Psalm 8:4,5

“As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?”

In hierdie lofpsalm word die Skepper, God, in die skepping in digterlike taal beskryf. Sy grootheid, sy almag, sy heerlikheid en sy wonderlike Naam word beskryf. Dawid wat sekerlik baie nagte in die natuur onder die sterre deurgebring het besing hoe glansryk en onbeskryflik groot is die hemelruim met die maan en die sterre daarin. Hy voel homself klein voor God en die skepping van God.

Dit vervul hom met soveel blydskap en vreugde dat hy ook diep onder die besef kom van sy eie nietigheid, sy kleinheid as mens voor hierdie pragtige skepping. Hierdie Psalm is so belangrik dat Jesus Christus dit self aanhaal met die reiniging van die tempel in Mat 21:15,16. Die mens is so belangrik vir God gewees dat Hy sy eie Seun Jesus Christus ‘n mens laat word het sodat Hy sy kinders kon red en verlos met sy dood aan die kruis. Heb 2. God kry al die eer vir die skepping, die maan en die sterre en ook vir die mens wat God as heerser geskape het.

Saterdagaand, 8 September gaan ons as gemeente onder die sterre kuier. Dit gaan daaroor dat ons as gemeente aan God die eer toebring onder die sterre met ‘n heerlike kuier, Koinonia, gemeenskap van die heiliges. Ons gaan ‘n paar Psalms sing, die groot-heid van die skepping beleef en lekker saam eet aan potjiekos en lekker kuier.

Mag ons die grootheid van God altyd raaksien in die skepping.

Mag ons God altyd eer en verheerlik.

Mag ons saam met die Psalmdigter altyd God se grootheid besing met die woorde: Ps 8:2,10

“Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!”

Ds Gerrit