hou nie (dis nou as mens die Bybel in geheel lees). Daar is gedeeltes soos Jer 22:19 en 36:30 wat vertel van die uiteinde van koning Jojakim. Hy word nie eens begrawe nie.
Wanneer iemand destyds gesterf het is hy of sy gou begrawe, meesal nog dieselfde dag. Die weer kan nogal baie warm word in die Midde-Ooste. Niemand is egter op ‘n Sabbat of Feesdag begrawe nie, maar dan in reukolie en linne toegedraai en die vol-gende dag begrawe. Die oë toegedruk, liggaam is gewas en op ‘n draagbaar geplaas (nie in ‘n kis nie), en so in die graf gelê.
Die liggaam is nie gebalsem nie. Ook nooit verbrand nie, behalwe as dit ‘n misdadiger was of iemand wat ‘n vreeslike sonde gepleeg het.
Die grootste skande was om onbegrawe gelaat te word. En dit is presies wat met hierdie koning Jojakim gebeur. Sy sonde was so groot en sy verwerping van die profetiese woorde (die boekrol wat hy openlik verskeur en in die vuur verbrand) so erg, dat God hom verwerp. Hy word soos ‘n domme dier behandel. Begrawe soos ‘n donkie – maw weggegooi, sonder begrafnis, in die veld.
Hierdie gedeelte wys ons weereens dat God nie met Hom laat speel nie, en dat sy profete en hulle profetiese woorde (vandag die Bybel) nie geminag mag word nie. Wie werklik nie wil glo nie en sy Woord verwerp word voor God nie eintlik veel beter beskou en behandel as ‘n domme dier wat nie eens ‘n siel het nie!
Die wonder is egter dat God ons anders as diere maak. Hy gee ons ‘n siel en gees wat diere nie het of ooit gehad het nie (die werklike antwoord op die evolusioniste). Hy sluit ‘n verbond met ons en ter wille van sy verbond gee Hy sy Seun. Jesus betaal vir die ergste van ons sondes en was ons skoon en vry. Hy word begrawe en staan op om selfs die graf te oorwin.
Vir so ‘n mens het God plek en tyd, selfs by jou begrafnis!
Daarom hanteer ons ook die liggame van ons afgestorwe medegelowiges met eer. So word God ook by die begraafplaas verheerlik.
Ds Maarten