Die geskiedenis van Eli en Samuel se lewens het my weer diep geraak. Dit is asof die geskiedenis weer en weer herhaal in ons eie tyd. Die boek Samuel begin by ‘n huisgesin wat nie goed funksioneer nie. ‘n Man met twee vrouens wat spot en twis. Dit was egter net ‘n spieëlbeeld van die chaos by die tempel, waar Eli nie ‘n goeie hoëpriester en leier is nie. Hy is ‘n rigter sonder rigting. Sy seuns maak die erediens (offers) afskuwelik. 

Daar is egter ‘n wêreld se verskil tussen Hanna en Eli. Hanna is ‘n godvresende vrou wat die Here dien met ‘n volkome hart, wat haar kind wy aan die diens van die Here. Sy sing ‘n lofsang wat deur die eeue eggo van God se trou en liefde. Maar Eli, die priester, wie se seuns ook priesters is, se harte is ver van die Here af. Hulle bring oneer in die kerk. 

As die Here sy oordeel aankondig oor die huis van Eli vanweë die sonde van die volk, is daar geen berou of bekering nie, net ‘n halfhartige mismoedigheid. Dit is egter die optrede wat volg wat ‘n mens laat wonder oor hoe aktueel hierdie geskiedenis is, wanneer die verbondsark na die slagveld geneem word. 

In plaas daarvan dat die volk na die God van die ark gaan, bring hulle die ark van God na die wêreld. God se ark is die gelukbringer wat hulle moet help in die oorlog. Maar is dit nie hoe ons ook baie maal oor God dink nie, met ons kruise teen die muur en hangertjies om die nek? God word na die wêreld gebring soos ‘n gelukbringer wat jou huwelik en jou besigheid sal laat floreer. 

Vir baie Christene is God eintlik ‘n afgod, ‘n “lucky charm” wat jou geluk moet bring. Ware geluk is nie in wêreldse goed nie. Dit is wanneer ons diep neerbuig in nederigheid en berou, en ons sondes bely, dat God se eer herstel word in ons lewe. Dan word die Here self die Een wat vreugde bring. Jesus Christus is die Een wat ware geluk bring vir elke sondaar wat glo. 

Daarin is ook die behoud van die kerk, in gehoorsaamheid en liefde vir God en sy Woord. Nie dat ons God na ons bring nie, maar dat hy self gekom het, en ons nou na Hom toe neem. 

Daarom sal die HERE self aan julle ‘n teken gee: “Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immánuel noem.” Jesaja 7:14 

Lourens (vdm)