Pred 9:1-12
Ons kan so maklik dink dat EK ‘n geweldig impak by die werk, skool in my omgewing maak. Die eie-ek is tog so dikwels ons norm. Daarom meet ons andere aan onsself, ek is die vinnigste, slimste, sterkste, oulikste, mooiste, rykste ens.
Maar wat het ek of besit ek wat ek self verdien het? Is alles nie genade van God nie? Is alles wat ek het nie aan my gegee om te dien nie. Die Skrif is duidelik dat hy wat die belangrikste wil wees, moet die minste wees. Ons Here Jesus Christus, die Koning van die konings, het op ‘n donkie gery. Op aarde het Hy nie sondaars voor Hom weggevee nie, maar vir hulle gebid, hulle bemoedig, vertroos en die evangelie verkondig. Trouens Hy het vir ons as sondaars Sy lewe kom aflê.
Die dissipels het gestry wie van hulle is die belangrikste in die koninkryk, selfs gestry oor wie langs Jesus sal sit. Dieselfde geld natuurlik vir intellektuele kapasiteit. Dit is nie noodwendig die intellektueles wat die beste daaraan toe is of wat die kitaar moet slaan nie. Dit is diegene wat biddend voor God staan, diep afhanklik van Hom.
Dit beteken nie dat jy jou eie talente moet minag nie, maar bloot dat jy dit na waarde skat soos wat God dit aan jou gegee het en dit gebruik tot eer van God en tot voordeel van jou naaste. Ons lees in Prediker 9 dat die goeie en die slegte met alle mense gebeur. Nie een is gevrywaar van die swaarkry op aarde nie. God gee reën en droogte, rykdom en armoede.
Daarom moet daar geen selfvoldaanheid wees nie, maar dankbaarheid. Daar moet dankbaarheid in ons harte wees dat ons kinders van God is. Dankbaarheid dat Hy ons gekoop het met Christus se kosbare liggaam en bloed. Dankbaarheid dat ons meer as oorwinnaars, deur Jesus Christus is. Doen alles dus met toewyding en werk hard maar rustig. God is in beheer.
ds Gerrit