Daar was eens op ‘n tyd waardigheid in die lewe van Jan en San Alleman om geloofwaardig te leef en op te tree. Daar was geloof-waardigheid om verantwoordelikheid vir jou optrede te neem. Daar was geloof-waardigheid om jou eie posisie van voorreg prys te gee indien jy dit sou misbruik of in eie belang sou optree. Daar was eens op ‘n tyd die waardigheid van geloof om sonder filters of voorgee jou medemens van aangesig tot aangesig te aanskou en te vrede te wees om met hulle saam te leef, ongeag hulle dunk van jou. 

Vandag word bykans alles gemeet aan uiterlike vertoon en hoe mense reageer. Ons leef in ‘n wêreld wat deur ons oë bepaal word as die vensters van ons siel. As iets nie vir ons “lekker lyk” nie, dan vermy ons dit. Aan die ander kant skep dit ook ‘n abnormale oorgewig aan begeertes en wense wat nooit ooit in ons harte sou opkom as ons dit nie sien nie… 

Ons het hiper-sensiteif geword vir ander se emosies en reaksies, soveel so dat ons deur afgerigte ongehoorsaamheid onsself laat ontgeld om nie te wees wie ons is nie. Jou identiteit is dit wat ander nie sal aanstoot gee nie. En so ontwikkel ons ‘n skisofrene werklikheid agter al die maskers en filters van ons eie hartswense 

Voor die Almagtige staan ons egter geen kans om weg te kruip of voor te gee nie. Die Heilige Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van ons hart. Die Here ken elke gedagte wat ons koester en elke wens wat ons beny. Die Here ontmasker ons, om voor Hom te staan, sonder gebrek of rimpeling of iets dergeliks. 

Mag die Here ons leer om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom. 

Lourens (vdm)