Psalm 51:18,19 (NAV)
(18) “‘n Offer vra U nie, anders sou ek dit bring; ‘n brandoffer wil U nie hê nie. (19) Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging: U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God.”
Wat beteken verootmoediging? Verootmoediging beteken om voor God neer te buig. Dit beteken om jou afhanklikheid van God te erken. Dit beteken om te erken dat jy is diep afhanklik van God se genade. Daarom dat Jesus ook aan ons leer in die bergpredikasie, Mat 5:3: “Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel..” Maar ook ‘n baie belangrike saak in verootmoediging is om te erken dat jy sondig is en sonde doen.
Hoekom ‘n algemene dag van verootmoediging? Ons land en die hele wêreld is in ‘n diepe nood vanweë die uitwerking van die Coronavirus. Baie van ons lidmate het die virus opgedoen en was gevolglik baie siek. As ons rondom ons kyk is daar steeds baie nood op maatskaplike, ekonomiese en kulturele gebied. Ons kinders lei onder die inperkings. Die kerk lei daaronder. Ons kan nog steeds nie in volle getalle die eredienste hou nie. Die katkisasie van die laerskoolkinders kon nog nie in aanvang neem nie. Dit is vir ons almal ‘n lyding en opoffering.
DAAROM verootmoedig ons onsself voor die Here. Ons as gemeente saam en elke gelowige individueel moet daarom voor God in nederigheid buig om ons volkome afhanklikheid van God se genade te bely. Sonder God se genade en hulp en vergifnis kan ons nie lewe nie. Ons smag daarna om weer as gemeente voluit met al ons aanbidding en dienswerk God te dien. Ons smag daarna om weer as gemeente in lofsange uit te breek tot eer van God. Ons smag daarna om met harte vol ootmoed en berou voor God te verskyn. En dit is wat ons as gemeente en kerkverband ook vandag doen. Ons verootmoedig ons voor God. Ons bely ons afhanklikheid. Ons smeek vir genade. Ons wil steeds en al meer en meer in ‘n lewende verhouding met God staan. Aan God al die eer en die lof en die aanbidding wat Hom alleen toekom.
ds. Gerrit Kruger